Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Township-skole kry Afrikaans as onderrigtaal

Die Gautengse onderwysdepartement gaan Afrikaans en Engels as ’n onderrigtaal in townshipskole instel in ’n poging om leerlinge te plaas vir wie daar nie in ander skole plek is nie.

Steve Mabona, departementele woordvoerder, sê hulle het reeds 94% van aansoekers by skole geplaas, maar het nog planne opgestel in ’n poging om ongeplaaste leerlinge te akkommodeer.

Panyaza Lesufi, LUR, het vroeër in ’n twiet gesê die departement is besig om skole “te druk” om klasse te vergroot om ongeplaaste leerlinge teen 30 November te akkommodeer.

Panyaza Lesufi Foto: Mpumelelo Buthelez

“Ons pleit by ouers om die plekke wat hulle aangebied is te aanvaar, of om onmiddellik beswaar aan te teken sodat ons die beskikbare plekke aan ander leerlinge kan bied.” Hy het benadruk dat elke leerling ’n plasing by ’n skool sal kry.

Mabona sê die departement het sekere skole geïdentifiseer waar mobiele klaskamers ingerig sal word.

“Ons span ook kragte met onafhanklike skole saam om in samewerking met ouers, leerlinge van openbare skole in te neem.

“Ons gaan Afrikaans en Engels in townshipskole aanbied waar daar nog plekke beskikbaar is sodat leerlinge daar geplaas kan word. Die betrokke skole sal bygestaan word deurdat gekwalifiseerde onderwysers wat die vakke kan aanbied, aangestel sal word.

“Die departement is ook besig met ’n proses om enkelmediumskole, waar daar nie so baie ingeskrewe leerlinge is nie, te laat saamsmelt sodat Engels-medium-skole in gebiede waar daar ’n hoë aanvraag is, gevestig kan word.”

Dinsdag het die departement reeds 267 611 (94,63%) aansoekers geplaas. Die oorblywende 14 617 aansoekers moet nog aanbiedings ontvang wat teen 30 November gefinaliseer moet wees.

Die departement het deur middel van sy aanlyn aansoekproses, wat tussen 20 Mei en 22 Julie in werking was, altesaam 310 250 aansoeke ontvang. Hiervan het 27 563 aansoekers nie al die vereiste dokumente ingedien nie, terwyl 282 787 aansoekers die nodige dokumente ingedien het.

“Ons werk ongetwyfeld baie hard om te verseker dat skole hul klaskamerkapasiteit vergroot om meer leerlinge teen 30 November te akkommodeer.”

Lesufi sê ouers moet daarom onmiddellik die aansoeke aanvaar of verwerp indien dit nie geskik is nie.

“Ander moet die geleentheid gegun word om daardie plekke in te neem. Ons sal verseker dat elke leerling ’n plek in ’n skool kry.”

Ouers moet hul besware by die distrikskantore indien. Indien die uitkoms daarvan ook onaanvaarbaar is, kan hulle ’n appèl indien.

Intussen het AfriForum gesê hy gaan ’n omvattende veldtog aanpak om Lesufi se afdanking van David Makhura, premier, te eis.

Dit volg nadat AfriForum oorstroom is met versoeke van ouers wat genoeg gehad het van die LUR se kleitrappery met die plasingsproses, en vele ander kwellings oor sy gedrag.

Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum, sê Lesufi se aankondiging bied nie “sinvolle, volhoubare oplossings” vir die probleem nie “en daarmee aanvaar hy ook nie aanspreeklikheid vir die mislukking van die aanlyn stelsel nie”.

“Die LUR meen dat skole moet saamsmelt om vol Engelse skole te skep. Die saak is egter nie so eenvoudig nie en gaan ook nie betyds die probleem van te min skole in Gauteng oplos nie,” sê Bloem.

“Die aanlyn aansoekstelsel en skoleplasings is een van die vernaamste probleme wat in AfriForum se veldtog onder die loep geneem sal word, maar is hoegenaamd nie die enigste kwessie nie.”

Die ander klagtes teen Lesufi is sy weiering om op te tree teen die voortdurende inmenging van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) by openbare skole; sy herhaalde minagtende uitsprake oor Afrikaans en Afrikaans as onderrigtaal; sy rassistiese uitsprake wat gemeenskappe in die land polariseer; asook beweerde wanbesteding en korrupsie wat plaasvind in die onderwysdepartement.

“Dit is ’n skande dat die premier toelaat dat Lesufi steeds sy amp beklee, ten spyte van die skade wat hy die Gautengse onderwysstelsel reeds aangedoen het. Daar word gereeld in owerheidsgeledere verklaar dat hy puik matriekuitslae lewer. Die waarheid is egter dat dit die gevolg van die toewyding van uitnemende onderwyspersoneel, leerlinge en ouers in die provinsie is wat ten spyte van sy ideologiese inmenging, presteer. Gautengse skole, ouers en leerlinge verdien beter,” sê Bloem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.