Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Tuks bied tweede meeste Afrikaans

Naas die Noordwes-Universiteit (NWU) waar studente steeds alle voorgraadse vakke in Afrikaans kan loop, is Tukkies die universiteit in die land met die tweede grootste aanbod van Afrikaans.

By die Universiteit van Pretoria (UP), waar taalaktiviste die afgelope week gedreig het om eksamens te ontwrig uit protes teen Afrikaans, word 74% van alle voorgraadse modules in Afrikaans aangebied aan studente wat dit só verkies.

By die Universiteit Stellenbosch (US) het die getal modulekrediete wat in Afrikaans beskikbaar is sedert 2011 toegeneem van 64,3% tot 65,9%.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) wou nie die afgelope week sê hoeveel van sy modules steeds in Afrikaans aangebied word nie omdat hulle besig is om hul nuwe taalbeleid in te stel. Kovsies het in Maart besluit dat Engels voort­aan sy primêre onderrigtaal gaan wees.

Maar studente by al die universiteite verkies al hoe meer om in Engels eerder as Afrikaans onderrig te word weens ’n beskouing dat Engels die taal van vooruitgang is.

Min mense wil erken hulle kan nie Engels praat of verstaan nie omdat hulle dikwels as agterlik beskou word.

“Daar is ’n beduidende verskuiwing onder studente van Afrikaans na Engels omdat daar ’n persepsie is dat Engels die taal van vooruitgang is,” sê prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en verbonde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) se departement linguistiek.

“Min mense wil erken hulle kan nie Engels praat of verstaan nie omdat hulle dikwels as agterlik beskou word.”

Prof. Willie Burger, hoof van die departement Afrikaans aan die UP, sê al hoe meer studente verkies om in Engels onderrig te word sodat hulle behoorlik kan voorberei word op die arbeidsmark. “Daarom het dit prakties en finansieel meer sin om klasse net in Engels aan te bied.”

Daar was die afgelope week groot ontevredenheid toe verskeie belanghebbendes aan die UP ooreengekom het om ’n slegs-Engels-taalbeleid te steun.

Volgens ’n verslag deur die UP se taakspan vir taal het die getal studente met Afrikaans as moedertaal aan die UP sedert 1992 afgeneem van 85,2% tot 30%.

Studente met Engels of ’n ander taal as moedertaal het sedert 1992 van 14,8% tot 70% toegeneem. Slegs 17,9% van die studente verkies om in Afrikaans onderrig te word.

Volgens Anna-Retha Bouwer, UP-woordvoerder, het die aanbod van voorgraadse modules in Afrikaans nie merkbaar verander sedert 2010 nie, alhoewel verskeie modules intussen weggeval het namate die UP sy akademiese aanbod hersien het.

In 2010 was 890 (22%) van alle modules slegs in Engels terwyl 752 (26%) van alle modules vanjaar slegs in Engels is.

Sommige van die graadkursusse, soos mynbou-ingenieurswese en BCom Admin, word wel net in Engels aangebied.

Rapport het ook verneem dat die fakulteit ekonomiese wetenskappe voorbrand maak om al hul modules vanaf volgende jaar slegs in Engels aan te bied.

Bouwer sê studente word in die individuele jaarboeke ingelig wat die verskillende vakrigtings se onderrigtaal is. Vakke word in albei tale aangebied mits dit akademies of ekonomies regverdigbaar is.

“Geen modules, behalwe dié wat met die vak Afrikaans verband hou, word slegs in Afrikaans aangebied nie. Dus word niemand uitgesluit nie,” sê Bouwer.

By die NWU het studente die keuse om alle voorgraadse lesings in Afrikaans of Engels te ontvang, hetsy in aparte klasse of deur middel van ’n tolk.

Susan van der Merwe, woordvoerder van die US, sê die toename in modulekrediete wat in Afrikaans beskikbaar is wys dat die universiteit nie besig is met ’n doelgerigte proses om sy Afrikaanse taalaanbod te verminder nie, soos beweer word.

“Die universiteitsbestuur moet maniere vind om die Engelse akademiese aanbod uit te brei, maar nie ten koste van die minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie.”

Akademia, Solidariteit se private instelling van hoër onderwys in Pretoria, het reeds 430 voorgraadse studente en wil teen 2020 meer as 2 500 Afrikaanse studente in verskeie voor- en nagraadse kursusse, insluitend verpleegkunde en LLB, oplei.

“Daar is ’n groot aanvraag om in Afrikaans klas te loop en ons wil graag aan dié vraag voldoen,” sê Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia.

Meer oor:  Solidariteit  |  Taal  |  Afrikaans  |  Tukkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.