Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoolhoof verjaag glo studente-onnie oor haarstyl

“My skool is nie die Boswell Wilkie-sirkus nie.”

Dit was Maandag die reaksie van André Muller, hoof van die Laerskool Vredenburg aan die Weskus, nadat hy genader is oor beweringe dat hy ’n jong onderwysstudent van die Universiteit Stellenbosch by die skool weggejaag het.

Dit was glo omdat die student, William Sezoe, se hare bo blond gekleur en onder swart is.

Sezoe het Maandag kort ná 09:00 sy ervaring op Facebook gedeel.

Hy skryf dat hy die oggend by die skool opgedaag het vir twee weke verpligte waarneming.

Volgens Sezoe is hy goed ontvang deur die adjunkhoof, wat in beheer van studente is.

William Sezoe, ’n onderwysstudent van die Universiteit Stellenbosch beweer hy is deur die hoof van die Laerskool Vredenburg aan die Weskus weggejaag oor sy haarstyl. Foto: Facebook

Dit was egter nie lank nie of ’n medestudent wat ook vir waarneming by die skool was, kom verby en sê die skoolhoof het hom aangesê om sy haarjel te gaan uitwas.

“Ek’s toe heel geskok, want wat het dit met hom te doen?”

Dis toe dat Muller voor hom kom staan en sê: “Wat soek jy hier?”

Toe Sezoe antwoord hy is daar vir waarneming, was die reaksie volgens hom: “Wat? Hier? Met daai hare, nog nooit nie meneer. Jy’s nie welkom hier nie. Gaan, daar’s die deur. Gaan maak daai hare reg dan praat ons weer. Jy stel nie ’n voorbeeld nie. Tot siens.”

Sezoe het gewag dat die adjunkhoof weer te voorskyn kom sodat hy haar kon inlig oor wat gebeur het, maar sy het volgens hom nie weer te voorskyn gekom nie.

Die onderwyseres in wie se klas hy moes waarneming doen, het hom kom haal, maar die hoof het glo agter hulle aangeskreeu dat Sezoe nie welkom is nie.

“Ek was gebroke, getraumatiseerd. Hoe kan enige mens vandag nog op grond van hoe iemand lyk teen hulle diskrimineer? Wat het my hare te doen met dit wat ek by die skool moet kom doen?”

Muller het Maandag by navraag gesê dat Sezoe met sy hare “nie ’n goeie rolmodel vir sy leerlinge is nie”.

“Sy hare is spierwit bo, onder swart, wat dink hy vertel dit vir die leerlinge?”

Hy sê dat sy skool ’n personeelgedragskode het en dat onderwyseresse al aangespreek is as hy dink hul kleredrag is te uitdagend. Volgens Muller praat sy adjunkhoof dan met die onderwyseresse.

Hy het gesê dat hy self ’n rolmodel vir die seuns is en dat hy dit ook van elke ander onderwyser verwag. “Ek loop elke dag met ’n das. Daar is ander hoofde wat nie das dra nie, maar ek verwag dit van my onderwysers.”

Volgens Muller word ongeskeerde mansonderwysers ook nie toegelaat nie. “Ek laat nie lui onderwysers hier toe nie. Of jy het ’n baard, of jy skeer.

“Dit is nie die Boswell Wilkie-sirkus nie.”

Muller het gesê Sezoe kan na die skool terugkeer mits sy hare “ordentlik” is.

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het Dinsdag gesê Sezoe en Muller het verskillende weergawes van die gebeure.

“Daarom ondersoek die departement die voorval,” sê sy.

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, het Dinsdag gesê die universiteit en spesifiek die Fakulteit Opvoedkunde plaas ’n baie hoë premie daarop om ’n positiewe verhouding met skole te verseker. Die Fakulteit het dus met besorgdheid kennis geneem van ’n insident wat Sezoe, ’n tweedejaarstudent wat sy observasie by ’n laerskool doen, as traumaties ervaar het.

Die Fakulteit het reeds met Sezoe kontak gemaak en is van voorneme om ook met die skool te skakel om meer inligting in te win en die saak op ’n vooruitskouende manier op te los. Sezoe is ook bewus gemaak van beradingsdienste wat deur die Universiteit aangebied word.

Meer oor:  Laerskool Vredenburg  |  André Muller  |  Weskus  |  Skool  |  Studente  |  Onderwys  |  Hare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.