Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Slaan-video: Meisie knou seun glo al lank af

Die 16-jarige seun van Randfontein wat in ’n video deur ’n skoolmeisie aangerand word, word na bewering al ’n geruime tyd deur die betrokke meisie (ook 16) geteister.

In die video van die bakleiery snou die skoolmeisie haar medeleerling allerhande dinge toe voordat sy hom ’n paar keer met die vuis bydam. Hulle is albei in hul skoolklere.

’n Tannie van die seun het Donderdag teenoor Netwerk24 beweer dat die meisie se geboelie al maande lank aangaan.

Volgens haar is albei die leerlinge in gr. 10 en het die voorval verlede Vrydag ná eksamen buite die skool gebeur.

Die departement van onderwys sê egter in ’n verklaring dit het Dinsdag gebeur en dat die seun in gr. 9 is.

“Hulle ry saam bus, so sy knou hom in die bus ook af,” beweer sy tannie.

’n Ander familielid van die seun het glo al voorheen met die meisie oor die afknouery gepraat, waarop sy volgens die tannie glo geantwoord het dat sy daarmee sal voortgaan. Sy beweer dat die meisie die seun oor sy omstandighede uitbuit.

Oor die voorval wat op video vasgevang is, het die seun aanvanklik vir niemand gesê dat dit die einste meisie is wat hom geslaan het nie.

“Hy bly by sy ouma en oupa en toe hulle hom vra waarom sy oog rooi en sy kakebeen opgewel is, het hy net gesê dat ’n seun hom geslaan het,” sê sy tannie.

Dit was egter ’n groot skok vir haar toe sy Woensdagaand “toevallig” op Facebook die video sien waarin haar suster se seun aangerand word.

“Ek was ongelooflik kwaad. Ek het hom help grootmaak, want hy is soos my eie kind,” sê die seun se tannie.

Sy beweer verder dat ’n ander familielid van die seun die meisie se pa Woensdagaand gebel het om antwoorde te kry, waarop hy glo gesê het hy weet nie waarom sy dogter dit gedoen het nie.

In die video kan gehoor word hoe die meisie vir die seun sê: “Hoekom staan jy só? Is jy bang vir my? Is jy bang vir my? Hoekom is jy bang vir my? Hoekom? O, wag, want ek is ’n half-Porra.”

In die agtergrond is dit hoorbaar hoe ’n ander seun die meisie aanhits en uitroep: “Wys hom hoekom hy dan moet bang wees vir jou.”

Skielik swaai die meisie haar regtervuis in die rigting van die seun se gesig, maar hy koes betyds voordat sy hom kan tref.

“Moenie vir my f***** buk nie,” sê die meisie en slaan dan die seun met die vuis in die gesig.

Die seun hou daarna sy hande voor sy gesig, maar die meisie beveel hom om sy hande weg te vat.

Wanneer hy sy hande wegvat, slaan sy hom weer in die gesig. ’n Ander seun en meisie sit daar naby op ’n kampstoel en hou die slanery dop.

“Kom, kom, moenie huil nie. Kom,” sê die meisie vir die seun wanneer hy teen die hek op sy hurke neersak. Sy rug is na die kamera gedraai. Die meisie klop die seun dan op die skouer en loop weg.

Die meisie het drie keer na die seun geslaan. Die eerste keer was mis, die tweede keer het sy die seun se linkeroog getref en met die derde hou het sy hom op die kakebeen geslaan.

Die seun se familie het Donderdagoggend met die skoolhoof vergader.

Intussen het die Gautengse onderwysdepartement bevestig die meisie is met onmiddellike ingang uit die skool geskors.

Volgens die seun se tannie het die meisie en haar ouers ook buite die hoof se kantoor gewag. Sy sê die meisie is vir sewe dae geskors en dat die hoof ook aan hulle gesê het dat die leerling wat die video gemaak het en die leerlinge wat toegekyk het, ook in die moeilikheid is.

“Die skoolbeheerliggaam sal mettertyd die tugproses fasiliteer en die departement sal verseker dat die regte prosedures gevolg word,” sê Steve Mabona, woordvoerder van die departement, in ’n verklaring.

“Die skool word bygestaan om voorkomende maatreëls op te stel om ’n herhaling van sulke voorvalle te voorkom. Hoewel die saak afgehandel kan word sodra die tugverhoor verby is, kan remediërende stappe langer neem, afhangende van die programme waaraan die leerling onderwerp kan word, soos programme vir gedragsaanpassing en berading.”

Die spesifieke video is so baie op sosiale media gedeel dat daar groepe gestig is om die seun te ondersteun. Die seun se tannie sê dat mense vrywillig aangebied het om berading aan hom te gee.

“Hy probeer dapper wees, maar hy is ’n teruggetrokke kind. Ek probeer hom moed inpraat, want hy is bekommerd oor wat mense van hom dink omdat ’n meisie hom geslaan het,” sê sy tannie.

“Hy gaan dit (berading) moet kry.”

Hulle beplan om ’n saak van aanranding by die polisie in te dien.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het in reaksie op die Twitter-gebruiker Shayne Welman se kommentaar gesê dat ras hier irrelevant is.

“Sy (die meisie) moet rekenskap gee vir haar dade. (Dit is) heeltemal onaanvaarbaar,” het Lesufi getwiet in reaksie op Welman se mening dat die meisie geskors moet word.

Welman het aanvanklik ook gesê dat die voorval waarskynlik nie ’n groot kwessie is nie omdat dit twee wit kinders is.

Die betrokke skool se telefoon het Donderdag onbeantwoord gebly. Netwerk24 het ’n navraag per e-pos gestuur, maar teen druktyd nog geen reaksie gekry nie.

Netwerk24 probeer ook om die meisie se ouers te kontak. Hul kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.