Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Stuur kleinste grade saam met gr. 12’s terug skool toe’

Terwyl Suid-Afrika dit oorweeg om skole te midde van die Covid-19-pandemie te heropen, meen dr. Nic Spaull van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement ekonomie dat die risiko’s vir onderwysers en ouers aansienlik minder sal wees indien die jongste kinders toegelaat word om eerste terug te keer skool toe.

Spaull het ’n beleidstuk uitgereik oor wie hy glo eerste moet teruggaan skool toe. Hy sê grade R, 1, 2 en 3 eerder as gr. 7-leerlinge moet toegelaat word om saam met gr. 12-leerlinge terug gaan.

“Die kanse dat kinders tussen nul en tien jaar oud die virus sal opdoen, hetsy by mekaar of by volwassenes aan te steek, is heelwat minder as dié van volwassenes. Selfs al het hulle die virus, dra hulle dit nie maklik oor nie en gevalle waar hulle ernstig siek word of aan Covid-19 sterf, is uiters skaars,” sê Spaull.

Dr. Nic Spaull van die Universiteit Stellenbosch se departement ekonomie.Foto: Verskaf

Hy sê dat kinders van tien jaar en jonger die grootste versorgingslas op huishoudings plaas en verhoed dat baie ouers en versorgers terugkeer na hul werk om ’n inkomste te verdien om hul gesinne te onderhou.

Tweedens is jong kinders die minste in staat tot selfgerigte tuisonderrig. Dis deels daaraan te wyte dat hulle nog nie geleer het om selfstandig te lees nie, maar ook omdat jong kinders eenvoudig meer menslike interaksie en “aktiwiteit” benodig om te leer.

Laastens neem kinders se welstand toe wanneer hulle skool toe kan gaan. Kinders ontvang maaltye by skole om hul dieet aan te vul, hulle het interaksie met kinders van dieselfde ouderdom en dit gee hul versorgers ’n blaaskans van andersins ononderbroke kinderversorging.

Dít verbeter ouers se geestesgesondheid en stel hulle in staat om te werk, te beplan en te ontspan – wat maak dat hulle beter versorgers is wanneer kinders ná skool tuiskom.

Bewyse uit lande wêreldwyd ondersteun Spaull se beleidstuk dat die kanse dat kinders Covid-19 sal opdoen, skraal is en dat hulle selde daaraan sterf.

Volgens syfers wat deur OurWorldinData.org uitgereik is, toon die Covid-19-sterftekoerse per ouderdomsgroep vir China, Italië, Spanje en Suid-Korea ’n sterftekoers van 0% vir die kategorie 0 tot 9 jaar oud en 0,3% vir dié jonger as 40 jaar oud.

“Navorsingsbevindings in alle lande blyk besonder konsekwent te wees. Kortom, kinders is minder geneig om geïnfekteer te raak, hetsy deur mekaar of deur volwassenes, en is minder geneig om die virus oor te dra; selfs al het hulle die virus,” sê Spaull.

Navorsingsbevindings in alle lande blyk besonder konsekwent te wees. Kortom, kinders is minder geneig om geïnfekteer te raak, hetsy deur mekaar of deur volwassenes, en is minder geneig om die virus oor te dra; selfs al het hulle die virus.

Gegewe die kennis oor leer-verliese in vakansietye, die gebrekkige toegang tot tegnologie en opvoedkundige middele tuis vir die armste 70% van Suid-Afrikaanse kinders en die gebrek aan voorbereiding vir afstandsonderrig vóór die inperking, is dit duidelik dat kinders nie aanhou leer in die tydperk van inperking nie.

“As ’n mens realisties is, vind daar byna geen kurrikulêre leer plaas by die armste 80% van die leerlinge in Suid-Afrika tydens die inperking nie.

“Omdat dit vir minstens die armste 80% van leerlinge prakties onmoontlik is om betekenisvolle leer van die huis af voort te sit, behoort die departement van basiese onderwys eerder te sorg dat skole veilig is vir leerlinge en onderwysers om terug te keer,” sê Spaull.

Lees die beleidstuk hier:

http://www.sun.ac.za/english/faculty/economy/Documents/Spaull%202020%20Schooling%20Policy%20Brief%20(10%20May%202020).pdf

Meer oor:  Matrieks  |  Inperking  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.