SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Onderwys
Tablette vir elke kind – teen 2021

Die onderwysdepartement wil teen 2021 vir elke skoolkind in die land ’n tabletrekenaar gee.

Pres. Cyril Ramaphosa gaan in sy staatsrede meer besonderhede oor dié projek bekend maak, het Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, Vrydag aan City Press gesê.

Dis deel van ’n ambisieuse projek om die toekomstige werkmag voor te berei vir ’n wêreld waar tegnologie die toon aangee.

Die regering wil die hele kurrikulum – insluitend handboeke, werkboeke en ondersteuningsmateriaal vir onderwysers – digitaliseer, en die vakke rekenaarprogrammering en robotika van volgende jaar af vir kinders van gr. 1 tot 3 infaseer.

Volgens Mweli wil die departement Woensdag, wanneer die skole heropen, reeds tablette begin uitdeel. Behoeftige skole en skole in landelike gebiede wat só klein is dat kinders van verskillende grade saam onderrig word, gaan eerste toegerus word. Die rykste skole (in kwintiel vier en vyf) sal teen 2021 die laaste wees wat tabletrekenaars kry, sê Mweli.

Wat die koste van die projek sal wees, is nie bekend nie, maar Enver Surty, adjunkminister van basiese onderwys, het by ’n ontbyt vir die land se topmatrieks laat blyk daar kom ’n aankondiging van Ramaphosa en Vodacom se uitvoerende hoof, Shameel Joosub. Dit laat die vermoede ontstaan dat die president ’n vennootskap met die private sektor in die vooruitsig het.

Dit sal sowat R2 000 per tablet kos, dus byna R26 mjd.

In 2017 het Panyasa Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, aan City Press gesê dit sal die departement sowat R2 000 per tablet kos om vir elke leerling een te gee. Bereken volgens 2017 se totale leerlingtal van 12 892 273, sou dit dus toe amper R26 miljard gekos het.

Mweli sê die departement het baie uit aanvoorprojekte in Gauteng en die Wes-Kaap geleer.

“Daar was uitdagings soos diefstal en die aflaai van nie-opvoedkundige materiaal soos pornografie en speletjies,” het hy gesê.

Die tablette word nou “geïnsuleer” sodat ontoepaslike materiaal nie afgelaai kan word nie.

“Die kans op diefstal en geweld teen kinders sal ook daardeur verminder word omdat die toestelle min waarde vir nie-leerlinge sal hê,” sê hy.

Lesufi het in 2015 vir 2 400 skole 40 tabletrekenaars elk gegee, maar dit ’n paar maande later teruggeneem om “veiligheid-sagteware” daarop te laai om verliese te keer.

Dieselfde jaar is 61 000 tablette uitgedeel aan skole in die provinsie wat nie skoolgeld hef nie. Teen Februarie die volgende jaar was 55 000 daarvan nog nie aan die departement terugbesorg nie. Hoeveel daarvan uiteindelik teruggekry is, is nie bekend nie.

Van die 82 000 tablette wat in 2016 aan matrieks in Gauteng uitgedeel is, het 9 865 weggeraak.

Baie private en staatskole bied reeds vir jare aan kinders die keuse om óf gedrukte handboeke óf e-boeke op tabletrekenaars te gebruik.

’n Informele peiling onder ouers op Facebook het gewys die meeste van dié leerlinge kies steeds handboeke.

’n Kaapstadse ma wie se kind van gr. 4 tot 7 ’n iPad gebruik het, het op voorwaarde van anonimiteit gesê sy het in dié tyd vyf keer die tabletskerm vervang, elke keer teen ’n koste van tussen R1 000 en R1 500. Haar kind was elke keer vir ’n paar dae sonder leermateriaal terwyl die herstelwerk gedoen is.

Sy sê sy glo nie hy is oud genoeg om só ’n waardevolle artikel behoorlik op te pas nie.

Mweli sê die departement sukkel al jare om vir alle leerlinge handboeke in alle vakke te gee. “Tablette sal 100%-dekking gee. Digitale inhoud is ook baie goedkoper. En die inhoud sal interaktief wees, wat dit vir leerlinge lekker sal maak om te leer.”

Takalani Netshitenzhe, hoof van korporatiewe sake by Vodacom, het vir die onderwys-nuusdiens insideeducation.org gesê die regering kan miljarde rande spaar as hy nie meer gedrukte handboeke hoef aan te koop nie.

Steve Mabona, Lesufi se woordvoerder, sê Gauteng se besteding aan tegnologie (skootrekenaars, tablette en slim-swartborde) het ’n reusebydrae gemaak tot die verbetering van township-onderrig in dié provinsie.

Hy sê die departement het vanjaar aansienlik in die opgradering en opknapping van gewone klaskamers belê om dit na digitale klaskamers oor te skakel.

Kenners sê dis noodsaaklik om in die rigting van digitale onderwys te beweeg, maar om elke kind ’n tablet in die hand te stop, is nie genoeg nie.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende adjunkhoof van die Federasie van beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, sê om vir ’n kind ’n toestel te gee is die laaste stap van die proses.

“Ons wil hê die president en die regering moet met ’n plan kom. Ons smeek vir ’n deeglike proses. Dit help nie jy gee vir ’n kind ’n tablet, maar hy kom nog honger by die skool aan, hy moet ’n puttoilet gebruik en het nie eens elektrisiteit by die huis nie. Die basiese infrastruktuur moet eers daar wees.”

Meer oor:  Panyaza Le­Sufi  |  Skole  |  Tegnologie  |  Digitale Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.