Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Student sluk haar trots en sien hoe drome waar word

Sy was die kind met die afgeloopte skoene wat saans sonder kos moes gaan slaap, omdat geld maar skaars was.

Mumtaaz ‘Taz’ Emeran (27), ’n mediese student van die Bo-Kaap in Kaapstad, ken swaarkry en het in moeilike omstandighede haar doktersgraad behaal met ’n ma wat haar tot die einde ondersteun het.

Emeran was op die punt om op te gee toe sy hoor dat sy nie kan gradueer nie weens skuld van R410 000 aan die universiteit.

Mumtaaz ‘Taz’ Emeran gaan vin 2021 by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal begin werk. Foto: Verskaf

Uit desperaatheid het sy ’n video op haar Instagram geplaas waar sy Suid-Afrikaners gevra het om haar te help, sodat sy vandeesweek kan gradueer.

Tot haar verbasing het vreemdelinge en bekendes, soos Shudufhadzo Musida, vanjaar se Mej. Suid-Afrika, en die TV-aanbieder Roxy Burger, haar video gedeel en haar drome het binne 24 uur waar geword.

Emeran se pad was moeilik en haar ma, Faheema Isaacs, was deurentyd haar rots.

Sy was die eerste in haar familie wat ná skool verder gaan studeer het en op universiteit was.

Toe Emeran hoërskool toe is, was sy omring deur jong mense wat opgegee het en dit het haar baie negatief gemaak.

Die kinders saam met wie sy grootgeword het, se drome het geëindig óf in swangerskap óf armoede. Toe sy vir hulle sê sy medies gaan swot, het hulle haar uitgelag.

Emeran het ook op 15 jaar swanger geraak en haar seun, Dhayaan Emeran (12), is destyds twee maande te vroeg gebore. Dit het haar hele lewe verander en sy het daar en dan besluit om iets van haar lewe te maak.

Emeran se ma het haar werk gelos om na Dhayaan te kyk sodat sy medies aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) kon gaan swot.

Vir die eerste drie jaar moes Emeran werk om haar eie studie te betaal.

Emeran se gesin. Van links is Sulaiman Isaacs (stiefpa), Yaaseen Isaacs (broer), Faheema Isaacs (ma). Voor is Emeran en haar seun, Dhayaan. Foto: Verskaf

“Ek het soms ’n hele jaar afgevat om te werk om vorige jare se skuld eers af te betaal en dan weer teruggegaan.”

Eers in haar vierde jaar het Emeran ’n borg gekry, maar weens korrupsie het dit ook deur die mat geval.

Teen Junie vanjaar het die borg haar ingelig dat hulle nie haar rekening sal kan betaal nie.

Toe Emeran die e-pos van Wits kry dat sy weens haar R410 000 skuld nie sal gradueer nie, was sy verpletter.

Op 8 Desember het sy die video op Instagram geplaas waar sy mense gevra het om haar te help om haar skuld te betaal.

Sy het vir die eerste keer in haar lewe gepleit en vir mense vertel dat sy van ’n plek kom waar “drome nie waar word nie”.

Tot haar verbasing het mense gehelp.

“Die video was moeilik vir my, want ek is nie gewoond daaraan om bakhand te staan nie,” sê Emeran.

“Maar as jy nie vra nie, is die antwoord altyd nee,” het iemand in die kommentaar onder haar video gesê.

Dit het Emeran hard getref.

Emeran en Dhayaan, haar seun, wat sy op 15 gehad het. Foto: Verskaf

’n Dag later op 9 Desember, toe haar skuld betaal moes word, het sy nog nie die volle bedrag gehad nie en uit die bloute het Standard Bank haar gekontak en aangebied om ’n lening toe te staan om die res van die skuld te dek.

Goeie Samaritane van oor die land heen het toe weer ingespring om ook haar lening by die bank vir haar af te betaal.

“Ek het al gesien hoe goedhartig Suid-Afrika kan wees, maar ek nie geweet hulle sal vir my, ’n totale vreemdeling, help nie.”

Emeran se gesin was in hul noppies toe hulle hoor sy sal kan gradueer.

Haar ouma het gehuil, haar ma was verlig, maar dit is haar kind se reaksie wat haar die meeste geroer het.

“Ek het hom gevra: ‘Sien jy wat gebeur? Is jy nie opgewonde nie?’ Hy het net so na my gekyk en gesê: ‘Ek het geweet Mammie gaan dit maak’.”

Emeran gradueer Donderdag.

Sy sê sy hoop haar storie inspireer ander, veral mense van kleur, om te besef as jy jou kant bring, sal geld nie in die pad van jou drome staan nie.

“Maak net oop jou mond, sluk jou trots en vra.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.