Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Solidariteit wil miljarde in Afrikaanse onderwys belê

Hoewel Solidariteit nou miljarde rande in private Afrikaanse onderwys wil belê, gaan dié beweging steeds nie ophou veg vir Afrikaans as onderrigtaal in openbare skole nie, sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Mary-Ann Palmer

Solidariteit het Donderdag in Pretoria bekend gemaak hy gaan oor die volgende vyf jaar R4,5 miljard belê om ’n netwerk op te stel wat help met uitdagings waardeur Afrikaanssprekendes in die gesig gestaar word. Meer as die helfte van dié geld sal bestee word om Afrikaanse skole en tersiêre instansies te ontwikkel.

Die grootste projek behels die uitbou van Solidariteit se tersiêre instansie, Akademia, tot ’n volwaardige universiteit met sportvelde, koshuise en ’n studentelewe. Hy wil sy kollege, Sol-Tech, op soortgelyke wyse ontwikkel.

Hermann sê Solidariteit het nie vertroue in die staat om te verseker dat Afrikaanse onderwys sal bly voortbestaan nie. Hy glo egter nie Afrikaanse skole sal gou verdwyn nie.

“Dit vat nogtans jare om ’n onderwysstelsel van so ’n groot omvang op die been te bring. Ons gaan daarmee begin omdat ons nie later met die broek op die knieë gevang wil word nie.

“Ons sal vir so lank moontlik vir Afrikaans in openbare skole veg, waarvan baie wêreldklas is,” sê Hermann.

Hy beskou die Noordwes-Universiteit (NWU) as die laaste openbare universiteit wat ’n voldoende aanbod in Afrikaans het. Volgens hom is daar egter geen waarborg dat dié universiteit oor tien jaar steeds in die Afrikaanse vraag sal voldoen nie.

Johan Blaauw, hoof van die NWU se taaldirektoraat, sê vir eers is daar geen rede om te dink die toekoms van Afrikaans en moedertaalonderrig by die instansie is in gedrang nie. Volgens hom is daar geen druk van die regering se kant af dat die NWU moet verengels nie.

“Ons fokus eerder daarop om meer tale by te voeg, as wat ons daarop fokus om dit weg te vat,” sê Blaauw.

Solidariteit se projekte sal befonds word deur beleggers wat deur middel van Solidariteit se eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, in groot kapitaalprojekte, onder meer die uitbou van Akademia, belê.

Ons fokus eerder daarop om meer tale by te voeg, as wat ons daarop fokus om dit weg te vat.
Johan Blaauw, hoof van die NWU se taaldirektoraat

Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), verwelkom Solidariteit se planne omdat dit aan Afrikaanse ouers ’n bykomende opsie gee. Dit gaan egter waarskynlik duurder wees en baie ouers sal dit nie kan bekostig nie.

Hy voorspel as Afrikaanse openbare skole enigsins verdwyn, sal dit eers oor dekades gebeur.

“Ons moet onthou dat die grootste getal Afrikaanssprekendes nie wit is nie. Om geloofwaardigheid in die Suid-Afrikaanse konteks te behou sal Solidariteit nie ’n wit onderwysstelsel kan skep nie,” waarsku Colditz.

Hermann sê al Solidariteit se planne is inklusief Afrikaans en binne die raamwerk van die Grondwet.

Hy gee toe dat baie Afrikaanssprekende verbruikers “dubbele belasting” betaal omdat sommige dienste wat deur die staat gelewer moet word, geprivatiseer word.

“Daar is egter nie ’n alternatief nie. Indien die staat nie sy verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse gemeenskap nakom nie, en die Afrikaanse gemeenskap neem self verantwoordelikheid, kan die gemeenskap nie van isolasie beskuldig word nie,” sê Hermann.

Meer oor:  Solidariteit  |  Dr. Dirk Hermann  |  Pretoria  |  Afrikaans  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.