Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Só ontvou Bishops-seksskandaal
Fiona Viotti (30) Foto: Twitter

In ’n dag van vinnig ontvouende drama het nuwe inligting aan die lig gekom oor die seksskandaal by die spogskool Bishops Diocesan College in Rondebosch, Kaapstad.

Die skool het Dinsdag in ’n verklaring gesê verskeie seuns is oor ’n aantal jare geraak deur die onvanpaste optrede van ’n onderwyseres by die skool.

Dit kom ná bewerings dat dié onderwyseres, Fiona Viotti (30), ’n seksuele verhouding gehad het met ’n 18-jarige matriekseun. Sy het intussen bedank en ’n ondersoek is deur die skool van stapel gestuur.

Haar prokureur het ook gesê hulle oorweeg dit om stappe te doen teen diegene wat eksplisiete foto’s en video’s van Viotti deel, aangesien dit onwettig is.

Viotti se pa, Dave Mallett, wat ook by die skool werk, het in ’n brief aan ouers gesê hy ondersteun sy dogter en wil nie hê leerlinge aan die skool moet hom vermy nie. Hy rig die skool se eerste rugbyspan af.

Verskeie seuns is oor ’n aantal jare geraak deur die onvanpaste optrede van ’n onderwyseres by die skool.
Bishops-verklaring

Guy Pearson, die skoolhoof, sê in die verklaring: “Ons het bevestig dat verskeie seuns oor ’n aantal jare geraak is. Ons doen alles in ons vermoë om vir die psigiese welstand van ons seuns, personeellede en ander wat deur hierdie hartseer gebeure geraak is, te sorg.”

Pearson het aan Netwerk24 bevestig sover hulle weet was geen van die betrokke seuns jonger as 16 jaar nie. Dit is die wettige ouderdom waarop minderjariges kan instem tot seks met ’n volwassene.

“Die ondersoek oor ernstige seksuele wangedrag duur voort,” sê Pearson. “Ons het seuns en hul ouers gevra om met enige inligting vorendag te kom wat ons kan help om te verstaan wat gebeur het.”

Die skool het die dienste van sielkundiges van die Bishops-ondersteuningseenheid, asook eksterne kliniese sielkundiges en psigiaters beskikbaar gestel vir enige seun of familielid.

Intussen het Viotti se prokureur, William Booth, Dinsdag gesê sy kan moontlik strafregtelike klagte aanhangig maak teen diegene wat eksplisiete foto’s en video’s van Viotti versprei.

Geen strafregtelike saak is teen Viotti aanhangig gemaak nie.
Fiona Viotti op haar troudag verlede jaar. Foto: Facebook

“Ek het al verskeie kere gesê die verspreiding van die video’s en foto’s is hoogs onreëlmatig en onwettig,” sê hy. “Dit is baie moeilik om te bepaal waar die materiaal vandaan kom en wie dit oorspronklik begin versprei het. Dit is ook ’n groot uitdaging, byna onmoontlik om te keer dat dit versprei,” sê hy.

“Maar ons oorweeg die moontlikheid om stappe te doen.” Volgens hom is daar nie tans ’n aanduiding dat haar selfoon of ander toestelle onwettig deur iemand onderskep is nie.

Van die foto’s en video’s waarna Booth verwys, is in Netwerk24 se besit, maar word op regsadvies weerhou.

Verder sê Booth dat hy namens Viotti die skool gekontak het om te sê sy sal haar volle samewerking gee met die skool se ondersoek. Geen strafregtelike saak is teen Viotti aanhangig gemaak nie.

Die laaste keer dat sy by die skool was, was toe sy bedank het, sê Booth. Sy het glo ongeveer ses jaar by die skool gewerk en het onder meer waterpolo afgerig.

Booth sê sy is getraumatiseer deur die gebeure en gaan deur ’n moeilike tyd.

Volgens Booth het Viotti en haar man, wat glo uitmekaar is, steeds kontak met mekaar. Booth sê hy kan nie bevestig of die gerugte waar is dat hy na die Weskus gevlug het nadat die storie oor sy vrou op die lappe gekom het nie.

Booth sê hy kan nie bevestig of die gerugte waar is dat haar man na die Weskus gevlug het nadat die storie oor sy vrou op die lappe gekom het nie.

Haar pa skryf in sy brief: “Ek het nou net met die ouens (die leerlinge met wie hy te doen het) vergader en gevra hulle moet sover moontlik hul kop laag hou (moenie rondom my trippel nie!) en probeer om aan te gaan soos normaal.

“Ek kan nie toelaat dat dit hul laaste kwartaal ontwrig nie.

“Daar lê sonder twyfel moeilike tye voor, maar ek sal vorentoe beweeg en my familie ondersteun,” skryf Mallett.

“Dit is voor die hand liggend dat my dogter se veiligheid nou ons topprioriteit is en ons sal alles doen om haar te help om hierdeur te kom,” sê hy.

“Baie dankie aan almal wat ons ondersteun en vir ons boodskappe stuur ná hierdie verwoestende voorval rakende my dogter, Fi.”

Mallett is die broer van Nick Mallett, voormalige Springbok-afrigter, en ook koshuishoof van Founders House, een van die koshuise by die skool. Hy sê in die brief hy sal in hierdie pos bly. Volgens die skool se webblad is hy ’n geskiedenisonderwyser en rig hy ook die eerste rugbyspan af.

Volgens Booth is Mallett se brief aan net ’n klein groepie ouers gestuur en bevat dit niks onbehoorlik nie. “Ek kan hoegenaamd nie verstaan hoekom enige ouer die boodskap op sosiale media sal versprei of aan die media sal stuur nie. Dit is ’n hartroerende brief wat as pa sy ondersteuning aan sy dogter verwoord,” sê Booth.

Viotti was in 2006 lid van Suid-Afrika se waterpolospan op die Statebondspele. Daar is ook voorheen berig Viotti het in 2009 in die tydskrif Sports Illustrated verskyn.

Meer oor:  Fiona Viotti  |  Bishops  |  Seksskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.