Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Solidariteit ‘moet opsy staan’ sê Lesufi

Solidariteit moet opsy staan oor die rasseherrie wat sedert verlede week by die Laerskool Schweizer-Reneke in Noordwes woed, sê Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng.

Lesufi het Woensdag met die opening van die Centurion Primary School gepraat.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, praat Woensdagoggend tydens die opening van die Centurion Primary School. Foto: Andrea Küsel

“Solidariteit moet opsy staan. As jy politiek na die skoolgrond bring, gaan die skool nie oorleef nie. Hierdie is ’n ernstige geval van rassediskriminasie en ’n mens moet dit nie miskyk om politieke punte by jou vakbondlede te wen nie,” sê Lesufi.

Solidariteit het Dinsdag bekend gemaak hy gaan Sello Lehari, LUR vir onderwys in Noordwes, vervolg weens die skorsing van die onderwyseres Elana Barkhuizen midde-in die rasseherrie by die skool.

Barkhuizen het die gewraakte foto geneem wat deur ’n ouer op sosiale media versprei is, maar sy was nie die onderwyseres van die betrokke klas waar swart kinders oënskynlik by ’n aparte tafel gesit het nie.

Lesufi sê dit is duidelik dat daar teen die kinders van dié laerskool gediskrimineer is.

“Die kinders is openlik geskei op die grondslag van hul taal en die kleur van hul vel. Jy (Solidariteit) ignoreer al daardie dinge en kies om een punt op te tel.

“Moenie kies wat soet is vir jou en agterlaat wat bitter is vir ander nie. Wat bitter is vir ons almal, is die feit dat daar teen ons kinders gediskrimineer is en niemand is bereid om hulle te verdedig nie. Ons sal dit nie toelaat nie,” sê hy.

Lesufi sê indien die Noordwes-regering nie vir Solidariteit opdrag gee om opsy te staan nie, “sal ons self”.

“Hierdie is nie ’n masjien om politieke punte te wen nie. Dit is ’n skool en die skool moet beskerm word.”

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê in sy reaksie op Lesufi se uitlatings dat dié vakbond met sy regsaksie sal voortgaan.

“Die Schweizer-Reneke-juffrou is die slagoffer van ’n boendoehof wat sonder reëls haar in die openbaar skuldig bevind het. Geen regsreëls is gevolg nie. Daar is nooit na die ander kant geluister nie,” sê Hermann.

Hy sê diegene wat die rasseherrie by die laerskool ontketen en verpolitiseer het, is “ ’n klomp opportuniste wat bereid was om ’n onskuldige juffrou en kinders in die politieke kanonloop te gooi”.

Hermann sê Lesufi se opmerkings is bloot die voortsetting van die “boendoehof-aktiwiteite in Schweizer-Reneke”.

Volgens Hermann stel Lesufi nie daarin belang om na die ander kant van die saak te luister nie.

“Hy moet liewer sy mond hou oor ’n saak wat niks met hom te doen het nie en waarvan hy niks weet nie. Solidariteit gaan voluit voort om die stuk onreg wat hier plaasgevind het, reg te stel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.