Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Só keer studente terug na kampusse
Die kampus van die Universiteit van Kaapstad. Sekere studente sal binnekort kan terugkeer na die kampus. Foto: Argief

Die terugkeer van studente na universiteite, TVET-kolleges en kolleges vir gemeenskapsonderrig en opleiding sal streng beheer word volgens die vlak van inperking van die distrik waarin die kampusse geleë is, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, wetenskap en tegnologie.

Hy het Saterdagmiddag saam met sy adjunk, Buti Manamela, en Gwebinkundla Qonde, direkteur-generaal van die departement, hul voorlopige planne vir die heropening van tersiêre instellings aangekondig.

Ingevolge dié plan sal die eerste groep universiteitstudente op 1 Junie – wanneer die land na verwagting na vlak 3 van die staat van inperking sal beweeg – na kampusse begin terugkeer. Die eerste groep studente van TVET-kolleges sal op 10 Junie terugkeer.

Die res van die studente moet wag om terug te keer, en aanlyn studeer.

Planne is in plek om gratis skootrekenaars en data te verskaf aan die armste NSFAS- en Funza Lushaka-studente sodat hulle aanlyn kan leer.

Instellings sal egter ook leermateriaal op papier beskikbaar stel aan studente wat dit nie aanlyn kan kry nie.

Nzimande het Saterdag benadruk dat dié sektor se heropening streng gelei word deur die goedkeuring van die nasionale bevelsraad onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa, en die kabinet.

Volgens Nzimande het al 26 openbare universiteite gedetailleerde leer- en onderrigplanne vir multimodale- aanlyn afstandsonderrig ontwerp wat van 1 Junie geïmplementeer sal word.

Kampusse sal ook ingevolge gesondheids- en higiëniese voorskrifte voorberei word vir die studente se terugkeer.

Studente en personeel op die kampusse sal daagliks aan siftingsprosesse onderwerp word.

Volgens Nzimande sal die departement gereeld voorskrifte publiseer soos studente stelselmatig begin terugkeer.

Só gaan dit vir universiteite werk:

Nzimande sê mediese studente in hul finale jaar wat kliniese opleiding moet doen om hul akademiese jaar te voltooi, is reeds onder vlak 4 (van 11 Mei af) toegelaat om terug te keer na kampusse.

Studente in verpleegkunde, tandheelkunde, veeartseny en alle ander finalejaarstudente in programme wat kliniese opleiding benodig, sal van 1 Junie af kan begin terugkeer.

Op vlak 3 van die inperking sal tot 33% van die studente na kampusse terugkeer.

Dit sal insluit studente wat reeds teruggekeer het, asook finalejaarstudente wat vanjaar moet gradueer en ander finalejaarstudente wat toegang tot laboratoriums, tegniese toerusting, data, internetverbinding en toegang tot koshuise en private akkommodasie moet kry.

Dit sluit ook in alle studente wat kliniese opleiding op kampus moet kry en nagraadse studente wat laboratorium- of ander tegniese toerusting moet gebruik.

Koshuisstudente wat nie by die huis kan leer nie, moet ook oorweeg word.

Nzimande sê studente moet ook eers ná twee of drie weke nadat ’n distrik van vlak verander het, onder streng voorwaardes na die klasse terugkeer.

Reëling sal ook getref word dat studente na kampusse kan reis.

Op vlak 2 van die inperking sal instellings toegelaat word om tot 66% van hul studente te laat terugkeer.

Dit sluit in alle studente wat reeds terug is, asook alle studente wat laboratorium- en ander tegniese toerusting benodig en diegene wat praktiese opleiding moet kry.

Eerstejaarstudente in alle voorgraadse programme sal ook dan kan terugkeer.

Alle studente keer onder vlak 1 terug.

Elke universiteit moet die terugkeer na sy koshuise self bepaal.

Só gaan dit vir TVET-kolleges werk:

technician

’n Tentatiewe akademiese kalender is volgens Nzimande vir studente van TVET-kolleges opgestel. Dit sal ook ingevolge die vlakke van die inperking ingefaseer word.

Daarvolgens sal N6- en N3-ingenieurstudente op 10 Junie na kampusse terugkeer, N5 en N2 op 15 Junie en N4 en N1 op 22 Junie.

Vir sake-studies sal N6 op 25 Junie terugkeer, N5 op 29 Junie en N4 op 6 Julie.

Vir die NC(V)-programme sal vlak 4-studente op 13 Julie terugkeer, vlak 3 op 20 Julie en vlak 2 op 27 Julie.

Kampusse in distrikte wat op vlak 4 van die inperking bly, sal volgens Nzimande toe bly en studente sal tot verdere kennisgewing aanlyn moet leer totdat hul distrik na vlak 3 beweeg.

Só gaan dit vir gemeenskapsonderrig en opleidingskolleges (CET) werk:

Study

Volgens Nzimande sal dié kolleges wat meestal skole na-ure vir hul akademiese programme gebruik, se aktiwiteite in ooreenstemming met dié van skole hervat word.

Die sentrums word reeds voorberei voordat hoofde, adjunkhoofde en verkrygingsbestuurpersoneel Maandag terugkeer, sentrumbestuurders op 1 Junie en lektore op 8 Junie.

Studente wat vir die GET-sertifikaat, matrieksertifikaat of Nasionale Beroepsertifikaatkwalifikasies geregistreer is, sal op 17 Junie terugkeer, terwyl studente van vlak 1 tot 3 saam met laerskoolleerlinge sal terugkeer.

Sentrums in distrikte wat op vlak 4 van die inperking bly, sal nie oopmaak nie, het Nzimande gesê.

Meer oor:  Kampusse  |  Blade ­Nzimande  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.