Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Stryd om Grey-hoof: Slagordes opgestel

Die slagordes is opgestel in die onmin oor die hoof van Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein.

In hofstukke in die hooggeregshof in Bloemfontein wat Woensdagmiddag uitgereik is, daag die skoolhoof, Deon Scheepers, die optrede en besluit van die beheerraad van die skool uit om hom van sy sogenaamde beheerraadsverpligtinge te stroop.

Deon Scheepers

Scheepers is vroeër vandeesmaand van al dié pligte by die skool onthef en Jurie Geldenhuys, hoof van Grey-kollege Primêr, is as tydelike oorhoofse skoolbestuurder aangestel.

Scheepers bly aan as skoolhoof, maar sy aanspreeklikheid is net vir die akademie by die skool, luidens die beheerraad se besluit.

Benewens die hofaansoek wat waarskynlik vroeg aanstaande maand aangehoor sal word, is prokureursbriewe vandeesweek oor en weer gestuur nadat Geldenhuys glo

Dinsdagoggend die personeel in die teenwoordigheid van Scheepers ingelig het dat die skool Vrydag vroeër sal sluit omdat hy die personeel wil toespreek.

Dié vergadering gaan nie meer gehou word nie en die skool sal gewone tyd sluit.

Jurie Geldenhuys

Intussen het die Vrystaatse onderwysdepartement ook ’n brief aan die beheerraad geskryf waarin hy vra dat dié liggaam afsien van sy besluit oor die inkorting van Scheepers se pligte.

Scheepers vra in sy hofstukke dat die besluite wat die beheerraad op 15 Mei ná ’n geheime stemming met ’n meerderheid van 14 teenoor drie geneem het, hersien en tersyde gestel moet word.

Ondanks herhaalde vooraf-versoeke vir inligting oor waarom die beheerraad sy pligte wou inkort, het hy onvoorbereid by die vergadering opgedaag omdat die beheerraad hom nie behoorlik geantwoord het nie, sê hy.

Op die vergadering is hy gepeper met vrae en nie behoorlik kans gegee om te antwoord nie.

Dit was oor kwessies waaroor hy sou kon geantwoord het as hy vooraf geweet het wat op die vergadering op hom sou wag, sê hy.

Ná die stemmery is hy ingelig dat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en sy verteenwoordiger sou vergader om ’n proses te bepaal om die verhouding tussen die partye in belang van Grey te bestuur.

Voorts sou Geldenhuys as skoolbestuurder aangestel word om die sogenaamde beheerraadspligte te hanteer.

Hy wat Scheepers is, sou as skoolhoof net vir die akademie verantwoordelik wees.

Scheepers sê hy is ’n oud-Grey wat in 1984 aan dié skool gematrikuleer het. Hy het ook ses jaar lank aan die skool skoolgehou.

Hy was in ’n senior uitvoerende pos aan die hoogaangeskrewe Hilton College in KwaZulu-Natal toe hy deur die beheerraad van Grey genader is om vir sy huidige pos aansoek te doen.

Hy is op 1 Januarie 2013 as skoolhoof by Grey aangestel.

Adv. Kemp J. Kemp, bygestaan deur adv. Willem van Aswegen, sal in opdrag van Hannes Peyper van Peyper-prokureurs die hofaansoek namens Scheepers bring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.