Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Studente se toekoms in die weegskaal
Studente betoog voor Jameson-saal by die Universiteit van Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die toekoms van duisende huidige en voornemende studente lyk onseker met ’n oplossing wat onwaarskynlik vandeesweek vir die krisis in hoër onderwys gevind sal word.

Kenners en universiteitsowerhede het die naweek gewaarsku dat nóg ’n week van kampussluitings groter ekonomiese en maatskaplike implikasies kan hê.

As huidige studente nie die jaar kan voltooi nie, sal dit beteken universiteite kan nie volgende jaar nuwe studente inneem nie, wat ook met ’n verlies aan inkomste sal gepaardgaan. Dit kan om die beurt tot verdere personeelafleggings lei. Die onderwys- en gesondheidsektore, wat op graduandi staatmaak, sal ook geraak word.

Theo Venter, ’n politieke ontleder, sê hy glo ’n uitkoms sal nie moontlik wees tensy die temperatuur van die situasie afgekoel word nie. Hy meen koppe sal moet rol sodat samesprekings met studente op ’n vars noot kan begin.

“Ek is bevrees vir ’n onmiddellike uitkoms is dit nodig dat een of twee koppe rol en prof. Adam Habib, Wits-rektor, en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, is die mees waarskynlike kandidate,” sê hy.

“Die groot vraag is hoe kalmeer ons die situasie. Wat ons tans doen, is om die polisie in te stuur en dit werk duidelik nie. Habib hanteer nie die situasie goed nie en wil vir die studente voorskryf eerder as om na hulle te luister. Daar is ook ’n totale gebrek aan leierskap van die regering.”

Die Universiteit van Kaapstad het Vrydag sy klasse vir ’n vierde week afgestel en ’n taakspan aangestel om te kyk hoe die akademiese jaar beredder kan word. Dit kan beteken dat studente op naweke en in die vakansie sal moet klasloop en toetse skryf.

“Nóg die regering nóg die universiteit het besluit oor gratis onderrig.

Klasse is ook onbepaald by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie opgeskort, waar die rektor, dr. Prins Nevhutalu, Vrydag vir sy lewe van ’n groep oproerige studente moes vlug.

Die Universiteit van Wes-Kaapland se klasse is vir Maandag afgestel, asook die Universiteit van Pretoria en die Nelson Mandela-Universiteit.

Die Universiteit Stellenbosch se klasse en toetse kon tot dusver ongestoord voortgaan. Wits se klasse gaan Maandag voort, ondanks studente se voornemens om kampus te ontwrig.

Adv. Dali Mpofu, wat as bemiddelaar by Wits optree, het vandeesweek aan City Press gesê hulle oorweeg dit om die kwessie van gratis onderwys in die konstitusionele hof voor te hou om die saak na ’n kant toe te dryf.

“ ’n Aantal argumente kan gemaak word rondom ongelykhede wat as gevolg van Bantoe-onderwys teweeg gebring is, en dat die regering die ongelykhede van die verlede moet prioritiseer,” sê hy.

Prof. Marinus Wiechers, ’n grondwetkenner, meen egter dit is te vroeg om ’n regsuitspraak te oorweeg, berig Romantha Botha.

“Nóg die regering nóg die universiteit het besluit oor gratis onderrig. Die grondwethof sal beslis nie uitspraak lewer oor ’n saak wat nog in die lug hang nie,” sê hy. Hy het bygevoeg dit is belangrik om te onthou dat hoër onderrig nie ’n reg is nie, maar ’n voorreg.

Meer oor:  Theo Venter  |  Feesmustfall  |  Kampusse  |  Universiteite  |  Oproer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.