Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Tablette in skole geen maklike taak, maar noodsaaklik

Om vir miljoene leerlinge elkeen ’n tabletrekenaar te gee wat hul handboeke gaan vervang, gaan geen maklike taak wees nie, maar is tog nodig.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede gesê elke skoolkind in Suid-Afrika sal binne die volgende ses jaar digitale werkboeke en handboeke op ’n tablet moet kan hê.

“Ons sal begin met skole wat histories die meeste benadeel is en in die armste gemeenskappe geleë is.”

Ramaphosa sê 90% van handboeke in gewilde vakke is reeds gedigitaliseer.

Nkosiphendule Ntantala. Foto: Verskaf

Nkosipendule Ntantala, president van die onderwysersvakbond Naptosa, sê hoewel die president se visie prysenswaardig is, is die praktiese uitvoering daarvan nie so maklik nie.

“Dit is van uiterste belang dat onderwysers opgelei en heropgelei word in die gebruik van dié toestelle sodat hulle leerlinge daarmee kan help,” sê hy.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê daar is sowat 12 miljoen leerlinge in Suid-Afrika by sowat 24 000 skole.

“Daar sal ook gesorg moet word vir Wi-Fi by skole. Die vraag is of daar genoeg geld is vir al dié dinge.”Hy sê alhoewel dit belangrik is om skole te digitaliseer ter voorbereiding op die Vierde Nywerheidsrevolusie, moet die gehalte van onderwys eers aandag kry.

“Lande wat ’n digitale benadering in klaskamers gebruik, is suksesvol omdat hulle eerstens toesien dat leerlinge kan lees, skryf en wiskunde doen. Sodra jy dít reg het, kan jy tablette en ander hulpbronne begin gebruik.”

Dr. Jaco Deacon. Foto: Argief

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas), sê die digitalisering van klaskamers is belangrik.

“Jy moet kan leer soos wat jy leef. Dit help nie ons leef op een manier by die huis met tegnologie en die internet, maar as jy terugkom by die skool lyk dit asof jy in ’n ander eeu is nie.”

Hy sê Fedsas verwelkom dit dat die regering verbind is tot die gebruik van die tegnologie, maar dit is nie die oplossing vir probleme in die onderwys nie.

Deacon sê die regering moet ook dink aan leerlinge in landelike gebiede wat dalk geen elektrisiteit by die huis of by die skool het om toerusting soos tablette te herlaai nie.

“Die infrastruktuur by skole moet reggekry word voordat tablette en ander hulpbronne uitgedeel word. Maar dit is ook nie die een óf die ander nie. Albei moet definitief gebeur.”

Hy sê die veiligheid van leerlinge moet ook in ag geneem word sodat hulle nie dalk beroof word van hul nuwe elektroniese toerusting nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU. Foto:

Klopper sê onderhoud by skole is baie sleg. “Die regering sit met grootskaalse instandhoudingswerk wat gedoen moet word om veiligheid by skole te verbeter. Dit moet dalk eers oorweeg word voordat digitalisering plaasvind.”

Ramaphosa het in sy staatsrede gesê daar is steeds 4 000 skole wat nie behoorlike sanitasiegeriewe het nie.

“Ons is vasberade om onveilige en onbehoorlike sanitasiegeriewe binne die volgende drie jaar uit te roei.”

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het Vrydag by navraag gesê dié departement gaan nie 27 van sy prioriteite laat vaar omdat hy swak doen in ’n handjievol ander prioriteite nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, aan die woord by die departement van onderwys se spitsberaad in Boksburg. Foto: Felix Dlangamandla

“Die lewe werk nie so nie. Die lewering van onderwysdienste werk nie in ’n liniêre formaat nie. Dit verg die verrigting van verskeie take op een slag, anders sou niks gebeur nie.

“Die Steentydperk se benadering om een ding op ’n keer te doen, sou die stelsel laat ineenstort.

“Ons het 25 000 skole en net omdat 3 898 skole uitdagings ervaar, beteken nie almal moet daaronder ly nie.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Vrydag aan Jana Marx gesê infrastruktuur-kwessies en digitalisering is sake wat nie met mekaar verband hou nie.

“Infrastruktuur is baie belangrik. Dit moet veilig wees waar kinders skoolgaan. Maar ons kinders se lewe gaan aan. Hulle moet gehalteonderrig kry, dus kan ons nie net op die een saak (infrastruktuur) fokus ten koste van ander nie. Kinders moet die regte vaardighede hê om hulle vir die wêreld voor te berei.”

Sy sê daar moet ’n balans wees tussen die prioriteite van die departement.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.