Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Taalplan vir skole

’nAmbisieuse poging om die voortbestaan van Afrikaans as onderwystaal te verseker kan so vroeg as volgende jaar al tot die bou van ’n netwerk bekostigbare private Afrikaanse skole lei.

Dr. Theuns Eloff: “Dit het onvermydelik geword om self verantwoordelikheid vir die voortbestaan van Afrikaanse onderwys te aanvaar.” Foto: Nelius Rademan

Die nuutgestigte Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) se hooffokus sal egter die vestiging wees van ’n ononderbroke “Afrikaanse pypleiding” sodat Afrikaanse kinders van voorskool tot op tersiêre vlak in Afrikaans onderrig kan word.

Slegs 1 644 laerskole en 566 hoërskole uit die land se sowat 25 000 openbare skole gebruik nog Afrikaans as onderrigtaal.

Van die laerskole wat Afrikaans gebruik, is 978 enkelmedium en van die hoërskole 211, wys syfers van Fedsas, die federasie van skoolbeheerliggame wat nou betrokke is by die AON.

Die AON se strategie sluit in:

* Om halfvol Afrikaanse openbare skole aan te moedig om saam te smelt. “Afrikaanse skole moet goed wees en hulle moet vol wees,” sê dr. Theuns Eloff, tussentydse voorsitter van die AON en voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO). “In gevalle waar skole minder Afrikaanse leerlinge lok weens demografiese verskuiwings, moet skole eerder saamsmelt as die gevaar loop om Engels-enkelmedium te word. Die AON sal as bemiddelaar optree om skole te help integreer ten einde beter, hoewel minder, Afrikaanse skole te vorm.”

* Om Afrikaanse studiemateriaal te ontwikkel en in sogenaamde wolk­skole op die internet beskikbaar te stel vir skole, veral op die platteland, wat nie genoeg opgeleide personeel het nie.

“Die platteland ontvolk en verengels. Deur wolkskole kan ons gehalte- Afrikaanse onderwys na die uithoeke van Suid-Afrika versprei,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

* Om die gehalte van onderrig in Afrikaanse openbare skole te verbeter waar dit tekort skiet en in stand te hou waar dit goed is.

* Om ’n netwerk kundiges te vestig wat openbare Afrikaanse skole kan adviseer en verteenwoordig in gevalle waar die staat druk op hulle plaas om te verengels.

* Om op die duur ’n reeks private Afrikaanse skole te bou wat “bekostigbaar” is. Eloff sê dit sal “deel vorm van ’n parallelle strategie om Afrikaans as onderrigtaal te behou. As alles goed gaan, begin ons volgende jaar met bouwerk aan die eerste skool.”

Slegs 1 644 laerskole en 566 hoërskole uit 25 000 openbare skole gebruik nog Afrikaans as onderrigtaal.

Hierdie private skole sal aanvanklik deur geld vanaf die TAO en private skenkings gefinansier word, maar moet uiteindelik selfonderhoudend word.

“Skole moet volhoubaar en bekostigbaar wees. Daarom oorweeg ons ’n model waarvolgens die winste van skole in gegoede areas gebruik word om skole in armer gebiede te subsidieer,” sê Eloff.

Die AON se “pypleiding” sal van voorskool tot op tersiêre vlak loop, skryf Eloff vandag in Rapport.

“As daar nie meer Afrikaanse voorskoolse onderwys is nie, sal Afrikaanse laerskole kwyn. En as Afrikaanse

laerskole kwyn, sal Afrikaanse hoërskole nie meer genoeg leerlinge hê nie. En sonder ’n stroom Afrikaanse matrikulante sal naskoolse Afrikaanse opleiding doodloop.”

Onsekerheid oor die toekoms van Afrikaans in hoërskole en in universiteite noop al hoe meer Afrikaanse ouers om hul kinders vroeg al na Engelse skole te skuif.

Dit word ook al geruime tyd moeiliker vir Afrikaanse openbare skole om beheer oor hul taalbeleid uit te oefen.

Die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, het verlede week aangekondig dat ouers nie meer in die skole-aansoekproses in dié provinsie hul kinders se voorkeurtaal sal kan aandui nie, wat beteken dat Engelse leerlinge by Afrikaanse skole naaste aan hul woonadresse geplaas kan word. Dit is deur dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, as ’n “oorlogsverklaring” teen moedertaalonderrig beskryf.

Ook Eloff sê Lesufi se skuif bevestig dat die regering nie vergunnings gaan maak vir moedertaalonderrig nie.

“Dit het onvermydelik geword vir die Afrikaanse gemeenskap om self verantwoordelikheid vir die voortbestaan van Afrikaanse onderwys te aanvaar.”

Daan Potgieter (54), wat sedert 2011 hoof is van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, is as uitvoerende hoof van die AON aangestel. Hy lê sy pos by Waterkloof einde Mei neer.

“Solank as wat daar ’n aanvraag is en die Afrikaanse gemeenskap op hul regte staan, sal daar ’n toekoms vir Afrikaanse onderwys in die land wees,” het hy aan Rapport gesê.

Dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur by die ATKV, sê die AON het nog nie wyd genoeg gekonsulteer nie, veral onder bruin Afrikaanssprekendes.

“Die mense wat betrokke is, het goeie bedoelings, maar daar is baie onbeantwoorde vrae oor hoe so ’n inisiatief sou werk en of dit almal sal insluit. Daar is wel ’n geweldige vraag na moedertaalonderrig, veral onder bruin gemeenskappe in die Kaap,” sê Titus.

Saartjie Botha, dramaturg en direkteur van die Woordfees in Stellenbosch, maan teen die gevare daarvan om Afrikaans te “isoleer”.

“Ons moet ons kinders grootmaak in ’n veeltalige en multikulture samelewing.

“Dit help nie ons baken die taal af en perk dit in omdat ons bang is ons verloor dit nie.”

Sy meen ook daar word onnodig paniek gesaai oor die toekoms van Afrikaans en Afrikaanse skole.

“Dit is wel goed dat hierdie gesprekke plaasvind, maar daar is geen sin daarin om ’n taal te probeer red nie. ’n Taal moet selfonderhoudend wees.”

Ander vennote van die AON sluit in die ATKV, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum, die Afrikaanse Taalraad, en die TAO, wat die projek aanvanklik sal finansier.

¦ Lees op bl. 2 wat Rapport hieroor sê, en Eloff se artikel in Weekliks.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Skole  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.