Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Solidariteit: ‘Los nou die Schweizer-storie’

Solidariteit doen ’n beroep op Noordwes se onderwysdepartement “om die Schweizer-Reneke-storie nou te los”.

Dit was dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se reaksie Donderdag op die uitspraak in die arbeidshof wat Elana Barkhuizen, ’n onderwyseres by die skool, se skorsing opgehef het.

Hermann sê die uitspraak is ’n oorwinning wat ’n boodskap aan alle Suid-Afrikaners stuur.

Elana Barkhuizen buite die arbeidshof in Johannesburg nadat sy gehoor het haar skorsing is ter syde gestel. Foto: Deaan Vivier
Daar is wette wat van toepassing is op regeringsamptenare.

“Daar is wette wat van toepassing is op regeringsamptenare.”

Solidariteit het die hofaansoek namens Barkhuizen gebring. Hulle oorweeg steeds ’n lastereis oor uitlatings wat oor Barkhuizen gemaak is.

Barkhuizen is op 10 Januarie aangesê om haar pos te ontruim nadat ’n foto wat sy in ’n gr. R-klaskamer geneem het, ’n rasseherrie ontketen het. Dit was nie haar klaskamer nie.

Die skool se beheerliggaam het te midde van die woede en spanning met die onderwysdepartement ooreengekom om haar te skors.

Regter Connie Prinsloo het Donderdag beslis die skorsing is onwettig.

“Rassisme moet ten sterkste veroordeel word. Daar moet egter nie vir rassisme gesoek word waar daar nie rassisme is nie.”

Prinsloo het gesê Barkhuizen kan Vrydag terugkeer werk toe.

Sy het in haar uitspraak gesê die skoolbeheerliggaam en die departement het oorhaastig opgetree.

“Die konteks van die foto is nie in ag geneem nie. Sy is ook nie kans gegee om haar kant van die saak te stel nie, wat strydig is met die wet.

“Ek het geen rede om te dink haar skorsing is regverdigbaar nie. Ek hoop alle partye leer uit die saak en dat staatsamptenare in die toekoms besluite sal neem nadat die feite vasgestel is,” het Prinsloo gesê.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Elana Barkhuizen deel hul vreugde nadat die hof in haar guns beslis het.Foto: Deaan Vivier

Die departement se ondersoek na die foto, wat wys hoe swart en wit leerlinge apart sit, is egter nog nie afhandel nie en verdere skorsings kan volg.

Die onderwyseres in wie se klaskamer die foto geneem is, Elsabé Olivier, en die skoolhoof, Alwyn Henning, kan dalk ook ná die ondersoek aangesê word om hul poste te ontruim.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, die vakbond waaraan Olivier en Henning behoort, sê regspanne het verlede week gereeld die skool besoek.

Volgens Klopper was dit ’n gegewe dat Barkhuizen die saak sou wen omdat sy vir die beheerliggaam werk.

Die hof het bevind Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, het sy magte oorskry deur by die besluitnemingsproses in te meng.

“Die uitslag sal dalk nie die onderwysdepartement verhoed om teen Olivier en Henning op te tree nie, omdat albei vir die departement werk. Ons hoop egter dat die uitspraak die departement oordeelkundig sal laat besluit.”

Klopper het Barkhuizen met haar oorwinning gelukgewens.

Freddy Sepeng, woordvoerder van die departement, het nie Donderdag op navrae reageer nie.

’n Aangedane Barkhuizen het Donderdag ná die uitspraak by die hof gesê sy is “opgewonde, dankbaar en bly.”

Ek is net ongelooflik dankbaar vir elke liewe een wat saam met my die pad gestap het.

“Ek is net ongelooflik dankbaar vir elke liewe een wat saam met my die pad gestap het.”

Sy neem nie die beheerliggaam kwalik oor wat gebeur het nie. Jozeph du Plessis, voorsitter van die beheerliggaam, het by navraag laat weet hy sal eers later oor die saak kommentaar lewer. Hy het vroeër gesê die besluit om Barkhuizen te skors, is vir haar eie veiligheid en dié van die skool geneem.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), sê hoewel die beheerliggaam ’n fout gemaak het, moet die omstandighede in ag geneem word.

“Emosies het hoog geloop en daar was gevaarlike toestande toe betogers op die skool toegesak het. Dis eerder die departement wat hieruit ’n les moet leer. Hulle moet eerder nie inmeng waar hulle nie moet nie.”

Die beheerliggaam neem kennis van die hofuitspraak, het Du Plessis gesê: “Mev. Barkhuizen het deur middel van haar verteenwoordigers ’n paar dae verlof aangevra. Dit is deur die beheerliggaam toegestaan. Die beheerliggaam is besig met hul eie ondersoek en sal eersdaags met mev. Barkhuizen en haar verteenwoordigers in gesprek tree. Die proses word met die nodige sensitiwiteit en vertroulikheid hanteer met inagneming van ’n werkgewer/werknemer vertrouensverhouding. Die beheerliggaam poog deurentyd om in die beste belang van die leerders, skool en personeel op te tree.

“Ons is dankbaar dat die skool weer sonder onderbrekings funksioneer want kwaliteit onderrig vir ons leerders bly steeds die hoogste prioriteit,” sê Du Plessis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.