Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Uitgemaakte saak dat skole Maandag heropen – Fedsas

Dit is ’n uitgemaakte saak dat die skole Maandag landwyd gaan heropen, sê Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Die provinsies was Donderdagaand 90% gereed om die gr. 7- en 12-leerlinge Maandag terug te verwelkom, sê hy.

Indien daar nog enkele skole is wat dan nie gereed is nie, sal die res wel oopmaak.

“Dié wat nie Maandag kan oopmaak nie, sal nie die skole kan terughou wat kán oopmaak nie.”

Dít sê Colditz na aanleiding van ’n verslag wat Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, Donderdag in ’n vergadering met onderwysvakbonde en beheerliggame bespreek het.

matrieks, skole heropen
Matrikulante aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein is Vrydagoggend vir Maandag se heropening voorberei. Foto: Facebook/ Hoërskool Fichardtpark

“Die onderneming was dat die res van die skole teen die naweek gereed gekry sal word wat die toerusting vir persoonlike beskerming betref.

“Dan is daar in sommige provinsies nog enkele skole wat nog nie voldoende lopende water het nie, maar hulle sal ook oor die naweek geholpe word.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, LUR’e, onderwysvakbonde en beheerliggame sal Saterdag vergader.

Fedsas se lede, van wie talle reeds die afgelope Maandag gereed was om te begin, is optimisties oor Maandag se heropening, sê Colditz.

“Daar is baie, baie werk ter voorbereiding gedoen om alles reg te kry.”

Volgens die inligting sal die Vrystaat en die Noord-Kaap ook gereed wees om te heropen, met enkele skole wat nog nie reg is nie.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die vakbond Naptosa, sê die besluit oor die skole se heropening is nog nie heeltemal seker totdat Saterdag met die minister vergader is nie.

Manuel sê dis tyd dat die skole oopmaak.

“Die oorgrote meerderheid is nou darem meer gereed as wat hulle nog was. Daar is baie dinge waarna nou gekyk moet word, dié ding is nie verby nie.”

Manuel wil byvoorbeeld weet wat die plan is wat skoonmaakmiddels, seep en handreiniger betref nadat kinders teruggekeer het skool toe.

Paul Colditz Foto: Nelius Rademan

“Hoe gaan skole dit kry? Dit raak mos op en moet aangevul word, maar niemand praat daaroor nie.”

Manuel sê ook daar is skole wat nie gereed is nie omdat hulle in so ’n swak toestand is dat dit nie gereed gemaak kán word nie. Naptosa wil weet wat die plan hiervoor is.

Reniël Lodewyk, Vrystaatse sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die Vrystaatse onderwysdepartement het vandeesweek in talle aspekte gevorder en die meeste skole in die provinsie is gereed vir die heropening.

Hy sê wel skoolhoofde en hul bestuurspanne kan nie Maandag gedwing word om te heropen as dit nie veilig is nie.

Lodewyk sê daar was Vrydag nog skole wat net een lapmasker per leerling, pleks van twee ontvang het, en die opleiding van skoonmakers en werkers wat koors meet, was nie by al die skole afgehandel nie. Lodewyk sê dié opleiding word op die nippertjie gedoen.

Daar is ook nog skole wat met water- en sanitasie-probleme sukkel.

Die SAOU is bekommerd oor skole se kapasiteit vir die daaglikse ontsmettingsproses wat vereis word.

“Elke dag voor die skool begin en ná die werk voltooi is, moet daai skole weer skoongemaak word.”

Hy sê dit is nog haalbaar met die beperkte ruimte wat die gr. 7- en gr. 12-leerlinge gebruik, maar dit gaan ’n “massiewe probleem” raak sodra die res van die kinders terugkeer.

Greg Titus van Naptosa sê die vakbond betwyfel dit dat al die skole in die Vrystaat en die Noord-Kaap Maandag gereed sal wees. Hy verwys ook na skole wat onder meer nog nie al die maskers ontvang het nie en wat water- en sanitasie-probleme het. Die skole wat probleme ondervind, is meestal in die afgeleë dele van die streek, sê Titus.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Skole Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.