Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Te min Afrikaanse leerlinge? ‘Maak plek vir Engels’

As ’n skool nie meer sy klasse kan vol hou met Afrikaanse leerlinge nie, sal die skool sélf moet begin planne maak om Engelse leerlinge te akkommodeer.

“As jou getalle begin daal, gaan dit nie lewensvatbaar wees om net Afrikaans te bly nie. Leë plekke verdubbel baie vinnig. Dan moet skole die bul by die horings pak en een klas Engels maak,” sê Anton van Wyk, ’n oudskoolhoof en deesdae mentor by die Universiteit van die Vrystaat se skolevennootskapprojek.

“Dit is ’n ding wat ’n mens moet bestuur,” sê Van Wyk. Hy meen egter Afrikaanse skole wat Engelse leerlinge akkommodeer, gaan nie die “groter probleem” oplos nie.

“Hulle moet in die stad (Bloemfontein) nóg ’n Engelse skool bou. Hulle moet in die townships die onderwys regkry.”

’n Skoolhoof van ’n skool in Bloemfontein het in ’n anonieme brief aan Netwerk24 ’n beroep op Afrikaanse skole gedoen om parallelmedium te raak sodat hulle Engelse leerlinge se behoeftes kan aanpak.

Die werklikheid is dat Afrikaanse skole ’n politieke teiken is. Ek sê nie dit is ’n regverdige teiken nie . . .

Volgens die skoolhoof word Afrikaans gebruik om “die getal swart kinders in hul skole te beperk”.

’n Skoolhoof van ’n hoërskool aan die Oos-Rand, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, sê min skole wat parallel- of dubbelmedium geraak het, behou hul identiteit.

“Dit moedig net die ontstaan van Afrikaanse private skole aan.

“Maar ek dink wanneer die druk op jou is dat jy nie meer jou geboue kan vol hou met Afrikaanse leerlinge nie, help dit nie jy sit en wag vir die departement nie. Skole ken die demografie in hul omgewing en moet rondom dít besluit,” sê hy.

Hy sê dit is nie waar dat Afrikaans gebruik word om swart leerlinge te beperk nie.

“Geen skool doen dit so nie. My skool is Afrikaans en daar is swart leerlinge en hulle presteer.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, sê skole staan wel voor ’n morele dilemma.

“Want mense wil hul taal beskerm en hulle wil die beste moontlike plek skep vir hul taal om te gedy. Maar dan is daar die konstitusionele hof se uitspraak dat mense se reg op toegang tot onderwys swaar weeg, indien nie swaarder nie,” sê hy.

“Die werklikheid is dat Afrikaanse skole ’n politieke teiken is. Ek sê nie dit is ’n regverdige teiken nie, maar ’n mens moet begin kyk na wat die risiko’s vir die skool is. As daar ’n risiko is, moet jy dit in ’n bepaalde rigting bestuur.

“Hulle gaan móét kyk na die moontlikheid om dubbelmedium te word. Daarom is ons aanbeveling dat skole kyk na die norme en standaarde van skoolkapasiteit, en dit dan te bestudeer om te kyk of hulle plek het.”

Klopper sê skole moet proaktief wees.

“Hulle moet dit self eerste bestuur sodat dit nie deur politiek bestuur word nie,” sê hy.

Klopper sê dit is ’n “growwe veralgemening” om te sê skole wil met Afrikaans swart leerlinge uit skole hou.

“Skole en gemeenskappe wil skole vestig wat ’n bepaalde kultuur, etos en karakter respekteer. Ek dink dit is onregverdig om dit te sê. Dit het niks met rassisme te doen nie. Die ouens wat Afrikaans wil beskerm, wil dit nie tot nadeel van ander kulture doen nie.”

Meer oor:  Afrikaans  |  Leerlinge  |  Skoolhoof  |  Engels  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.