Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Skoolkalender: Vakbonde vies oor ‘lippediens’

Die departement van basiese onderwys se “konsultasies” oor die skoolkalender was slegs lippediens omdat byna geen van die onderwysgemeenskap se besware in ag geneem is nie.

Minstens twee vakbonde het Dinsdag hul ontevredenheid uitgespreek oor die skoolkalender wat deur die departement op sosiale media bekendgemaak is. Volgens Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, sal die kalender binne die volgende twee dae in die Staatskoerant gepubliseer word.

Wat werklik onbegryplik is, is waarom die department gedurende ’n buitengewone tydvak in die geskiedenis steeds die tradisionele kalender van 200 skooldae wil handhaaf.

Leerlinge keer Maandag terug skool toe. Die eerste kwartaal sal op 23 April eindig en die tweede kwartaal begin op 3 Mei. Die skool sluit dan op 9 Julie vir die wintervakansie en heropen op 26 Julie. Die derde kwartaal duur tot 1 Oktober en die vierde kwartaal van 11 Oktober tot 15 Desember.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die hele onderwysgemeenskap het die kalender verwerp, maar die departement het hom nie daaraan gesteur nie.

Van die voorstelle wat spesifiek verwerp is, is die verkorting van die April-vakansie en wintervakansie na onderskeidelik een en twee weke, asook dat onderwysers op 17 Desember moet werk. Die departement het slegs met laasgenoemde voorstel weggedoen.

“Die nuwe kalender maak slegs voorsiening vir 19 skoolvakansiedae. Die algemene gevoel is dat, om effektiewe leer en onderrig te verseker, moet die uitputting van sowel leerlinge as onderwysers vermy word,” sê Klopper.

“Wat werklik onbegryplik is, is waarom die department gedurende ’n buitengewone tydvak in die geskiedenis steeds die tradisionele kalender van 200 skooldae wil handhaaf. Daar moet in gedagte gehou word dat daar weer nie formele eksamens sal wees nie, maar eerder formele toetse. Daarvolgens wen skole minstens vier tot vyf weke se onderrigtyd.”

Gedurende die konsultasieproses het die SAOU gesê daar word in die laaste kwartaal hoofsaaklik op assessering gefokus. Die provinsiale departemente verwag ook dat skole hul punte twee weke vóór die skole formeel sluit, moet inhandig.

“Die effek daarvan is dus dat die laaste formele skooldag vir leerlinge einde November is. Dit baat niemand om die skooljaar tot middel Desember te verleng nie,” sê Klopper.

Wanneer daar na skoolvakansie verwys word, is dit dalk vakansie vir die leerlinge, maar dis nie noodwendig vakansie vir die onderwysers nie. Die onderwys as beroep stel baie eise.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle het die kalender wat tans die ronde doen, verwerp omdat dit nie sin maak nie.

Van die reaksies wat die SAOU ontvang het, is dat onderwysers as robotte gesien word en dat hulle die prys betaal vir ’n onkapabel departement.

Klopper sê vakbonde win regsadvies in oor wat die werklike betekenis van “konsultasie” ingevolge die Wet op Nasionale Onderwysbeleid en die Wet op Arbeidsverhoudinge is.

Mhlanga het Dinsdag gesê die departement kon nog nooit almal tevrede stel nie.

“Konsultasie het nooit beteken dat ons almal oor alles saamstem nie. Dit beteken ons betrek hulle en stem ooreen om te verskil as ons mekaar nie kan oortuig nie. Uiteindelik is dit die departement se verantwoordelikheid om die sektor te lei en te bestuur,” sê hy.

Dr. Francois Naudé, onderwyskonsultant en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Johannesburg, sê die onderwys is nie soos ander beroepe nie.

“Wanneer daar na skoolvakansie verwys word, is dit dalk vakansie vir die leerlinge, maar dis nie noodwendig vakansie vir die onderwysers nie. Die onderwys as beroep stel baie eise.”

Hy sê onderwysers herlaai nie net tydens vakansies nie, maar bestee ook tyd aan voorbereiding en verbetering van hul onderwyspraktyk.

“Baie van die goed wat onderwysers tydens die kwartaal doen, verloop byna soos ’n worsmasjien. Dis die een op die ander aktiwiteit. Daar is min tyd vir refleksie en ontwikkeling tydens die skoolkwartaal.

“Tydens die vakansie vind innoverende denkprosesse, voorbereiding en beplanning vir opwindende lesse plaas. Dis wat goeie onderwysers sou doen.”

Volgens Naudé kan onderwysers uitbrand, veral in ’n ontwrigte skooljaar wat baie eise stel.

“Nou is daar minder tyd, so hulle gaan óf besluit om nie verder aan professionele ontwikkelingsaktiwiteite deel te neem nie, óf hulle gaan hul gesinne afskeep en tyd soek om dit te doen.

“Dit kan tot fisieke en emosionele uitbranding lei. Ons moet vir onderwysers daardie blaaskans gee, veral in tye soos nou. In ’n pandemiejaar moet ons definitief dat onderwysers ook op hul psigiese gesondheid fokus. As ons die perd te hard druk, gaan ons nie ’n perd vir die volgende seisoen hê nie,” sê hy.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Chris Klopper  |  Elijah Mhlanga  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Onderwyser  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.