Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Studente wag al 3 maande om te hoor of hulle graad gevang het

’n Groep finalejaar-onderwysstudente van 2020 aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) weet steeds nie amptelik of hulle hul graad verwerf het nie, omdat hulle meer as drie maande ná die inhandiging van ’n finale projek in ’n module, steeds nie punte daarvoor ontvang het nie.

Hulle sukkel dus om vir werk aansoek te doen of vir hul honneurs te registreer, aangesien hulle nie kan bewys dat hulle geslaag het nie, sê Tiaan Olivier, een van die geraakte studente.

Olivier sê hulle is ’n groep van sowat agt studente, na sy kennis, wat steeds nie hul modulepunt vir LSPT4705 (sportonderrig) ontvang het nie, omdat die punt van die module se eindprojek steeds uitstaande is. Die projek is op 8 November ingedien en tel 30% van die module.

“Die oorgrote meerderheid van die studente het in Desember hul punte gekry, maar ’n klompie van ons het geen punte gekry nie.”

Die hoofingang na die Universiteit van die Vrystaat se Bloemfontein-kampus. Foto: Argief

Die betrokke dosent het die studente glo middel Desember ingelig dat sy tot op 1 Februarie met verlof sal wees.

“Ons het toe nou e-posse aan die lektor gestuur om te sê ons vind hierdie situasie natuurlik onaanvaarbaar. Dat sekere studente nou reeds hul uitslae het en ons nou ewe skielik meer as ’n maand en ’n half moet wag om ons uitslae te kry, omdat sy besluit het om op verlof te gaan voordat haar werk afgehandel is.”

Die studente het ook by die fakulteit opvoedkunde ’n klag teen die dosent ingedien.

“Die lektor het later na ons teruggekom om te sê sy sal iemand by die fakulteit kontak om die goed te merk en die punte reg te stel.”

Daar is intussen weer e-posse aan die dosent en fakulteit oor die situasie gerig.

“Wat vir ons baie opvallend is, sover ons kan agterkom, is dit net die studente wat hul projekte in Afrikaans ingedien het wat geaffekteer word,” sê Olivier.

Lacea Loader, UV-woordvoerder, het by navraag gesê die bestuur is bewus van die studente se probleem om punte vir die projek te bekom.

Die bestuur vra om verskoning vir die ongerief en die fakulteit opvoedkunde sal dringend aan die saak aandag skenk, sê sy.

“Die universiteit se gehalteversekeringsprosesse bepaal dat punte by die eksamenafdeling ingedien moet word en dan in groepe uitgereik moet word vir die toekenning van grade.”

Loader sê egter die taal waarin die projek ingedien is, het niks te make met die feit dat die punte nog nie ontvang is nie.

“Studente wat die module neem, word in terme van taal tegemoetgekom en kry die geleentheid om hul opdragte in Afrikaans in te dien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.