Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoolhoof Hein Knoetze groet Driehoek
Hein Knoetze omhels Donovan Olckers by die Derde Kruis-gemeente waar sy seun Roydon se gedenkdiens gehou is. Foto: Felix Dlangamandla

Die Here het hom 36 jaar in die onderwys voorberei om die loopbrugtragedie by die Hoërskool Driehoek te hanteer, het Hein Knoetze op sy laaste dag as hoof van dié skool in Vanderbijlpark gesê.

Knoetze (60) het Vrydag sy kantoor ontruim vir ’n nuwe hoofstuk – sy aftreejare. Die skool het vandeesweek amptelik van hom afskeid geneem.

Hy was hoof toe ’n loopbrug op 1 Februarie by die skool ineengestort het. Vier leerlinge is dood en 22 leerlinge is ernstig beseer.

“Ek sê gister vir iemand: As ek terugkyk, sien ek hoe die Here my verskillende goed by verskillende mense en skole geleer het. Ek het al daardie vaardighede nóú nodig gehad,” sê Knoetze, ’n diep gelowige.

Sy eerste voorbereidingsles het hy in gr. 1 geleer.

“Ek onthou dit soos gister. Ons het inkleurboeke gehad met perde en koetse. Ons het ons inkleurboeke onder mekaar uitgeruil. Toe (my maat) my inkleurboek vir my teruggee, het hy die perde geel en pers ingekleur!”

Hein Knoetze en sy vrou, Ina.

Geel en pers is Driehoek se amptelike kleure.

Knoetze het in 1983 by die Hoërskool Piet Retief begin skoolhou. Hy was ’n biologieonderwyser. Ná vyf en ’n half jaar het hy as departementshoof van natuurwetenskappe by die Hoërskool Baberton aangesluit, waar hy die volgende vyf en ’n half jaar gewerk het.

In 1994 het sy paaie die eerste keer met dié van Driehoek gekruis toe hy as onderhoof aangestel is.

Hy is in 2000 as hoof van die Hoërskool Overvaal in Vereeniging aangestel, en het in 2009 as hoof na die Hoërskool Driehoek teruggekeer.

“Terwyl ek by Piet Retief was, het die destydse hoof, Jack Botes, my iets baie waardevols geleer. Hy het gesê: ‘Dis maklik om iemand te kry om saam met jou te kla. Dis egter veel moeiliker om iemand te kry om saam met jou lofliedere te sing.’ Dit het my geleer om altyd positief te bly. Ek het gelukkig in ’n huis grootgeword waar die omgewing positief was.”

Chris Mulder, oudhoof van die Hoërskool Barberton, het hom geleer om te organiseer – ook ’n vaardigheid wat hom gehelp het om orde te skep in die tragedie vanjaar.

“Deur my hele lewe het my geloof gegroei en het ek geleer ek is hier om te dien.”

Deur my hele lewe het my geloof gegroei en het ek geleer ek is hier om te dien.

Hy en sy vrou, Ina, verhuis oor ’n week na hul aftreehuis in Tergniet, by Mosselbaai.

“Ek sal myself weer aan my vrou moet voorstel,” skerts hy. “Ek het haar nou vir ’n hele ruk nie regtig gesien nie!”

Hoewel hy nou hoop om ’n bietjie meer te lees, te oefen en aandag te gee aan sy bonsai-bome, is daar nog nie kans vir stilsit nie.

“Die Here gebruik my nou op ’n ander manier. Ek is deur die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein gevra om as spreker by ’n geleentheid op te tree. Daar is ander sulke geleenthede ook. Ek is nie ’n ou wat van die kollig hou nie, maar soos my vrou sê: Ek het ’n storie om te vertel.”

Knoetze, ’n oupa van vier, sien uit om, noudat hy weer “kan asemhaal”, sy kleinkinders meer te sien.

“My dogter, Liesl Labuschagne, skoonseun, Lappies, en my kleinseuns Johan en Ludwig woon in Bloemfontein en my seun, Blignaut, skoondogter, Michelle, en kleinkinders Mia en Heinrich woon in Kaapstad.”

Hy sal Driehoek vir ’n laaste keer ná die skoolvakansie besoek om te sien of die bouery al afgehandel is en almal terug in die klasse is. ArcelorMittal finansier die herbou van die loopbrug.

As die skoolvakansie verby is, sal die adjunkhoof, Ricardo Erasmus, as skoolhoof waarneem. Die pos vir ’n hoof word geadverteer.

Lees Netwerk24 se profielonderhoud kort ná die tragedie met Knoetze.  

Meer oor:  Hein Knoetze  |  Driehoek  |  Skoolhoof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.