Groot opwinding het Donderdag by Laerskool Machiu in Salt Lake, Port Elizabeth, geheers toe die oudburgemeester Athol Trollip besoek afgelê het om bome te plant.
Trollip het Machiu en twee ander skole in die Nelson Mandelabaai-metro as deel van Nasionale Boomplantweek besoek.
Jonathan Lawack, voormalige speaker van Nelson Mandelabaai, en ander lede van die DA het die gure weer getrotseer om saam met Trollip drie bome by die skool te kom plant.

Athol Trollip en lede van die DA het ter viering van Nasionale Boomplantweek drie bome by die Laerskool Machiu geplant.Foto: Lulama Zenzile
Trollip het vir die leerders gesê dit is gepas dat dit reën, want dit is die beste tyd om ’n boom te plant.
Volgens Trollip word inheemse bome geplant, want dit benodig net die regte hoeveelheid water en is eg aan Suid-Afrika.
Hy het die leerders ingelig oor die belangrike rol wat bome in die lewensiklus speel.
“Mettertyd sal julle, en baie ander leerders wat in die toekoms hier skoolgaan, in pouses onder die bome kan sit.
“Die bome gaan vir julle skadu bring as julle op die speelterrein is.”
In die lig van die nypende droogte is ’n pyp langs die boomwortels in die grond gesit.
Leerders wat die bome water gaan gee, sal water by die pyp ingooi.
Ralph Blignaut, die skoolhoof, het die leerders aangemoedig om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul drie nuwe bome en om mooi daarna te kyk.