Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Solidariteit se Kanton-plan vir onderwys

Solidariteit se eerste kapitaalprojek vir sy beplande genoteerde maatskappy is ’n kampus vir Sol-Tech langs die Waterkloof-lugmagbasis in die suide van Pretoria.

’n Kunstenaarsvoorstelling van die nuwe Sol-Tech-kampus.

Die vakbond het die afgelope week ’n plan bekend gemaak om in ’n omvattende alternatiewe skoolstelsel, naskoolse opleidingsgeriewe en beroepsondersteuning in Afrikaans te belê. Hulle het ’n begroting van R4,5 miljard vir die volgende vyf jaar, maar groot dele hiervan moet nog ingesamel word.

Die plan is om ’n eiendomsbeleggingsmaatskappy wat hulle onlangs gestig het, Kanton Beleggings, in die nabye toekoms te noteer om só kapitaal vanaf aandeelhouers te bekom.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dié maatskappy sal nuwe eiendom bou of bestaande geriewe koop en opknap en dit dan aan instansies soos Afrikaanse skole, universiteite of opleidingskolleges verhuur.

Een van die eerste kapitaalprojekte is ’n nuwe kampus vergelykbaar met die beste ter wêreld vir Sol-Tech. Die stuk grond langs die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria is lank terug gekoop en grondwerk kan al einde vanjaar begin. Die ontwerp is gedoen en volgens Hermann behoort die kampus sy eerste studente in 2021 te ontvang. Dié ontwikkeling sal sowat R200 miljoen kos. Koshuise wat later gebou sal word, sal sowat R100 miljoen kos, maar daar is nou eers begin met die soneringsaansoeke.

Daar gaan ’n volledige Afrikaanse wêreldklas- private opleidingspypleiding wees.

Nog ’n groot kapitaalprojek van sowat R1,3 miljard om die tersiêre opleidingsinstansie Akademia tot ’n volwaardige residensiële universiteit met koshuise en sportvelde uit te brei, is in die vooruitsig.

Die universiteit sal plek hê vir sowat 6 000 studente en koshuisverblyf vir 2 000, sê Hermann. Verder in die toekoms kan ’n volledige, alternatiewe Afrikaanse skoolstelsel deur die Skole-ondersteuningsentrum, wat ondersteuning aan openbare skole bied, ontwikkel word.

“Daar gaan dus ’n volledige Afrikaanse wêreldklas- private opleidingspypleiding gebied word,” sê Hermann.

Beleggers sal ’n “gesonde opbrengs” in geldwaarde én kulturele dividende ontvang, sê hy.

Die private onderwysmark in Suid-Afrika floreer, met maatskappye soos Curro, Stadio en Advtech wat almal op die JSE genoteer is, maar in onlangse jare nie massiewe winste kon toon nie.

Sol-Tech en Akademia bly egter albei organisasies sonder winsbejag en private aandeelhouers.

Hermann sê Sol-Tech se klasgeld is ongeveer R100 000 oor drie jaar vir ’n ambag.

Om deur Akademia vir ’n graad met afstandonderrig te studeer, kos tussen R32 500 en R38 500 per jaar.

Henk Schalekamp, voorsitter van die Solidariteit Beleggingsmaatskappy wat aan die hoof van Kanton gaan staan, sê Kanton sal op eiendom fokus. Kanton sal geboue aan Sol-Tech en Akademia verskaf, maar die maatskappy se primêre fokus is eiendom en nie onderwys nie. Schalekamp sê hoewel baie eiendom in die portefeulje met onderrig verband hou, kan dit later ook ouetehuise, klinieke en gemeenskapsentrums insluit.

Die naam Kanton is afkomstig van die Switserse federale stelsel van kantons, vergelykbaar met provinsies wat meer outonomie het. “Hoewel dit deel is van ’n groter geheel, is ’n kanton uniek in wat hy is.”

Volgens Schalekamp word notering in die volgende 12 tot 24 maande in die vooruitsig gestel en dit sal voortydig wees om nou al besonderhede oor ’n beplande struktuur te gee.

Die Kanton-plan is deel van Solidariteit se NetWerk-projek, wat ’n geïntegreerde plan is om skoolopleiding, beroepsvoorbereiding en -leiding in Afrikaans te ondersteun.

Meer oor:  Dirk Hermann
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.