Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UJ-professor in mediese geologie maak geskiedenis

’n Professor in mediese geologie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) is die eerste vrou uit Afrika wat verkies is om op die raad van ’n internasionale geologiese vereniging te dien.

Prof. Hassina Mouri sal tot 2024 as visepresident van die International Union of Geological Sciences (IUGS), een van die wêreld se grootste wetenskaplike organisasies, dien.

“Ek wil die Nasionale Navorsingstigting (NRF) en sy raadslede bedank dat hulle vertroue in my het om my vir hierdie gesogte pos te benoem,” sê Mouri.

Volgens Mouri is mediese geologie ’n relatief nuwe vakgebied wat handel oor die impak van die geo-omgewing (insluitend faktore, prosesse en materiale) op die gesondheid van die mens en die ekostelsel waarin hy leef.

Prof. Hassina Mouri Foto: Verskaf

“Deur die geologiese geskiedenis en agtergrond van die mens se omgewing te bestudeer, kan ons ’n beter en dieper insig kry in die omvang van natuurlike gevare, wat regstreeks of onregstreeks ons gesondheid en ekostelsel beïnvloed,” sê Mouri, wat sedert 2013 mediese geologie bestudeer.

IUGS, wat in 1961 gestig is en meer as ’n miljoen geowetenskaplikes verteenwoordig, bevorder en moedig internasionale samewerking en deelname aan die studie van geologiese probleme aan, veral dié van wêreldwye belang.

“Daar is byvoorbeeld ’n verband tussen geologie, gesondheid en die koronaviruspandemie,” verduidelik Mouri.

“Stof kan skadelike minerale bevat wat voortspruit uit die verwering van gesteentes of mynaktiwiteite. As ’n mens sulke stof inasem, kan dit oor ’n tydperk jou asemhalingstelsel beskadig, afhangende van die hoeveelheid ingeasemde stof en die minerale en geochemiese samestelling daarvan. Dit is bekend dat daar ’n sterk verband is tussen die asemhalingstelsel en Covid-19. As ons blootgestel word aan sulke materiaal, wat in der waarheid ’n giftige stof is, word ons al hoe meer vatbaar om die virus op te doen,” sê Mouri.

“Lood kom ook in wisselende hoeveelhede in ons natuurlike omgewing voor. Soos in die geval van minerale in stof, kan hierdie element deur mynbou in die mens se natuurlike omgewing vrygestel word. Blootstelling aan hierdie giftige element beïnvloed die hart en bloedvate wat weer tot kardiovaskulêre siektes en beroerte kan lei. Op grond van studies oor Covid-19 is daar bewyse van sterftes wat verband hou met kardiovaskulêre komplikasies, selfs by jonger mense.”

Volgens Mouri is dit duidelik uit die voorbeelde van stof en lood dat die mens se geo-omgewing ’n deurslaggewende rol, hoewel onregstreeks, speel in die opdoen van die virus.

“Die rol van mediese geologie is nie om ’n geneesmiddel vir die koronavirus te vind nie, maar om te help met die identifisering van omgewingsfaktore wat kan bydra tot die verswakking van die mens se metabolisme en ons meer kwesbaar maak teen enige siekte, nie net Covid-19 nie. Die vakgebied plaas die fokus meer op ’n voorkomende eerder as ’n genesende rol,’ sê Mouri.

Meer oor:  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.