Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Overvaal was rég

In ’n groot nederlaag vir Panyaza Lesufi, omstrede Gautengse LUR vir onderwys, mag sy departement nie appelleer teen die hofuitspraak dat hy nie bykomende Engelse leerlinge in die Hoërskool Overvaal in Vereeniging mag plaas nie.

Die konstitusionele hof het Woensdag die departement se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys.

“Daar is geen vooruitsig op sukses nie weens die feit dat die Gautengse onderwysdepartement nie voldoende oorweging gegee het aan die beskikbaarheid van plek by die Phoenix High School en die General Smuts High School nie.

“Albei skole bied onderrig in Engels in dieselfde voedingsgebied as die Hoërskool Overvaal,” lui die konstitusionele hof se beslissing.

Begin vanjaar was daar grootskaalse betogings by die Hoërskool Overvaal nadat die hooggeregshof in Pretoria in Januarie bevind het daar is nie plek vir die 55 bykomende Engelssprekende leerlinge wat die departement daar wou plaas nie. Die skool is ’n enkelmedium- Afrikaanse skool.

Die skoolbeheerliggaam het in Desember 2017 ’n dringende hofbevel gevra om die departement te keer om die bykomende leerlinge te plaas.

Die departement het die aansoek teengestaan en aangevoer die skool sluit die leerlinge op grond van taal uit.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).Foto: Argief

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), verwelkom die uitspraak. Fedsas het Overvaal se beheerliggaam geadviseer.

“Dit is betreurenswaardig dat ’n saak wat gegaan het oor kapasiteit ’n taal- en raskwessie geword het.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die uitspraak sal daartoe lei dat talle skole wat in sekere gebiede onderbenut is en geïgnoreer word, nou benut sal moet word.

Die SAOU glo daar is nou ’n geleentheid om die voorgestelde wysigings aan die Skolewet, met spesifieke verwysing na die reg van ’n beheerliggaam om taalbeleid te kan bepaal, met groter nugterheid te beredeneer en ’n rasionele “skikking” te kan bereik.

Dit is ook belangrik dat die uitspraak met verantwoordelikheid benader word en dat skole se onderwysplig teenoor leerlinge en taal in die onderwys met sensitiwiteit bejeën word. Taal moenie misbruik word vir die uitsluiting van leerlinge en hul reg op toegang tot onderwys nie.

Prof. Elda de Waal, onderwysregkenner aan die Noordwes-Universiteit se Edu-H-Right-navorsingseenheid. Foto: Felix Dlangamandla

Prof. Elda de Waal, onderwysregkenner aan die Noordwes-Universiteit se Edu-H-Right-navorsingseenheid, sê die beslissing is verblydend omdat dit in ’n mate bevestig dat Afrikaanse skole “baie deeglik te werk gaan met hul toelatingsbeleid en mense nie willens en wetens wegwys nie”.

“Dit maak my bekommerd dat dit lyk asof Panyaza Lesufi se politieke aspirasies ’n uitwerking gehad het op die toewyding wat ek van die LUR verwag.”

Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die uitspraak ’n oorwinning “vir alle openbare skole wat Afrikaans as onderrigtaal aanbied, asook openbare skole wat kapasiteitsuitdagings in die toelatingstyd ervaar”.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê hulle bestudeer die beslissing nog.  – Hannes Kruger, Eugenie Gregan en Beeld-redaksie

Hofoorwinning net blywend mits...
Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se groot nederlaag in die konstitusionele hof se Overvaal-beslissing gister is sy verdiende loon. Hy is uit verskeie oorde, wat aanvanklik Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, ingesluit het, afgeraai om voort te gaan met sy appèl. Hy het egter voortgestorm.
Die oorwinning vir rasionele denke en gehalte in onderwys gaan nie die papier werd wees waarop dit staan as veral die Afrikaanse gemeenskap dit as ’n mandaat vertolk om in isolasie vas te val nie. Afrikaans se toekomstige voortbestaan en ja, selfs groei as onderwystaal, moet nou inklusief bevorder word as deel van die groter oplossing van die land se onderwysprobleme. – Barnard Beukman, redakteur: Beeld 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.