Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Swak etos’: Huis Marais kry geen eerstejaars in 2020
Huis Marais in Bosmanstraat, Stellenbosch.Foto: Google Maps

Die manskoshuis Huis Marais op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan geen eerstejaarstudente in 2020 kry nie.

“Gegewe die huidige etos by Huis Marais, is dit nie ’n omgewing wat geskik is vir nuwelinge nie,” sê dr. Choice Makhetha, nuutaangestelde hoof van studentesake, in ’n brief aan die Huis Marais-huiskomitee (HK).

“Dit sal julle, die leierskap van Huis Marais, die geleentheid gee om jul etos te vernuwe en om die nodige veranderinge aan te bring sodat julle reg kan wees vir nuwelinge in 2021,” sê Makhetha.

Dié besluit kom te midde van ongelukkigheid dat vroue van die koshuis Huis ten Bosch, wat in Augustus in ’n brand beskadig is, in ’n vleuel van Huis Marais gaan intrek.

Baie inwoners van Huis Marais was ongelukkig oor dié besluit omdat talle huidige inwoners na ander koshuise moet trek om plek te maak vir die vroue.

Die aanvanklike ooreenkoms tussen Huis Marais en die Sentrum vir Studentesake (SSG) was dat Huis Marais ongeveer die helfte minder eerstejaars sal inneem as ander jare, om plek vir die vroue te maak. Hulle sou dus sowat 30 eerstejaars gekry het in plaas van die gebruiklike sowat 60.

Maar die besluit om geen eerstejaars na Huis Marais te stuur nie, maak talle inwoners en oudinwoners bekommerd oor die toekoms van die koshuis, veral op sportgebied. Die koshuis blink die afgelope jare uit in verskeie sportsoorte, van rugby tot tafeltennis.

“Daar heers nou ’n algehele gevoel van moedeloosheid,” sê ’n oudinwoner wat voorheen in ’n leiersposisie in Huis Marais gedien het.

“Elkeen wat oor die afgelope vyf jaar in Huis Marais gewoon het, kan bevestig dat die koshuis baie verander het. Daar is ’n geleentheid vir almal om deel te neem aan aktiwiteite en dis baie meer inklusief,” sê hy.

Maar volgens Pieter Kloppers, hoof van die SSG, is die koshuis nie op ’n goeie pad nie en probeer die inwoners alles in hul vermoë om “verandering teen te staan”.

“ ’n Deel van Huis Marais wil ’n etos volg wat nie deur universiteit ondersteun kan word nie,” het Kloppers voorheen gesê.

“Die universiteit het ’n groot belang daarby dat die etos van Huis Marais omvorm word tot ’n etos waar die waardigheid van mense gerespekteer word.

“Die universiteit is in gesprek met Huis Marais oor die manier waarop nuwelingstudente deur die jaar gehanteer word, en die etos wat aan hulle oorgedra word. Daar is ook gesprekke aan die gang met Huis Marais oor respekvolle optrede teenoor vrouestudente, personeel en die vroue van personeellede,” sê Kloppers.

Die oudinwoner sê egter daar hét daadwerklike verandering plaasgevind, en meen “ ’n enkele voorval ’n paar maande gelede word gebruik om die koshuis te straf”.

Makhetha sê in haar brief daar was ’n voorval by Huis Marais waar “vloektaal oor die inwonende hoof en sy gesin gebruik is”.

Makhetha sê die koshuis het ’n geskrewe verskoning aan die inwonende hoof, dr. Johan Groenewald, en sy gesin gestuur ná die vloekery, maar volgens die universiteit was dié brief “nie ernstig genoeg nie” en “dui dit op ’n gebrek aan selfbesinning”.

Die anonieme oudinwoner hou egter vol die inwonende hoof en sy familie is nie regstreeks gevloek nie.

“Daar word beweer Johan het ’n gesprek tussen oudinwoners afgeluister en dit met sy selfoon opgeneem. Toe gebruik hy dit as bewyse dat Huis Marais ’n ‘problematiese etos’ het. Die ouens wat dit gesê het, bly nie eens meer in die koshuis nie.”

Groenewald is vir kommentaar genader, maar kon nie betyds reageer nie.

“Ons vertrou dat die Huis Marais-gemeenskap die res van hierdie jaar en 2020 sal gebruik om te groei na ’n gesonde en florerende gemeenskap wat die waardigheid van almal erken,” het die US in ’n verklaring gesê.

“Let daarop dat die plasing van Huis ten Bosch se inwoners in ’n gedeelte van Huis Marais in 2020 nie die oorsaak was van hierdie besluit nie.

“Dié deel van die koshuis, wat tydelik as Huis ten Bosch 2020 bekend sal staan, sal as ’n aparte gebou tussen Huis Marais en Dagbreek bedryf word. Die vroue sal dus nie deel vorm van die Huis Marais-gemeenskap nie.”

Meer oor:  Stellenbosch  |  Eerstejaars  |  Huis Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.