Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Swemmer met Downsindroom ryg rekords in
Minke Janse van Rensburg by haar afrigter, Sybeth Hughes. Foto: Verskaf

Minke Janse van Rensburg, ’n 14-jarige swemmer van George in die Suid-Kaap, het ’n wêreldrekord, ’n ope Afrika-rekord en twee junior wêreldrekords laat spat.

Sy is ’n leerling aan die Carpe Diem-skool vir leerlinge met spesiale behoeftes in George.

Haar pa, Hennie, sê Minke het Saterdag in Knysna aan die Eden-kortbad-streekgala deelgeneem.

“Vroegoggend het sy haar eie 50 m- junior Downsindroom-wêreldrekord wat sy verlede jaar tydens die Downsindroom-wêreldkampioenskap in Kanada opgestel het, met sowat twee sekondes verbeter. Met die nuwe rekordtyd van 36.80 sekondes breek sy ook haar 28-jarige rolmodel, Melissa van Bosch, se ope Afrika-Downsindroom-rekord.

“In die 25 m-vryslagnommer het sy nie net die Franse swemmer Cleo Renou se junior wêreldrekord verbeter nie, maar ook Kirsten Thorsteindottir van Ysland se ope Downsindroom-wêreldrekord gebreek. Haar nuwe rekordtyd is 17.06 sekondes. Later die dag het Minke in die 100 m-vryslag Holly Sullivan van Brittanje se junior wêreldrekord verbeter met ’n tyd van 1:28.20.”

Volgens haar pa hou Minke ook die wêreldrekord in die 50 m-langbad-ope-vryslag en die 100 m-langbad-junior-vryslag. Met die vyf wêreldrekords ingesluit, hou sy 13 Afrika-Downsindroom-rekords, waarvan party ope rekords is, asook verskeie Afrika-aflosrekords, as deel van die Suid-Afrikaanse nasionale Downsindroom-span.

Hennie sê Minke het onlangs op die Sasa-II- nasionale kampioenskap ook gekwalifiseer om in Oktober aan die Global Games in Brisbane, Australië, deel te neem.

“Ons is baie trots op haar. Haar afrigter, Sybeth Hughes van Fish Eagle Aquatics in George, sê Minke is ’n sprekende voorbeeld van hoe swem ’n gestremde mens se liggaamlike vermoëns, selfbeeld en lewensgehalte kan verbeter.”

’n Beroep word op mense gedoen om die Carpe Diem-skool se swembad-fondsinsamelingsprojek te ondersteun.

Die projek is om die bestaande swembad in ’n binnenshuise een te omskep sodat die skool se 350 gestremde leerlinge en ander kinders uit die omgewing heeljaar, en nie net in die somer nie, waterterapie kan ontvang. Mense wat meer wil weet, kan die skool by 044 874 4074 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.