Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Sluit skole dadelik tot ná hoogtepunt, vra vakbond

Die onderwysvakbond Sadtu het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, versoek om skole onmiddellik tot ná die hoogtepunt van die Covid-19-uitbreking in Suid-Afrika te sluit.

Die vakbond sê hy vra nie tans dat sy lede tuis bly nie, maar dat Motshekga dringend met hom vergader.

Sadtu sê hy het voor die heropening van skole vir Motshekga gevra om die veiligheid van onderwysers en leerlinge te verseker en het sy kommer uitgespreek oor die provinsiale onderwysdepartemente se gereedheid.

Hy sê nadat die vakbond se uitvoerende komitee Dinsdag vergader het, vind daar tans volgens alle bewyse nie effektiewe onderrig op grondvlak plaas nie.

“Die pandemie het tot ’n pandemonium in die onderwyssektor gelei en dit kan aan die lustelose leierskap verbind word wat ons op verskeie vlakke van die onderwysdepartement ervaar,” sê Mugwena Maluleke, sekretaris-generaal van die vakbond.

Maluleke het ná die vergadering op ’n mediakonferensie gesê die redes vir die versoek is onder meer omdat die naderende hoogtepunt van infeksies saam met die winterseisoen val, asook die feit dat nie alle skole die standaardbedryfsprosedures volg nie.

Ons versoek Sadtu om ’n radikale benadering te volg en sy lede te vra om skole te boikot en gereed te wees om hulself teen die departement van basiese onderwys te beskerm.

“Toe ons gedebatteer het oor skole se heropening, is ons gelei deur die wetenskap wat duidelik daaroor is dat kinders nie vatbaar vir infeksie is nie en dat hulle, selfs as hulle die virus opdoen, nie ander leerlinge aansteek nie, maar dat hulle diegene wat kwesbaar is, veral ouer mense, kan aansteek.

“Die studies het ’n prentjie geskets waarin leerlinge in Australië en Italië nie mekaar aangesteek het nie. Dit is wat aan ons voorgehou is om die heropening van skole te motiveer. Die Suid-Afrikaanse situasie het egter ’n ander kant van die virus gewys waar so baie leerlinge die virus opgedoen het en sewe leerlinge dood is,” sê hy.

Die vakbond sê daar is ’n probleem met ventilasie in klaskamers en daar kan nie verwag word dat vensters in die winter oopgemaak word nie.

Sadtu het Motshekga versoek om saam met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) antwoorde aan onderwysers, asook strategieë, te verskaf om die verspreiding van die virus te voorkom en lewens te red.

Die vakbond sê verder die standaardbedryfsprosedures word nie konsekwent toegepas as daar positiewe Covid-19-gevalle is nie, en dat daar “geheimhouding” is rakende die nasporing van kontakte, omdat almal wat kontak gehad het met ’n onderwyser wat positief getoets is, nie ingelig word nie.

“Die situasie is ernstig en raak almal in die gemeenskap, nie net skole nie. Ons doen ’n beroep dat die onderwys in ons land nie as ’n platform gebruik moet word om goedkoop politieke punte aan te teken nie,” sê Maluleke.

“Dit is nie ’n magspel nie, dit gaan oor ’n ernstige oorweging dat onderrig nie onder die huidige toestande kan plaasvind waar skole amper elke dag moet sluit en weer heropen sedert die gr. 7- en gr. 12-leerlinge teruggekeer het nie.”

Nog ’n kwessie waaroor die vakbond bekommerd is, is onderwysers wat weens siekverlof afwesig is, wat druk plaas op die reeds beperkte aantal onderwysers.

Maluleke sê egter onderrig moet nie ophou wanneer skole sluit nie en die vakbond het gevra dat talle opsies beskikbaar gestel word, waaronder gekoördineerde radio- en televisieklasse en die verskaffing van infrastruktuur vir aanlyn leer.

Indien Motshekga nie instem nie, sal Sadtu regsaksie as laaste opsie oorweeg, omdat “baie mense al hof toe gegaan het hieroor, maar die hof het nie gehelp nie”.

Op die vraag oor hoekom die akademiese jaar nie eerder afgeskryf word nie, het Maluleke gesê dit sal veroorsaak dat minder bevoorregte leerlinge agterbly.

“As ons in ’n land gebly het waar almal gelyk was, sou ons gesê het 2020 (die akademiese jaar) is verby, daar’s niks wat ons kan doen nie. Maar ons moet realisties wees oor die mense van Suid-Afrika. Die onafhanklike skole het reeds meer grade laat terugkeer, welaf skole het al meer grade laat terugkeer.

“Ons moet kan sê onafhanklike én openbare skole kan nie met onderrig voortgaan nie. Ons bly egter in ’n ongelyke land en ons gaan sien hoe daardie skole voortgaan ten koste van arm leerlinge,” sê hy.

“Die howe in hierdie land gaan sê die leerlinge in onafhanklike en welaf skole wat kon voortgaan, moet eksamen skryf. So wie gaan verloor? Die arm werkersklas-kinders. Tensy ons ’n ooreenkoms met die regering kan aangaan dat, indien die hele jaar afgeskryf moet word, dit vir almal moet geld.”

Die Congress of South African Students (Cosas), wat die afgelope ruk talle skole probeer sluit het, verwelkom Sadtu se versoek.

Cosas sê in ’n verklaring die onderwysdepartement het nie sy siening oor skole se gereedheid in ag geneem nie.

“Ons versoek Sadtu om ’n radikale benadering te volg en sy lede te vra om skole te boikot en gereed te wees om hulself teen die departement van basiese onderwys te beskerm.”

Die organisasie sê hy sal voortgaan om skole te sluit en vra dat alle leerlinge in gr. 7 en gr. 12 getoets word en na “opvoedkundige kampterreine” gestuur word om hul akademiese jaar te voltooi.

Verder vra hy dat ander grade nie vanjaar terugkeer nie, maar dat die “pass one pass all”-beginsel gevolg word.

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag gesê hy ondersteun dit dat skole tydens die hoogtepunt van die virus oop bly.

Werner Human, die vakbond se adjunkhoof vir regsake en navorsing, sê elke dag wat die skooljaar uitgestel word, veroorsaak dit verdere skade aan kinders se sielkundige en opvoedkundige ontwikkeling.

“In plaas daarvan om heeltyd redes te soek om op te hou met onderrig, moet ons eerder met innoverende idees vorendag kom om dit so lank as moontlik vol te hou.”

Solidariteit sê die kwessie moet op grondvlak oorweeg word omdat skole self beter kan besluit óf en hoe hulle moet open.

Die raad van onderwysministers het Dinsdag in ’n verklaring gesê die besluit of skole moet sluit, sal deur die kabinet geneem word.

Meer oor:  Sadtu  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.