Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Tuisstudie is ’n goeie alternatief
Een van die grootste voordele van afstandonderrig is dat studente enige tyd van die jaar vir ’n kursus kan inskryf. Foto: istock

As jy verder wil studeer, maar jy kan nie die studiegeld van ’n universiteit of kollege bekostig nie, of omstandighede bring mee dat jy van jongs af moet begin werk, is daar ’n uitweg.

Afstandonderrig laat studente toe om tuis verder te studeer sonder dat hulle klasse hoef by te woon. Hulle ontvang hul studiemateriaal deur die pos- of koerierdiens of laai dit van die internet af. Hulle ontvang akademiese bystand van dosente en studieleiers telefonies, per e-pos of deur die pos.

Oxbridge Academy is een van talle gevestigde private kolleges in die land wat verdere onderrig en opleiding deur middel van afstandonderrig verskaf.

Sommige kursusse, soos die ingenieursprogramme (van motorwerktuigkundiges tot passers en draaiers), begin op ’n Nasionale Sertifikaat 1-vlak wat gelykstaande is aan gr. 10. Die N3-sertifikaat is op gr. 12-vlak en die hoogste kwalifikasie, N6, is ’n postmatriekkwalifikasie. Die kollege bied ook internasionale kwalifikasies.

Volgens Elbie Liebenberg, hoof van Oxbridge Academy, is afstandonderrig vanuit sowel die kollege as die student se perspektief besonder bekostigbaar.

“Oxbridge Academy se fokus val hoofsaaklik op toeganklike studiemateriaal, akademiese ondersteuning en administratiewe dienslewering. Dit beteken dat ons nie dieselfde onkoste as ’n voltydse kollege hoef aan te gaan nie (byvoorbeeld die huur en instandhouding van ’n kampusterrein). Dit stel ons in staat om kursusse van ’n baie hoë gehalte teen bekostigbare tariewe aan te bied,” sê Liebenberg.

Vir studente is daar ook ’n hele aantal finansiële voordele verbonde aan afstandonderrig:

  • Hulle hoef nie ekstra onkoste vir studiemateriaal aan te gaan nie;
  • Hulle hoef nie te verhuis om nader aan ’n kampus te woon of in ’n koshuis in te trek nie; en
  • Hulle bespaar geld op vervoerkoste deur van die huis af te studeer.

Een van die grootste voordele van dié soort onderrig is dat studente enige tyd van die jaar vir ’n kursus kan inskryf. Hulle begin en voltooi hul studies op verskillende tye van die jaar en dien hul werkstukke in soos hulle dit voltooi. Dit bring mee dat die dosente se werk nie ophoop nie en dat hulle regdeur die jaar gehalte-bystand aan elke student kan verleen. Oxbridge waarborg akademiese terugvoering binne 48 uur aan sy studente.

Deur selfstandig te studeer leer studente nie net die beroepsrelevante vaardighede aan wat hulle as deel van hul kursusse ontwikkel nie. Studente leer ook vaardighede soos goeie beplanning, selfdissipline, selfvertroue en tydsbestuur aan.

“Ons vind dikwels dat ons studente baie doelgerig is,” sê Liebenberg. “Hulle besef dat hulle vir hul eie sukses verantwoordelik is en moet volhard indien hulle hul kursusse wil slaag.”

“Indien jy nie binne die voorgeskrewe tydperk met jou studies klaarmaak nie, kan jy tot ses maande uitstel kry om jou kursus te voltooi. Wanneer dit by nasionale kwalifikasies kom, is daar tot 12 maande grasie voordat eksamens afgelê moet word,” sê sy.

  • Vir meer inligting, besoek www.oxbridgeacademy.co.za.

Hoë vlakke van selfdissipline is noodsaaklik

Illustrasie: istock

Afstandonderrig het voordele en nadele. Oorweeg albei goed voordat jy vir ’n kursus inskryf.

Voordele:

  • Dit gee meer studente toegang tot onderrig. Studente wat weens hul omstandighede nie klasse kan bywoon nie, kan ook verder studeer en ’n kwalifikasie behaal.
  • Dit is baie goedkoper. Jy kan voltyds werk en nauurs studeer en jou eie klasgeld in maandelikse paaiemente betaal.
  • Jy kan teen jou eie pas leer. Daar is geen ekstra druk om by te bly by die res van die klas nie. Jy word ook nie teruggehou deur studente wat stadiger as jy vorder nie. Jy besluit self hoeveel tyd jy aan elke afdeling van die kursusmateriaal bestee.
  • Jy het ’n wyer verskeidenheid kursusse om van te kies. Jy is nie beperk tot die kursusse wat in jou geografiese gebied aangebied word nie.
  • Jy leer waardevolle vaardighede soos selfdissipline, verantwoordelikheid en onafhanklike denke aan.
  •  Jy kan op jou werk fokus. Jou aandag word nie afgetrek deur die sosiale aspek van kampuslewe nie.

Nadele:

  • Daar is geen oog-tot-oog-kontak met dosente nie. Talle afstandonderrig-instellings bied wel akademiese bystand aan studente per telefoon, e-pos en kitsboodskappe (bv. WhatsApp).
  • Daar is minimale interaksie met ander studente. Jy kan wel aanlyn met ander studente kommunikeer en studiegroepe op die internet vorm en daaraan deelneem.
  • Hoë vlakke van selfdissipline is ’n vereiste. Niemand kyk gewoonlik of jy jou deel doen en bybly nie. Dit is jou verantwoordelikheid om te vra as jy iets nie verstaan nie en te sorg dat jy jou take betyds inhandig.

Kyk na instelling se reputasie voordat jy kies

Dit is die moeite werd om te kyk na groot tersiêre instellings se standaarde en prestasie ten opsigte van spesifieke kwalifikasies. Foto: ISTOCK

Elke dan en wan hoor ’n mens rillers van studente wat derduisende rande bestee het by tersiêre instellings wat oornag verdwyn of waarvan die kwalifikasies nie die papier werd is waarop dit gedruk is nie.

Daar is egter maniere om seker te maak dat die instelling en die kwalifikasie wat jy wil verwerf aan die nodige regs-, etiese en akademiese vereistes voldoen, sê Adele Oosthuizen, senior dosent aan die departement finansiering en beleggingsbestuur aan die Universiteit van Johannesburg.

“Alles wat jy kan doen om dié nagmerrie te vermy, kan ’n mens eintlik in drie woorde opsom: Doen jou huiswerk,” sê sy.

“Doen navorsing op die internet. En doen navraag in die mark oor die reputasie van die instelling en kwalifikasie waarin jy belang stel,” sê Oosthuizen. “Loer selfs rond op verbruikersweb­werwe soos hellopeter.com om te sien wat mense se grondvlak­ervarings is, en hoe die betrokke instansie kritiek hanteer.”

Oosthuizen wys daarop dat hoewel die groot tersiêre instellings oor die algemeen onderrig van goeie gehalte verskaf, dit die moeite werd is om ook te kyk na hul standaarde en prestasie ten opsigte van spesifieke kwalifikasies. Wat betref private instellings, het sy die volgende riglyne vir voornemende studente:

  • Maak seker die kwalifikasie/s wat jy oorweeg, is geakkrediteer by die South African Qualifica­tions Authority (SAQA). SAQA is ’n regsinstansie wat deur die minister van hoër onderwys en opleiding tot stand gebring is en wat weeksdae van 08:30 tot 16:30 oop is. Vir meer inligting, kontak die hulplyn by 086 010 3188, of stuur ’n e-pos na customercare@­saqa.co.za of besoek hul webwerf ­www.saqa.org.za.
  • Terwyl openbare universiteite deur die regering gesubsidieer word en niewinsgewende instellings is, het private instellings gewoonlik ’n winsmotief. “Moenie dink dat ’n duurder instansie noodwendig onderrig van beter gehalte verskaf nie,” maan Oosthuizen.
  • Kyk na die kaliber van dosente by die betrokke instelling. “Vergelyk dosente, hul kwalifikasies en akademiese statuur,” sê sy. “Hierdie soort inligting is gewoonlik op instellings se webwerwe beskikbaar. As dit nie is nie, wees versigtig.”

– Linette Retief

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.