Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Straatprotes nou nodig om Afrikaans te red’

Al wat oorbly, is protes. Dit is tyd dat die mense strate toe gaan.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, ’n belangegroep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, het Sondag so gereageer nadat die Universiteit Stellenbosch (US) die eerste weergawe van sy nuwe hersiende taalbeleid Saterdag bekendgestel het.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk. Foto: Verskaf

Van Wyk sê protesoptrede is nodig om druk uit te oefen op die bestuur van die US oor sy taalbeleid. “Die tyd het aangebreek dat ons Afrikaanssprekendes dit elkeen op onsself neem om ons taal te red.”

Volgens Van Wyk gaan dit nie net oor die voortbestaan van Afrikaans by die US nie, dit gaan oor die gebruik van Afrikaans in skole, in howe en in die staatsdiens. “Ons moet die gebruik van Afrikaans terugkry sodat mense in die taal van hul keuse behandel word.”

Hy sê die DAK Netwerk se standpunt is dat dit nie gaan oor die term Afrikaner nie. “Ek is ’n bruin Afrikaanse man. In die verlede wanneer iemand praat van Afrikaans is daar outomaties gedink aan die term Afrikaner. Die grootste aantal mense wat Afrikaans praat, is bruin mense,” sê Van Wyk.

Hy sê dit is tyd dat bruin mense ’n posisie inneem ten opsigte van die mishandeling en verkoop van hul menseregte.

“Afrikaans word altyd gesien as die taal van die onderdrukker. My ma en ek was nooit onderdrukkers nie. Die taal is nie die onderdrukker nie. Die taal is verpolitiseer,” volgens Van Wyk.

Hy sê Afrikaans moet gedepolitiseer word, sodat dit weer gesien kan word as die taal van die mense.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake. Foto: Verskaf

Op sy beurt het die organisasie AfriForum in ’n verklaring by monde van Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, gesê die US se blatante miskenning van Afrikaanse studente se taalregte is tipies van vele instellings in die land wat ’n pro-Engelse agenda ten koste van tien van die land se amptelike tale dryf.

“Ten spyte van oorweldigende nasionale en internasionale bewyse van die akademiese, sielkundige en ekonomiese voordele van moedertaalonderrig, word Engelse onderrig aan studente as kortpad na sukses opgedis en bewys instellings soos die US net lippetaal aan veeltaligheid,” sê Bailey.

Oor die bekendstelling van die US se konsep vir ’n hersiende taalbeleid sê Bailey die ervaring by ander instellings die afgelope dekade het gewys dat openbare prosesse van raadpleging van min betekenis is.

“Die beleid wat vooraf gesirkuleer is of uitgelek het, is telkens aanvaar, ongeag wat die insette van die belanghebbendes behels het. Sodoende het Afrikaans as tersiêre onderrigmedium nou bykans uit openbare instellings verdwyn en word die kans dat ander inheemse tale ten volle tot hierdie vlak ontwikkel gaan word, steeds minder,” sê Bailey.

Meer oor:  Dak Netwerk  |  Danie Van Wyk  |  Red  |  Us-Taalbeleid  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.