Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Strand: Transgender seun verbied om seunsuniform te dra

’n Ma van die Strand in die Wes-Kaap is raadop en ontsteld omdat haar 16-jarige transgender seun se skool nie toelaat dat hy ’n seunsuniform dra nie.

Sy sê sy en haar seun, Cole*, het die Hoërskool Strand se skoolhoof, Danie Malan, aan die begin van die jaar genader nadat Cole homself as transgender geïdentifiseer het.

“Cole het sy hare toe reeds kort gesny en die hoof het hom eers nie herken nie,” sê die ma.

Hulle het gevra dat hy die seunsuniform mag dra, dat hy die betrokke toiletgeriewe mag gebruik en dat onderwysers hom voortaan as Cole sal aanspreek sodat die oorgang makliker kan wees en leerlinge kan aanvaar dat hy ’n nuwe leerling is wat na die skool gekom het.

Cole mag nou die onderwyseresse se toilet by ontvangs gebruik.

Sy ma sukkel egter steeds om toestemming te kry dat hy die seunsuniform mag dra. Die skool hou voet by stuk dat dit teen sy beleid is.

Die skool se beheerliggaam het oor die saak vergader en laat toe dat Cole sy eie saamgestelde uniform – ’n groen skoolbroek, das en baadjie – dra.

Die groen skoolbroek is deel van die meisiesuniform.

Cole se ma sê die uniform laat hom uitstaan en maak van hom ’n groter teiken vir boelies.

Die situasie dra daartoe by dat Cole depressief geword het en hy was al selfs in ’n geestesgesondheidskliniek opgeneem.

Cole is tans by die huis nadat hy wéér twee weke gelede uit ’n kliniek ontslaan is.

’n Mens sal dink in die 21ste eeu sal mense nie meer probleme hê met transgender mense nie. Die skool is besig om transfobies op te tree.

“Ons het Cole al by tye met die seunsuniform skool toe gestuur, maar dan word hy huis toe gestuur,” sê die ma. “Ek verstaan nie hoekom die skool nie die vergunning kan maak nie.”

Die ma meen die skool doen nie genoeg om haar seun te akkommodeer nie en dat hulle “die probleem onder die mat invee”.

“Hulle benader Cole heeltemal anders omdat hulle nie weet hoe om hom te hanteer nie,” sê sy. “Die hele situasie het nou al so handuit geruk en ek is hartseer en gefrustreerd.”

Cole sê hy ervaar verskriklike angs wanneer hy by die skool is.

“ ’n Mens sal dink in die 21ste eeu sal mense nie meer probleme met transgender mense hê nie,” sê hy. “Die skool is besig om transfobies op te tree.”

Hy het nie verwag dat die reg wat hy vra om ’n sekere kledingstuk te dra so ’n groot probleem sou raak nie.

“Daar is ander leerlinge in ons skool wat hulself ook as transgender identifiseer en ander geslagsuniforms wil dra, maar hulle is te bang om uit te kom en daaroor te praat,” sê Cole.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê hulle is bewus van die kwessie en is in gesprek met die skool daaroor.

Ingevolge die Grondwet “respekteer die WKOD die regte van almal, insluitend dié van die LGBTQI+-gemeenskap”.

Sy sê die WKOD is besig om sy riglyne oor genderidentiteit en seksuele oriëntasie in openbare skole af te handel.

“Dit is grensverskuiwend, want voorheen was daar geen riglyne of beleid in die land wat skole moes volg om byvoorbeeld transgender leerlinge te ondersteun nie,” sê Hammond.

Netwerk24 het die skool om kommentaar gevra, maar geen terugvoering gekry nie.

*Die transgender seun se naam is verander om hom te beskerm.

Meer oor:  Bronagh Hammond  |  Strand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.