Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Studente wag (en wag en wag) vir Blade se beloofde skootrekenaars

Die minister van hoër onderwys het verlede jaar vir arm studente 730 000 skootrekenaars belowe sodat hulle aanlyn kan klas loop terwyl kampusse gesluit is.

Nou, amper ’n jaar later, het nog nie een student ’n rekenaar gekry nie. En kenners van die plaaslike rekenaarbedryf is skepties of al die maatskappye wat die tenders vir die lewering van die skootrekenaar gekry het, hul beloftes kán nakom gegewe die internasionale skaarste aan rekenaaronderdele.

Een van die maatskappye wat veronderstel is om skootrekenaars te lewer beskryf homself op sy webwerf as ’n eiendomsontwikkelaar. Hy sê hy gaan rekenaars verskaf wat oorsee vervaardig is onder die handelsnaam Goat, maar ’n internet-soektog na dié Goat-rekenaars lewer niks op nie.

Pinnacle moet Junie 100 000 rekenaars lewer.

Die eerste van die 730 000 beloofde skootrekenaars sou in September al in die studente se hande gewees het, het die minister, dr. Blade Nzimande, in Julie verlede jaar gesê.

‘Uiters dringend’

Destyds het Nzimande gesê die rekenaars is “uiters dringend”. Kampusse was toe al vir maande gesluit weens die Covid-19-pandemie.

Die tenderproses en die aanstelling van verskaffers vir die rekenaars was van die begin af ’n gemors.

Ingevolge die oorspronklike tender, wat in Junie geadverteer is, moes verskaffers skootrekenaars teen die einde van September lewer.

Die rekenaars moes volgens die tendervoorskrifte onder meer toegerus wees met hoëdefinisieskerms van 14 duim, ’n ingeboude 4G-modem vir koordlose breëband-internettoegang en ’n HDMI-poort sodat dit aan ’n TV-skerm of ’n projektor gekoppel kan word. Die batterylewe moes minstens vyf uur wees.

Bieërs moes verder bewys dat hulle voorkeurverskaffers van vervaardigers se skootrekenaars is indien hulle dit nie self vervaardig nie en dat hulle al vir drie jaar of langer met sukses skootrekenaars op groot skaal aan die mark gelewer het.

150 verskaffers het in Junie aansoek gedoen, maar die departement het in Julie gesê hy het nie een aanvaarbare bod ontvang het nie.

Die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) het toe in September ’n nuwe tender geadverteer vir die lewering van skootrekenaars in Januarie.

Die minimum spesifikasies vir die skootrekenaars is heelwat afgewater en daar is nie van bieërs verwag om hul vorige suksesse as rekenaarverskaffers te bewys nie.

Altesame 140 verskaffers het aansoek gedoen en die tender is uiteindelik in November toegeken aan vyf ondernemings: Pinnacle, CEOS Technologies, MLO Distinctive Solutions, die EastSide Group en die AND Group.

Die NSFAS het aan die begin van April aangekondig die eerste besending skootrekenaars sou op 18 April aan studente oorhandig word, maar dit het nooit gebeur nie.

Sibongile Mncwabe, die NSFAS se hoof van korporatiewe aangeleenthede, het in reaksie op vrae van Rapport gesê hulle het “tot op datum” nog net 170 000 rekenaars by Pinnacle bestel.

Die NSFAS verwag dat Pinnacle op 7 Junie 100 000 rekenaars sal lewer en nog 70 000 aan die einde van Junie, sê sy.

Die NSFAS het nog geen bestellings by enige van die ander verskaffers geplaas wat hy vroeër aangestel het nie.

Die AND Group is gediskwalifiseer as ’n verskaffer omdat hy nie plaaslik vervaardigde drasakke vir die skootrekenaars kan lewer nie en die ander drie het laat weet hulle kan nie die rekenaars lewer wat hulle aan die NSFAS belowe het nie, sê sy. Hulle het nou aansoek gedoen om rekenaars met ander handelsname aan die hulpskema te lewer.

Mncwabe sê hoewel dié rekenaars steeds aan die tendervereistes voldoen, moet die nasionale tesourie eers goedkeuring gee.

Kenners van die bedryf is skepties. Die East Side Group en MLO is volgens twee rekenaarhandelaars glad nie in die bedryf bekend nie. Die East Side Group word op sy webwerf beskryf as “eiendomsontwikkelaars” en MLO as ’n inligting- en kommunikasietegnologie (IKT)-onderneming in swart besit wat onder meer fokus op stelselintegrasie en netwerk-oplossings.

MLO is veronderstel om Dell-skootrekenaars te verskaf en die East Side Group sê hy sal skootrekenaars onder die handelsnaam Goat (Giants of African Technology) verskaf. Die Goat-rekenaars is glo oorsee vervaardig.

Wat is Goat?

“Niemand het nog ooit van Goat gehoor nie en daar is geen inligting op die internet oor dié handelsnaam beskikbaar nie,” sê ’n verskaffer. Hy sê daar is ’n waglys vir rekenaars en rekenaarkomponente wêreldwyd weens die groot tekort aan mikroskyfies en dat Suid-Afrika onder aan die waglys is weens sy klein vraag.

“Ek kan nie insien hoe onbekende verskaffers honderdduisende skootrekenaars in die hande gaan kry as bestaande verskaffers sukkel om voorraad te bekom nie.”

Krishan Naidoo, uitvoerende hoof van die East Side Group en die vervaardiger van Goat-rekenaars, hou egter vol sy maatskappy kan in die huidige akademiese jaar al 150 000 skootrekenaars aflewer. “Bestellings moet onmiddellik gemaak word, want daar is ’n toenemende aanvraag vir skootrekenaars en rekenaarkomponente wêreldwyd. Ons beplan om ’n plaaslike aanleg vir die montering van ons rekenaars te bou sodra ons handelsnaam in die mark gevestig is,” sê hy.

Hy sê die East Side Group het die NSFAS-kontrak bekom om hul Goat-handelsmerk plaaslik bekend te stel en later in die kleinhandel te verkoop.

Ann Kleynhans van CEOS en Tebogo Punch Mlondobozi van MLO het Rapport na die NSFAS verwys vir kommentaar omdat hulle ingevolge ’n ooreenkoms met die NSFAS nie mag uitpraat nie.

Intussen broei onmin reeds oor die Pinnacle-bestelling. Die rekenaars wat Pinnacle in Junie gaan lewer is 11-duim-skootrekenaars, wat ook bekend staan as ultrabooks, en Buthanani Thobela, sekretaris-generaal van die studenteorganisasie Sasco, sê studente sal nie rekenaars aanvaar wat kleiner is as gewone skootrekenaars nie.

Die meeste skootrekenaars se skerms is tussen 15 en 17 duim groot.

Meer oor:  Blade Nzimande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.