Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Tekort aan plek nie Afrikaanse skole se skuld’

Die probleem met plek in Gautengse skole gaan nie verander totdat daar genoeg skole gebou is en al die skole voldoende funksioneer nie.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê dis “goedkoop politiek” om elke jaar die handjievol Afrikaanse skole te blameer vir die provinsiale onderwysdepartement se mislukkings.

Die Gautengse onderwysdepartement het Sondag gesê die provinsie se skole het in 2021 plek vir byna 374 000 gr. 1- en gr. 8-leerlinge, maar die departement het al byna 410 000 aansoeke ontvang.

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het enkelmediumskole as een van die probleme uitgelig.

“Die probleem wat ons byvoorbeeld in Centurion het, is nie dat daar nie skole is nie, maar die enkelmediumskole wat nie ander leerlinge kan akkommodeer wat ander tale praat nie. Mense glo ons wil ander mense dwing om hul taal te verander. Maar jy kan nie meer skole hê wat minderhede bedien en die meerderheid kan nie skole kry nie vanweë hul taal nie.

Ouers moet dus binne die sewe dae die aanbod aanvaar van ’n eerstekeuse-skool en nie langer as sewe dae wag vir ’n aanbod by ’n ander skool indien hulle meervoudige aansoeke ingedien het nie.

“Mense glo jy moet enkelmediumskole hê en leerlinge van ander gebiede inneem wat nie in ’n spesifieke plek bly nie sodat die enkelmediumskool kan voortgaan,” sê Lesufi.

Deacon sê egter die meeste skole in Gauteng is Engels-enkelmediumskole.

“Daar is beperkte skole vir leerlinge wat in Afrikaans wil skoolgaan en hulle het steeds die grondwetlike reg om te kan kies. Die meeste Afrikaanse skole is reeds oorlopens toe vol en die kwessie is dus nie taal nie, maar kapasiteit.

“Die departement en die LUR weet waar is die knelpunte en dit bly onverstaanbaar waarom skole nie in daardie gebiede gebou word nie,” sê hy.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die probleem met plek is as gevolg van gebrekkige beplanning. Hy sê ’n gefokusde program om skole te bou, is dringend nodig.

“ ’n Tipiese voorbeeld is die noorde van Pretoria en die suide van Johannesburg. Daar is jaarliks ’n krisis in dié geografiese streke, maar daar is geen bewyse dat daar aandag daaraan gegee word nie.

“ ’n Verantwoordelike LUR sou hierdie probleem tydig en proaktief aangepak het. Die oprig van tydelike klaskamers by reeds oorvol skole is nie die verantwoordelike benadering nie.”

Volgens Klopper is Lesufi se uitsprake oor enkelmediumskole ongevraagd en lyk dit na politieke retoriek.

“Hy is ten volle daarvan bewus dat die Grondwet daarvoor voorsiening maak dat leerlinge die reg het op onderwys in die taal van hul keuse waar dit prakties uitvoerbaar is. Indien ’n enkelmediumskool vol is, is dit prakties uitvoerbaar en sal die vertroue bestaan dat die LUR dit op volwasse en verantwoordelike wyse sal hanteer.

“Dit is ’n gegewe dat ’n skool ’n logiese punt bereik waar die skool as vol geag kan word. Dit is ook so bevestig in vorige hofuitsprake.”

Klopper sê Lesufi het ook ’n plig om leerlinge in enkelmediumskole te beskerm.

“Hy is bewus daarvan dat hy die betrokke beheerliggame moet konsulteer en dat hy nie die magsposisie van die departement as werkgewer moet misbruik om druk op die hoof uit te oefen nie.”

Die Laerskool Akasia in Pretoria het plek vir 182 gr. 1-leerlinge, maar het 1 515 aansoeke ontvang. Dit is ’n Engels-enkelmediumskool.

Visser Erasmus, skoolhoof, sê al die skole in die omgewing is goed, maar die omgewing se demografie is van so 'n aard dat daar baie ouers is.

“Hier is verskriklik baie nuwe huise en intrekkers wat maak dat die aanvraag verskriklik hoog is. Daar is baie mense in die omgewing en ons het skole nodig, dis eintlik waarop dit neerkom.”

Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum, sê die voortdurende tekort aan skole bly ’n bekommernis, maar dat die oplossing nie is om enkelmediumskole te laat vaar nie.

“Meer skole moet gebou word en meer aandag moet aan die ontwikkeling van gehalte-moedertaalonderrig vir alle leerlinge in Gauteng en in Suid-Afrika gegee word.”

Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder van Fedsas, sê die aanlyn aansoekproses het vanjaar tot dusver glad verloop.

“Dit lyk dus baie beter as verlede jaar, maar die plasingsfase is die kritieke punt vir skole. Ons is wel bekommerd oor die nagenoeg 25% minder aansoeke wat ontvang is in die normale aansoektyd.”

Die departement sê hy verwag ’n groot getal laat aansoeke.

Die groot knelpunt is die verandering in bevolkingsdigtheid en nie slegs die demografiese veranderings nie.

Van der Bergh sê dié aansoeke sal volgens die departement se bestuursplan open en ouers sal daaroor ingelig word.

“Skole kan nie laat aansoeke hanteer of verwerk voordat die departement daardie deel van die proses in werking laat tree nie,” sê hy.

Ouers wat reeds aansoek gedoen het, sal van 1 Oktober ’n SMS kry met ’n skoolplasing vir 2021. Die proses duur tot 30 November en alle ouers sal nie noodwendig op 1 Oktober al ’n SMS ontvang nie. Hulle het sewe dae vandat die SMS ontvang is om die plasing te aanvaar.

Van der Bergh sê indien ouers nie die aanbod aanvaar nie en die spesifieke skool vol is, sal hulle die plek verloor.

“Ouers moet dus binne die sewe dae die aanbod aanvaar van ’n eerstekeuse-skool en nie langer as sewe dae wag vir ’n aanbod by ’n ander skool indien hulle meervoudige aansoeke ingedien het nie.”

Ontevrede ouers kan ’n appèlprosedure volg.

Volgens Van der Bergh is die tegnologiese aspekte van die aanlyn proses besig om te verbeter en lyk dit asof ouers minder probleme ervaar.

“Die groot knelpunte is die verandering in bevolkingsdigtheid en nie slegs die demografiese veranderings nie, ouers se poging om toelating by topskole te kry en die onderwyskapasiteit op plekke waar mense bly en werk.”

Meer oor:  Fedsas  |  Afrikaanse Skole  |  Dr. Jaco Deacon  |  Onderwys  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.