Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Tjokker blink uit in hoërskool-olimpiade

’n Tienjarige seun van Pretoria het vir die lekker saam met hoërskoolkinders aan ’n nasionale aanlyn geskiedenisolimpiade deelgeneem en stof in die meeste van hulle se oë geskop.

Wian (links) en Martinus van Rooyen, albei boekwurms wat alles oor die geskiedenis lees.

Martinus van Rooyen het net twee persentasiepunte minder behaal as sy ouer broer, Wian (14), in die eerste ronde van die olimpiade. Die broers is onder sowat 20 leerlinge landwyd wat meer as 70% behaal en deurgedring het na die tweede ronde.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) bied vir die eerste keer ’n nasionale geskiedenisolimpiade vir hoërskoolkinders aan en is verstom oor Martinus se sukses.

Volgens die projekkoördineerder, Chrisna Nel, is daar vooraf baie leeswerk vir die kinders voorgeskryf oor die geskiedenis van Afrikaans, die Afrikaner en die Westerse beskawing.

Die boek Taalpioniers was een van dié bronne en is deur geskiedenisonderwysers vir die olimpiade aanbeveel.

Die broers se ma, Sunel van Rooyen, sê albei lees baie na oor die geskiedenis bloot omdat hulle daarvan hou.

Martinus, wat onlangs met sy sakgeld ’n mikroskoop gekoop het, wil ’n mikrobioloog word. Hy kry tuisonderrig by sy ma en speel klavier, tjello en viool.

Wian, ’n leerling aan die Afrikaans Hoër Seunskool, wil weer medies studeer.

Van Rooyen sê Wian “het ’n kans gevat” om te kyk hoe hy in die olimpiade vaar – sonder om die leeswerk vooraf te doen. Hy het staatgemaak op wat hy voorheen gelees het.

Martinus het wel al die leeswerk gedoen.

Dinsdagaand, toe die olimpiade begin, het elkeen in sy eie kamer voor die rekenaar gaan sit.

Nel sê weens beurtkrag kon die deelnemers beplan wanneer hulle tussen 19:00 en middernag inskakel om die vraestel te voltooi. Wanneer jy inskakel, het jy net 90 minute tyd om 150 vrae te beantwoord. “Daar is dus nie tyd om te kul en gou naslaanwerk te doen nie.”

Volgens haar het die toppresteerder in die eerste ronde 82% behaal.

Martinus het in sy broer se nek geblaas en 75% behaal.

Wian het 77% gekry.

“Wian is baie verlig oor daardie 2%,” sê sy ma.

Wian sê dis danksy Ina Erasmus, sy geskiedenisonderwyser op laerskool, dat hy soveel van die vak hou. Erasmus is in Mei aan kanker dood. “Sy het die vermoë gehad om enige kind lief te maak vir geskiedenis,” sê hy.

Nel sê in die afdeling oor taalgeskiedenis is byvoorbeeld vrae gestel oor digters, soos wie het “Winternag” geskryf? En wie is die digter wat in die see geloop het? Die kinders se kennis van die oorsprong van en mylpale in Afrikaans, soos die eerste gedig, eerste gedrukte boek en eerste Bybelvertaling is getoets.

Die algehele wenner ontvang R10 000, die persoon in die tweede plek kry R5 000 en dié in die derde plek R2 500. Die wenskool kry ook R10 000.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.