Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Swart dag vir Afrikaans

Al waar Afrikaans geduld gaan word, is in gespreksgroepies.

In ’n swart dag in die geskiedenis van die taal het twee universiteite Afrikaans Woensdag “amptelik die rug toegekeer”.

Tukkies

Afrikaans het gesneuwel by die Universiteit van Pretoria (UP). 

Die universiteitsraad het ’n suiwer Engelse universiteit van Tukkies gemaak, het Willie Spies, ’n raadslid, gesê kort nadat ’n oorweldigende meerderheid raadslede vir die nuwe taalbeleid gestem het. 

Hiervolgens is Engels voortaan nie net die vernaamste taal van onderrig nie, maar ook die enigste taal waarin eksamens geskryf sal word, lesings gehou sal word en studiemateriaal in gaan verskyn.

Willie Spies

As onderrigtaal bestaan Afrikaans nie meer nie.

“Al waar Afrikaans geduld gaan word, is in gespreksgroepies,” sê Spies.

Net drie stemme is teen die nuwe beleid uitgebring, een persoon het buite stemming gebly en die res van die sowat 30 lede was ten gunste van die verandering.

Studente wat hul huidige kursus in Afrikaans begin het, sal dit in Afrikaans kan voltooi. 

Afrikaans sal dan stelselmatig uitgefaseer word.

Die datum waarop die UP die nuwe beleid instel, sal eers bevestig kan word wanneer die departement van hoër onderwys en opleiding die statuut van die universiteit verander. Die verwagting is dat dit al van volgende jaar af sal geld. 

Spies sê dit was vir hom van meet af duidelik dat die proses so opgestel is dat Tukkies Engels sou word.

“Daar was ’n obsessie om die EFF te paai en dít het die deurslag gegee.

“Volgens die universiteit se eie syfers verkies 8 800 van die 45 000 studente om in Afrikaans te studeer. Waarom nie ook voorsiening maak vir hierdie studente nie?”

’n Onafhanklike paneel onder aanvoering van regter Johann van der Westhuizen het aanbevelings aan die raad gedoen. Die voorlegging het ’n uur en ’n half geduur waarna raadslede daaroor gedebatteer het. 

“Die argumente was hoofsaaklik politieke argumente oor persepsies van indirekte diskriminasie wat die regsbeginsel só strek dat dit eintlik absurd is. Dit is gedryf deur emosionele en ideologiese argumente wat vermom is as regsargumente.”

Spies sê die nuwe taalbeleid maak voorsiening vir die ontwikkeling van Afrikaans en Sepedi, “maar daar is nie konkrete voorstelle oor hoe dit gedoen gaan word nie. Dit is alles eintlik net ’n oëverblindery om dit te neutraliseer”.

Luidens ’n verklaring van die universiteit is die beleid bedoel om “sosiale kohesie” te fasiliteer en inklusiwiteit te bevorder. 

“Die universiteit sal voortgaan om meertaligheid te omhels en te bevorder en gelyke geleenthede aan sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale te bied.

“Die besluit van die raad en senaat volg op intensiewe konsultasieprosesse en aanbevelings van alle belanghebbendes, insluitend taalwerkstrome wat deel gevorm het van ’n transformasie-lekgotla en ’n onafhanklike transformasiepaneel. ’n Sleutelfaktor wat tot hierdie besluit bygedra het was die afname in die getal studente wat verkies het om in Afrikaans onderrig te ontvang.

“Daar is ook besluit dat Afrikaans as ’n taal van vakgeleerdheid bly, tesame met die ontwikkeling van Sepedi.” 

Flip Buys.

Thabo Shingange, voorsitter van die studenteraad, het die raad se besluit verwelkom. Hy sê hulle sal vandag ’n verklaring uitreik.

Amla Monageng, EFF-leier op Tuks, sê dit is ’n stap in die regte rigting.

“Ons wag egter steeds dat die ander kwessies, die rassistiese kultuur in koshuise en ander transformasiekwessies, aandag kry.” 

Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, sê die stap van die universiteit bevestig dat private instellings die enigste uitweg is. “Dis ’n pad wat nou gevolg moet word, nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir toegang tot onderwys vir Afrikaanssprekendes.”

Hy sê Solidariteit sal 'n regsmening oor die raad se besluit kry.


Maties

*(Lees die US se volledige verklaring oor die nuwe taalbeleid onderaan hierdie blad).

Die Universiteit Stellenbosch (US) het met ’n oorweldigende meerderheid ’n nuwe taalbeleid aanvaar wat die beskerming van Afrikaans effektief beëindig.

Dít volg op ’n stryd in die hooggeregshof in Bloemfontein oor die regmatige plek van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Ná ’n hersieningsproses van sowat vier maande is die US-raad se debat oor die taalbeleid Woensdagmiddag ná slegs twee uur deur ’n ordemosie deur prof. P.W. van der Walt, ondervoorsitter van die raad, beëindig. Dít ondanks besware dat die beleidsdokument kwesbaar is omdat dit nie aan die Grondwet óf ministeriële beleid voldoen nie.

Adv. Jan Heunis

Adv. Jan Heunis SC, president van die konvokasie, het voorgestel dat die raad vir die uitspraak in die UV-saak wag. Dié saak word as rigtinggewend beskou en is byna volledig vergelykbaar met dié van die US.

Heunis se versoek is egter van die hand gewys en die vergadering het tot stemming oorgegaan. Nadat die mosie om die taalbeleid te aanvaar, ingestem is, het Jannie van der Westhuizen, rektor van Paul Roos Gimnasium wat vir sy kundigheid op uitnodiging van die raad gedien het, ’n vurige betoog gelewer en uit die raad bedank.

Hy het gesê hy vind dit “onmoontlik om mede-eienaarskap vir die nuwe beleid te aanvaar”. Hy het byna sewe jaar op die raad gedien.

Hy en vyf ander raadslede, naamlik Heunis, Johan Theron, Hein Gonzales en profs. Wannie Carstens en André Coetzee het uit die vergadering gestap.

“Die nuwe taalbeleid bied geen beskerming dat die huidige aanbod van Afrikaans behou sal word nie. Die beleid leen hom tot interpretasies en vertolkings wat ’n wesenlike bedreiging vir die Afrikaanse aanbod in die toekoms kan inhou, en bied geen sekerheid ten opsigte van wat ’n student kan beleef wanneer hy of sy by die US opdaag nie,” het Van der Westhuizen aangevoer. “

’n Volwaardige meertalige US sou ’n unieke bate wees, waar studente van alle tale en kulture ruimte kon vind om te ontwikkel tot waardige landsburgers.”

Theron het gesê dit was ’n pynlike proses om toe te kyk hoe ’n akademiese taal doodgewurg word met oneerlike argumente en wanvoorstellings.

Hoe jy ook al daarna kyk, dit is ’n waterskeidingsoomblik vir Afrikaans en die US het effektief ‘amptelik sy rug op Afrikaans gekeer
Prof. Wannie Carstens

“Ek het die vergadering verlaat omrede ek nie langer ’n raadsaal kon deel met oneerbare raadslede wie twee vorige besluite, wat kategories gestel het dat die aanbod van Afrikaans nie verminder mag word nie, negeer het deurdat hulle nie bereid was om dit in die taalbeleid te inkorporeer nie. Die sogenaamde taaldebat is nou klaarblyklik verby, maar dit is die begin van die taalstryd.”

Carstens, hoof van die Skool vir Tale op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, het gesê die Afrikaanse gemeenskap sal nou moet besluit wat om met die US te doen.

“Hoe jy ook al daarna kyk, dit is ’n waterskeidingsoomblik vir Afrikaans en die US het effektief ‘amptelik sy rug op Afrikaans gekeer’,” het hy gesê.

Heunis het gesê hy sal in oorleg met die uitvoerende komitee en senior lede van die konvokasie besluit of hy ook uit die raad moet bedank.

Wat sê die nuwe taalbeleid

Die nuwe beleid bepaal dat alle modules waar dit redelikerwys uitvoerbaar en pedagogies verantwoordbaar is aparte lesings in Afrikaans en Engels is – dus parallelmedium.

Waar praktiese faktore – soos die aantal studente wat sal baat vind by ’n spesifieke wyse van implementering, die taalvaardigheid van die betrokke studente en personeel, en rooster- en lokaalbeperkings dit vereis – sal Afrikaans en Engels in dieselfde klasgroep gebruik word.

In dié lesings sal alle inligting ten minste in Engels oorgedra word en opsomming of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans wees. Studente word in Afrikaans en Engels ondersteun. 

Vir eerstejaarsmodules stel die US gedurende elke lesing intydse tolking beskikbaar. Indien twee weke verloop sonder dat enige studente dit gebruik, kan dit gestaak word.

Waar alle studente in die klasgroep deur middel van ’n geheime stembrief daartoe toestem, sal die module in slegs Afrikaans of slegs Engels aangebied word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.