Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skooljaar dalk nié tot 2021 verleng

Die akademiese jaar sal moontlik nié tot 2021 verleng word nie, maar op 15 Desember vir gr. R tot gr. 11-leerlinge eindig.

Dit blyk uit ’n voorlegging Dinsdag aan die komitee van hoofde van onderwysdepartemente (Hedcom).

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa op 23 Julie aangekondig het dat skole tot 24 Augustus gaan sluit, met die uitsondering van matrieks en gr. 7-leerlinge wat vroeër terugkeer. Ramaphosa het gesê die akademiese jaar gaan tot 2021 verleng word.

Cyril Ramaphosa
Cyril Ramaphosa

Volgens die voorlegging, wat uitgelek is, sal die aangepaste skoolkalender, wat tans 173 skooldae het, onttrek en gewysig word. Die voorgestelde gewysigde kalender sal dan 156 skooldae vir leerlinge en 163 dae vir onderwysers hê.

’n Vakansie word van 26 tot 30 Oktober voorgestel om die derde en vierde kwartaal te skei.

Volgens die voorlegging moet onderrig vir gr. R tot gr. 11 op 15 Desember afgehandel word en die nuwe skooljaar vir leerlinge op 20 Januarie 2021 begin.

Daar word ook voorgestel dat eksamens vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) op 5 November begin en op 15 Desember eindig.

Die nasienwerk vir van dié vraestelle sal moontlik dan nog tot 22 Januarie duur, wat beteken baie onderwysers kan nog hiermee besig wees wanneer skole heropen. Die opsie word ook genoem om dan die begin van die volgende akademiese jaar na 25 Januarie te skuif.

Dié voorstelle is Vrydag met die subkomitee vir die skoolkalender bespreek, wat uit verteenwoordigers van die onderwysvakbonde, beheerliggaamorganisasies en provinsiale onderwysdepartemente bestaan.

’n Finale besluit is nog nie geneem nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê daar kan nie ’n besluit geneem word indien nuwe regulasies vir skole nog nie gepubliseer is nie.

“Dit moet uiteensit wanneer watter grade begin na gelang van die president se aankondiging. Op die oomblik staan die bestaande regulasies en kalender nog.”

Paul Colditz, voorsitter van Fedsas. Foto: NELIUS RADEMAN

Colditz sê daar is aan hulle gesê dat, behalwe vir die nasien van die matriekvraestelle, niks na volgende jaar oorgedra moet word nie.

“Die bedoeling is dat die afgeskaalde kurrikulum steeds hierdie jaar voltooi moet word. Baie skole wat afgewyk het van die skoolkalender en aanlyn onderrig gebruik, is dalk voor met die kurrikulum en in sekere gevalle is selfs die oorspronklike kurrikulum gedek.

“Vir die skole wat nog glad nie kon open en met onderrig voortgaan nie, gaan dit ’n uitdaging wees om selfs die afgeskaalde kurrikulum teen 15 Desember te voltooi.”

Volgens hom sal die nuwe skoolkalender en regulasies moontlik voor die einde van volgende week gepubliseer word.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die vakbond is gemaklik daarmee dat die huidige akademiese jaar nie tot 2021 verleng word nie.

“Dit beteken dat die 2020-skooljaar en die matriekeksamen vanjaar afgehandel kan word. Dis sou ’n groot uitdaging wees om die jaar tot 2021 te laat strek. Ons ondersteun alle inisiatiewe van die departement om die akademiese jaar af te handel.”

Hy sê die gewysigde kurrikulum-inhoud is van so ’n aard dat dit teen 15 Desember afgehandel kan word.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement van basiese onderwys, het Vrydag gesê die nuwe skoolkalender en -regulasies is by die regering se prokureurs en dus “uit die departement se hande.

“Ons lewer nie kommentaar op uitgelekte dokumente nie, want dié dokumente skep verwarring, paniek, onnodige angstigheid en mislei die publiek. Die departement sal op die regte tyd amptelik reageer.”

Meer oor:  Hedcom  |  Paul Colditz  |  Skooljaar  |  Verleng
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.