Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoolhoof oor ‘aanranding’ verkla

’n Leerling aan ’n skool in Roodepoort, Gauteng, het by die polisie ’n klag van aanranding teen sy skoolhoof ingedien omdat hy glo rondgepluk is.

Die 16-jarige seun het ook ’n klag aan die departement van onderwys gerig.

Die leerling wat ’n klag van aanranding teen sy skoolhoof by die polisie aanhangig gemaak het. Foto: Christiaan du Plessis

Die skoolhoof het bevestig die polisie was intussen by sy kantoor om hom te ondervra.

Die gr.10-leerling en sy ouers beweer die hoof het hom verlede Vrydag in die voorportaal van die skool rondgepluk, maar die hoof sê hy het hom slegs aan sy skooltas gegryp.

“Die leerling het ongelooflik ongeskik gepraat en tekere gegaan. Ek het hom net aan sy tas gegryp, want ek was nog besig om met hom te praat toe hy wou wegloop,” het die skoolhoof Vrydag aan Netwerk24 gesê.

“Dat die kind ’n klag gaan indien het is verregaande. Waarheen is ons op pad?” het die skoolhoof gevra.

’n Onderwyser het die seun na die skoolhoof se kantoor geneem omdat die leerling in skooltyd buite die klas op sy selfoon besig was. Die seun hou vol sy klasonderwyser het hom toestemming gegee.

“Die hoof het my van agter aan my blazer gegryp en vorentoe en agtertoe geruk. Ek was nie ongeskik met hom nie. Ek het net my kant van die saak gestel.”

Die seun en sy pa is Maandag skool toe om met die skoolhoof te praat.

In ’n klankopname van dié ontmoeting sê die skoolhoof onder meer die leerling is “ongeskik” en hy “soek nie sulke kinders” in sy skool nie.

Die hoof wys daarna daarop dat die leerling ’n finale waarskuwing het omdat die skool hom onlangs positief getoets het vir die gebruik van dagga.

In ’n stadium trap die skoolhoof die seun oor sy voorkoms uit omdat sy das onder meer “te kort” is.

“Die das moet hang tot by jou belt ... kyk net hoe lyk jy. Ek laat dit nie toe in my skool nie. As jy dit wil doen, vat jou goed en gaan,” sê die hoof.

Die pa vererg hom later en sê: “En nog ’n ding is meneer, wie gee jou die reg om my kind te ruk en pluk en hom te stamp en stoot soos jy wil?”

Daarna gee die pa ’n harde klap op die lessenaar, waarna die skoolhoof sê: “Vat jou goed en gaan, en vat jou kind asseblief. Jy is nie welkom in hierdie skool nie. Gee jou boeke in asseblief,” sê die hoof.

Die seun het intussen nog nie weer na die skool teruggekeer nie.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die skoolhoof het nie noodwendig verkeerd opgetree deur die leerling huis toe te stuur nie.

“Die leerling kry dan kans om te kalmeer en te dink. Die volgende dag kan sy ouers ’n afspraak met die skoolhoof reël om te praat oor wat gebeur het,” sê Mhlanga

Volgens die skoolhoof het die pa van die leerling eintlik die situasie vererger.

“Die leerling is nie amptelik geskors nie. Hy en sy ouers is welkom om met my en die beheerliggaam te kom praat,” sê die skoolhoof.

Die seun se ma het Netwerk24 laat weet die skoolhoof het hulle gebel. Hulle gaan Maandag die voorsitter van die beheerliggaam by die skool sien.

Meer oor:  Roodepoort  |  Gauteng  |  Skoolhoof  |  Misdaad  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.