Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Taalbeleid: US soek nog tyd om stukke in te dien

Gelyke Kanse het nie ingestem tot ’n derde uitstel nadat die Universiteit Stellenbosch (US) hulle Woensdag genader het nie.

Dit kom nadat die US se regspan in ’n e-pos op 20 Desember Gelyke Kanse se prokureurs gevra het om in te stem tot nog ’n uitstel.

“Ondanks die US se regspan se beste pogings sedertdien, reken ons dat die antwoordstukke steeds nie teen 23 Desember 2016 gereed sal wees nie,” sê Lorinda van Niekerk, die US se prokureur, in die e-pos.

Die aansoek deur Gelyke Kanse is op 30 September by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien om die US se taalbeleid te laat hersien.

Dit is opvallend dat die US klaarblyklik nie kans sien om met dieselfde ywer waarmee hy sy nuwe, onbillike, onregmatige taalbeleid gestoomroller en goedgekeur het, nou ook in die hof te verdedig nie
Danie Rossouw

Gelyke Kanse is ’n inisiatief wat hom beywer vir die behoud van Afrikaans aan die US.

Luidens Gelyke Kanse se hofstukke het verskeie bekende skrywers en dosente – onder andere Breyten Breytenbach, R.W. Johnson, prof. Anne-Marie Beukes, dr. Marié Heese, prof. Hermann Giliomee, prof. Johann Rossouw, dr. Francis Galloway en Abraham Phillips – reeds eedsverklarings afgelê. Dit vorm deel van die aansoek.

Gelyke Kanse versoek die hof om:

* Die US se nuwe taalbeleid, wat op 22 Junie deur die senaat en die raad aanvaar is, te hersien en tersyde te stel;

* Die US te gelas om die taalbeleid en taalplan wat op 22 November 2014 deur die raad goedgekeur is, toe te pas.

Regter John Hlophe, regter-president van die Wes-Kaapse hooggeregshof, ’n bevel bekragtig waarin die hantering en tydlyn van die saak uiteengesit word ná verskeie versoeke tot uitstel, eers om te besluit of die US die aansoek gaan teenstaan en daarna om weer ooreen te kom op tydraamwerke vir die aflewering van repliekstukke.

Luidens dié bevel moes die US op 9 Desember hul repliek lewer, waarna Gelyke Kanse op 20 Februarie hul verdere stukke moet liasseer.

Betooghoofde deur Gelyke Kanse moet op 6 Maart 2017 by die hof ingedien word en dié van die US op 13 Maart 2017. Die hoofaansoek word op 20 Maart aangehoor.

’n Dag voordat die US in Desember hul stukke moes liasseer, het sy regspan Gelyke Kanse genader en vir uitstel gevra tot 23 Desember.

Breyten Breytenbach

Gelyke Kanse het toe, onder streng voorwaardes, ingestem.

Woensdag het die US se regspan Gelyke Kanse weer genader en uitstel tot 17 Januarie aanstaande jaar versoek.

Gelyke Kanse het nie ingestem nie.

Danie Rossouw, prokureur vir Gelyke Kanse, het gesê sou die US nie Vrydag (23 Desember) hul stukke indien nie, sal hulle die hof moet versoek om die saak uit te stel.

“Intussen het die US twee keer onsuksesvol probeer om as ’n vriend van die hof by die appèlhofverrigtinge in die saak tussen AfriForum en die Universiteit van die Vrystaat aan te sluit.

“Dit is opvallend dat die US klaarblyklik nie kans sien om met dieselfde ywer waarmee hy sy nuwe, onbillike, onregmatige taalbeleid gestoomroller en goedgekeur het, nou ook in die hof te verdedig nie,” het Rossouw gesê.

By navraag het Martin Viljoen, woordvoerder van US, gesê hul voorbereiding het heelwat langer geneem as wat aanvanklik ooreengekom is.

“Hoewel die applikante ingestem het dat die US se antwoordstukke teen 23 Desember 2016 geliasseer word, was dit ongelukkig onmoontlik vir die US se regsverteenwoordigers om selfs binne die verlengde tydperk die stukke te voltooi.”

Die feestyd veroorsaak dat die regspan eers vroeg in 2017 hul stukke by die hof sal kan indien.

“Die stukke sal eers teen middel Januarie 2017 voltooi en geliasseer word,” het Viljoen gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.