Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Die dorp wat geweier het om sy skool te sluit

As die nood druk, moet ’n gemeenskap saamspan.

So sê die mense van die klein dorpie Merweville in die Sentraal-Karoo, sowat 120 km wes van Beaufort-Wes.

Gina Mans, skoolhoof, by van haar leerlinge. Foto’s: Edrea du Toit

In 2018 was die dorp teen die grond ná die nuus dat die Wes-Kaapse departement van onderwys een van die plaaslike laerskole wil sluit omdat daar net 48 kinders in die skool oor is. Sonder dié skool, het die mense van die Karoo besef, kan hulle maar net sowel die dorp “sluit”, want daarmee saam is 11 werksgeleenthede vir onderwysers en koshuispersoneel daarmee heen.

Iets moes gedoen word.

Danksy ’n agtermekaar skoolhoof en ’n groep hoofsaaklik Kaapse sakelui kon die skool bly voortbestaan.

Deesdae spog die skool met oor die 70 leerlinge en beter geriewe as ooit – waaronder seker die groenste rugbyveld in die hele Karoo!

‘ ’n Mens kán sterwende dorpies red.’

Die Wawwa-stigting, ’n ontwikkelingstrust wat al jare in die Karoo doenig is, het ná die nuus dat die skool gesluit gaan word, saam met ’n paar gemeenskapsleiers Kaap toe gery om Debbie Schäfer, die LUR van onderwys, te gaan spreek.

Daar is toe ooreengekom om die skool oop te hou en leerlingtalle te verhoog deur die skool en koshuis te gebruik as toevlugsoord vir kinders uit arm en gebroke huishoudings wat deur maatskaplike werkers van elders in die provinsie daar geplaas word – veral as hulle geen ander heenkome kan kry nie weens oorvol kinderhuise. Schäfer het ingestem en die res is geskiedenis.

Wawwa (’n akroniem van “we are who we are”) het tien jaar gelede tot stand gekom op inisiatief van die sakeman Richard Clark wat toe al reeds vyf jaar lank geskenkpakkies in Karoo-dorpe uitgedeel het. Hy het ’n paar sakevriende geïnspireer om ook betrokke te raak en in 2012 het hulle besluit om Merweville hul “projek van hoop” te maak. Die skool en die opknapping van die koshuis was van vroeg reeds een van hul projekte – en daarom was die moontlikheid dat die skool sou sluit vir hulle ondenkbaar.

Johnny Baadjies en Gerhard van Niekerk, lid van die Wawwa-trust.

Die skoolhoof, Gina Mans, skud net haar kop in ongeloof oor alles wat die Merwevillers en die Wawwa-trust al daar reggekry het. “Dis ’n verskriklike genade. Eers was dit hier lap en daar stop. Nie meer nie. Die Here sorg vir ons. Dis nie meer ’n wit skool nie, dis ons skool. Ons eerste bruin hoofseun was Gershwin Louw. Gershwin beklee deesdae ’n groot pos in die Swellendam-landbougemeenskap.”

Johnny Baadjies, verlede jaar se beheerliggaamvoorsitter wat op ’n volstruisplaas in die distrik werk, sê hy onthou die besoek aan Schäfer baie goed. Hy het in ’n emosionele toespraak voor die onderwyshoës betoog dat die skool Merweville se “erfdeel” is en dat dit opgebou en beskerm moet word.

“Die (provinsiale) minister het ’n goeie hart, met al haar kennis en diepte. Ons is baie dankbaar vir haar besluit en ek weet daar word nou baie belê. Die skool is Merweville se toekoms.”

Laerskool Merweville en die koshuis (regs agter) .Foto: Edrea du Toit

Een van die lede van die Wawwa-trust, die Kaapse prokureur Gerhard van Niekerk, is baie trots op wat hulle vermag het. Hy en die koshuishoof, Anna-Marie Blom, spog graag met die koshuis se opgeknapte slaapkamers, badkamers en die skool se koffiewinkel, Soet Karoo.

Dié eetplek doen fluks sake en help om die koshuisgeld van van die kinders te betaal.

Maar die ding waarop hulle die trotsste is, is hul grasgroen sportveld.

Die veld is die geskenk van dr. J.S. Badenhorst, ’n plastiese chirurg met ’n praktyk in Kanada, wat aangegryp is deur die Merweville-projek.

Van Niekerk sê Wawwa wil nie net aanhou geld skenk nie. Hul droom is om op die lange duur volhoubare ondernemings te skep sodat Merweville en die skool uiteindelik op eie bene kan staan, terwyl die vaardighede van die dorp se jong mense ontwikkel word sodat hulle uit armoede kan ontsnap.

Mans sê wat in Merweville gebeur, bewys dat ’n mens sterwende dorpies kan red.

“Maar dan moet ’n mens roei!”

  • Merweville en die Wawwa-trust bied elke jaar die gewilde S2M-fietstoer tussen Sutherland en Merweville aan om geld in te samel. Deelnemers kan onder meer verblyf in die koshuis bespreek. Vanjaar se S2M word die naweek van die 25ste April aangebied.
  • Met die hulp van Rapport se Onderwysfonds (ROF) hoop die skool ook om die kwalifikasies van hul onderwysers te verbeter. Lees wat Rapporthier.
  • Vir meer inligting oor die Wawwa-trust en die ROF se werksaamhede, bel Phil-Marié Roberts van die ROF by 073 122 8800 of Gerhard van Niekerk by 082 573 4422. Die Merwevillers beplan ook ’n groeiberaad op 7 Februarie waar hulle nóg planne wil maak om hul dorp ’n ekonomiese inspuiting te gee. Vir inligting, bel Stefanie Mocke by 084 868 7868.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.