Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Slaagsyfer kan effens laer wees’

Die slaagsyfer van 2020 se matrieks gaan moontlik effens laer as vorige jare wees weens die invloed wat die koronavirus-pandemie op onderrig gehad het.

Openbare skole se algehele matriekuitslae word Maandag deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekend gemaak. Leerlinge ontvang Dinsdag hul uitslae by skole. Die 2020-slaagsyfer van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB), wat verlede week bekend gemaak is, het sedert 2019 effens gedaal.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, sê hulle verwag ook ’n effense afname in openbare skole se slaagsyfer, maar dat dit nie ’n verrassing is nie.

“Covid-19 was wreed en het baie gemeenskappe op verskeie maniere beïnvloed. Veral ons armer skole het nie toegang tot aanlyn onderrig gehad nie en moes baie werk opvang,” sê hy.

“Ons kommer is ook nie net oor die hoeveelheid leerlinge wat geslaag het nie, maar ook die gehalte van hul uitslae, wat vir seker ook beïnvloed sou word.”

Volgens Manuel moet leerlinge en onderwysers se veerkragtigheid egter geprys word, omdat hulle hard gewerk het nadat skole verlede jaar weer heropen het.

“Dink ook aan diegene wat, met goeie rede, dit dalk nie gemaak het nie. Ons boodskap aan hulle is dat dit nie die einde van die wêreld is nie, hulle het ’n ongekende tydperk in ons onlangse geskiedenis deurgemaak. Hulle moet hulself optel en aanbeweeg. Ons sê ook geluk aan diegene wat ten spyte van teëspoed kon presteer.”

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê hy verwag oor die algemeen “niks aardskuddende” of wesenlike verskille nie.

Covid-19 was wreed en het baie gemeenskappe op verskeie maniere beïnvloed. Veral ons armer skole het nie toegang tot aanlyn onderrig gehad nie en moes baie werk opvang.

Hy glo toppresteerders se punte kan beter lyk, aangesien daar sonder buitemuurse aktiwiteite meer studietyd was.

“In die topkategorie verwag ek dat daar nogal baie goeie prestasies gaan wees. In die onderste kategorie, gaan daar groter uitvalle wees, maar ek dink die gemiddelde gaan maar baie dieselfde as vorige jare wees.”

Colditz sê dis moeilik om te sê watter provinsie na verwagting die beste slaagsyfer sal hê, maar die kompetisie is gewoonlik tussen die Vrystaat, Gauteng en die Wes-Kaap.

Hy dink wel Gauteng het ’n groter kans om as nr. 1 aangewys te word.

“Afstandonderrig is baie makliker in Gauteng as wat dit in die afgeleë Vrystaatse gebiede is. Hulle het nie regtig afgeleë gebiede daar nie,” sê hy.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het leerlinge gemaan om kalm te bly totdat hulle Dinsdag hul uitslae by die skole ontvang.

“Bestudeer jou uitslae deeglik. As jy nie gelukkig is nie, registreer asseblief onmiddellik vir die herskryf. Jy kan ook aansoek doen vir ’n hermerk,” sê hy.

Gauteng

Die Gautengse onderwysdepartement wou nie Sondag kommentaar lewer oor hul verwagtinge vir die uitslae nie.

Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê die provinsie is gereed vir die bekendstelling van die uitslae. Leerlinge en ouers is daaraan herinner om die Covid-19-protokol te volg wanneer hulle die uitslae Dinsdag by skole gaan afhaal.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, sê dit was ’n “lang en moeilike wagtydperk”.

“Hoewel ons die matrieks alle bystand gegee het wat ons kon, sal ek verbaas wees as ons nie ’n uitwerking op die uitslae sien nie. Nietemin glo ek ons provinsie sal homself goed van die taak kwyt en is ek trots op die werk wat ons matrieks en onderwysers verrig het.”

Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling het Sondag leerlinge en ouers ook herinner dat hy beradingsdienste in dié tyd aanbied.

Oos-Kaap

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement het vir ’n slaagsyfer van 80% gemik. Fundile Gade, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, sal Dinsdag die provinsiale uitslae op ’n nuuskonferensie in Oos-Londen bespreek.

Op dieselfde nuuskonferensie het Gade verlede jaar gesê die Oos-Kaap mik daarna om oor sowat twee jaar met sy matriekuitslae in die toptien in die land te wees.

Vir die provinsie se 2020-matriekklas was sy doelwit ’n 80%-slaagsyfer, nadat die provinsie reeds twee jaar agtereenvolgens die beste vordering in sy matriekslaagsyfer tussen die provinsies aangeteken het.

Die 2019-matriekklas se slaagsyfer van 76,5% was ’n groot sprong vanaf die vorige jaar se 70,6%.

Vrystaat

Die Vrystaat wag in spanning om te hoor of hy weer die kroon vir die beste matriekslaagsyfer in die land dra. Die provinsie se slaagsyfer van 88,4% vir 2019 was die beste in die land.

Howard Ndaba, woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, sê die departement is nie obsessief daarmee om eerste te wees nie, maar om te verseker dat sy leerlinge goed slaag.

Dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, glo die provinsie het verlede jaar sy bes gedoen om leerlinge deur verskeie onderrigmetodes te ondersteun en daarom sal die provinsie se uitslae goed wees.

“Die LUR wil die klas van 2020 vir hul volharding bedank, maar ook veral die onderwysers wat onder moeilike omstandighede moes werk,” sê Ndaba.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement sal eers kommentaar lewer nadat die uitslae bekend gemaak is.

Meer oor:  Basil Manuel  |  Paul Colditz  |  Angie Motshekga  |  Debbie Schäfer  |  Slaagsyfer  |  Uitslae  |  Matrieks2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.