Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
118 beurse om nagraads in Afrikaans te skryf

Danksy ’n ruim borgskap aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kon 118 studente onlangs hul nagraadse verhandelings in Afrikaans skryf. Daar is reeds 98 studente wat vir 2019 aansoek gedoen het.

Prof. Hennie van Coller, dr. Dioné Prinsloo, Lynthia Julius, en prof. Nico Luwes, hoof van die dramadepartement aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Cheréne Pienaar

Dr. Dióne Prinsloo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê daar is wêreldwyd kundige Afrikaanse mentors wat geraadpleeg kon word danksy ’n borg wat jaarliks R3 miljoen aan die akademie skenk.

Dit was Donderdagaand ná sewe jaar se betrokkenheid by die akademie haar afskeid by die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Sy was betrokke met die ontwikkeling en bevordering van Afrikaans en vroeër ook ’n lid van die Onafhanklike Mediakommissie en die Women’s National Coalition in die aanloop tot die 1994-verkiesing.

Sy het interessanthede oor die akademie gedeel, soos hoe ’n faksimilee uit 1917 se Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) wys hoe die taal die laaste eeu ontwikkel en floreer het.

Publikasies soos die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) se sukses is bekyk.

“Die SATNT gee aan ’n hele klomp natuurwetenskaplikes die geleentheid om nuutskeppinge in Afrikaans te kan maak en internasionale aandag te geniet.”

Sy is besonder opgewonde oor die huldigingsbundels vir Hertzogpryswenners, ’n nuwe inisiatief wat in 2018 bekend gestel is.

“Ons het weggespring met Adam Small. Prof. Jacques van der Elst is die hoofredakteur. Dan is daar ’n paar wat vanjaar gaan verskyn; Breyten Breytenbach, net betyds vir sy 80ste verjaardag, P.G. du Plessis s’n word in Julie in Potchefstroom bekend gestel. Johan de Lange en Pieter Fourie s’n is ook op pad pers toe.”

Sy hoop hul borgskap is sterk genoeg dat die akademie na die vroeëre Hertzogpryswenners, soos Anna M. Louw, kan teruggaan.

’n Mens dink dit is net ’n paar ou omies, maar die akademie floreer met ’n klomp nuwe ondernemings.

Op die vraag of sy ooit bekommerd raak oor die toekoms van die taal, sê sy omdat sy vyf kinders het, het sy nie “tyd om pessimisties te raak nie”.

Prof. Hennie van Coller, navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat en buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit, sê hy is verstom oor alles wat die akademie vermag.

“’n Mens dink dit is net ’n paar ou omies, maar die akademie floreer met ’n klomp nuwe ondernemings.”

Wat hom veral opgewonde maak, is jong studente soos Lynthia Julius (26), ’n bekroonde digter, wat verkies om “dinge in Afrikaans te doen”.

Julius het die aand afgesluit met ’n voorlesing van Small se gedig “Trap der bruin jeugd”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.