Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Stappe kom oor skool-verdrinking – MRK

Die Menseregtekommissie (MRK) sê hy gaan regstappe doen teen die partye wat verantwoordelik is vir die dood van Enock Mpianzi (13), ’n leerling aan die Parktown Boys’ High School in Johannesburg.

Polisieduikers het Vrydag Enock Mpianzi se lyk by die Krokodilrivier gekry. Foto: Felix Dlangamandla

Buang Jones, ’n woordvoerder van die MRK, sê die kommissie sal Dinsdag besoek aflê by die Nyati-oord buite Brits in Noordwes, waar Enock se lyk Vrydag langs die Krokodilrivier gevind is.

Enock was saam met die res van die skool se gr. 8-groep by die oord vir hul oriënteringskamp waar hy Woensdag vermoedelik verdrink het. Tot 50 kinders moes glo uit die rivier gered word tydens ’n vlotvaart. Enock se afwesigheid is eers 24 uur later opgemerk.

‘Ontgroeningspraktyke moet hersien word’

“As die bewaarder van menseregte, is dit ons grondwetlike verpligting om in te gryp waar dié regte geskend is,” sê Jones.

Hy sê die MRK staan Enock se familie by om die “skuldige partye”, wat volgens hom die departement van basiese onderrig en die skool insluit, vas te vat.

“Skole in die algemeen se ontgroeningspraktyke moet hersien word en die departement moet dit oorweeg om riglyne hiervoor te ontwikkel,” sê Jones.

Bewerings van onregmatige ontgroeningspraktyke by soortgelyke kampe van Parktown Boys’ High School het intussen aan die lig gekom en ouers sê hulle pleit al sedert 2018 dat met die kampe weggedoen word.

’n Familie in rou

Enock se familie het Maandag gesê hulle is steeds geskok oor die voorval.

“Ek bloei van die binnekant af,” sê sy ma, Anto Mpianzi.

Sy was te moeg om verder met Netwerk24 te praat en het die foon aan Sebastien Kobie Moka, haar oom en die familie se woordvoerder, oorhandig.

“Ons hoop vir die toekoms is weggeneem deur die hande van mense wat hulself opvoeders noem. Daar is permanente letsels in ons almal se harte,” sê Moka.

’n Ma van ander leerlinge aan die skool het intussen gesê briewe is sedert 2018 aan Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gestuur om die kampe stop te sit.

Sy sê seuns het aan haar vertel hul veiligheid word op die kampe in die gedrang gebring “om hul manlikheid te bewys”.

Tydens die voorval wat na bewering tot Enock se dood gelei het, is die seuns in groepe verdeel.

“Hulle is toe aangesê om elkeen ’n vlot uit stukke bamboes en hul skoenveters te maak. ’n Opblaasband is aan elke vlot vasgemaak,” het ’n seun glo aan haar gesê.

“Die seuns het na bewering gevra of hulle reddingsbaadjies moet dra, maar daar is glo aan hulle gesê die water is vlak genoeg. Volgens die seuns was daar geen onderwysers of matriekseuns (die leiers wat saam met hulle op die kamp was) teenwoordig nie. Die fasiliteerders het hulle glo vir ’n rukkie bygestaan, maar het toe ook verdwyn,” sê sy.

Die seuns is toe die rivier in, maar volgens wat hulle aan haar vertel het, het die water onstuimig geraak toe hulle om die draai van die rivier kom. “Hulle sê die seuns het in die water gespartel en een het glo die toesighouers gaan roep. Matriekseuns en fasiliteerders het ingeduik om van die seuns te red. Sowat 50 seuns moes gered word,” beweer sy.

Die seuns het glo ná die voorval meer as een keer vir die onderwysers gesê Enock is weg, maar is na bewering geïgnoreer.

Die bewerings is in twiets deur die Twitter-gebruiker @Zoe99539253 herhaal.

Minister reageer

Angie Motshekga, minister van basiese onderrig, het intussen in ’n verklaring gesê sy het ’n span van die skoleveiligheidseenheid na die Gautengse onderwysdepartement gestuur om met die ondersoek te help.

“Die span sal ook help om te verseker dat die families wat geraak word in hierdie moeilike tye ondersteun word,” sê Motshekga.

Die departement het Maandag gesê hulle sal wag vir die uitslag van die ondersoek voordat hulle enige ander vrae van die media beantwoord.

Steve Mabona, Lesufi se woordvoerder, wou Maandag ook nie kommentaar lewer op die bewerings dat Lesufi reeds in 2018 gevra is om die kampe stop te sit nie. Volgens hom wag hulle ook op die uitslae van die ondersoek.

‘Geen vrywaring’

Intussen het Richard Spoor, bekende menseregteprokureur, verduidelik dat die vrywaringsvorms wat die ouers onderteken het, in ’n hof ongeldig is.

“Dit gaan daaroor of die ouers verstaan het watter risiko’s daar was toe hulle die vorms onderteken het, en of daar nalatigheid was,” sê Spoor. Hy sê indien reddingsbaadjies ontbreek het toe die seuns by die rivier was of as daar nie behoorlike toesig was nie, is die vorms ongeldig.

“Dit gaan oor ’n redelike verwagting en ’n redelike mens sou nie verwag dat ’n kind ’n rivier met ’n selfgeboude vlot sou aandurf nie,” sê Spoor.

* Enock se lyk is volgens Moka nog by die staatslykhuis waar ’n lykskouing gedoen word. ’n Datum vir sy begrafnis is nog nie bepaal nie.

Meer oor:  Parktown Boys’ High School  |  Menseregtekommissie (Mrk)  |  Brits  |  Noordwes  |  Johannesburg  |  Seun  |  Verdrinking  |  Regstappe  |  Lyk  |  Verdrink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.