Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UK-prof bedank ná studie oor slawerny en IK

’n Hulpprofessor verbonde aan die Universiteit van Kaapstad (UK) het bedank nadat hy gevra is om ’n verwysing na dié universiteit uit ’n navorsingsartikel oor slawerny en intelligensie te verwyder.

Die UK het Donderdag bevestig hy het verneem dat Simplice Asongu van Kameroen by die sakeskool bedank het.

Dit kom nadat die artikel “Intelligence and Slave Exports from Africa” in Maart in die vaktydskrif Journal of Interdisciplinary Economics verskyn het.

Die UK verwerp die aannames in die artikel asook dié tipe navorsing as swak wetenskap.

In die artikel, wat saam met Oasis Kodila-Tedika van die Universiteit van Kinshasa in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) geskryf is, word aangevoer dat slawerny minder voorkom in lande waar hoër kognitiewe vermoëns bestaan.

Die Sarah Baartman-saal op die Universiteit van Kaapstad (UK) se bo-kampus. Foto: Michael Hammond

Die UK sê hy het versoek dat Asongu sy verbintenis met die universiteit uit die artikel verwyder en het bevestig dat die professor dié versoek aan die vaktydskrif gerig het.

Dit blyk dat die studie nooit aan die sakeskool se etiekkomitee voorgelê is nie en dat geen ander lede van die skool by die navorsing betrokke was nie, lui die UK se verklaring.

“Dit is nie ongewoon by hulpprofessors se navorsing nie omdat hulle nie voltydse personeel is nie.”

Volgens die UK word enige navorsing wat gegrond is op rassestereotipes of dit voorstel, beskou as strydig met sy akademiese waardes en standaarde.

“Die UK verwerp die aannames in die artikel asook dié tipe navorsing as swak wetenskap. Dit is strydig met ons verbintenis tot akademiese uitnemendheid en ’n inklusiewe gemeenskap.”

Asongu (37), wat ook die hoofekonoom en direkteur van die African Governance and Development Institute is, het in 2015 met ’n tesis oor die finansiële ontwikkeling in Afrika sy PhD aan die Oxford Brookes-Universiteit verwerf. Hy is ook ’n navorsingsgenoot by Unisa en was al betrokke by verskeie universiteite in Afrika en Europa, en het talle artikels en bydraes in boeke agter sy naam.

Luidens die samevatting van die artikel is ondersoek ingestel na die rol van kognitiewe vermoëns of intelligensie in die uitvoer van slawe uit Afrika.

Die studie toets die hipotese dat lande met hoër kognitiewe vermoëns waarskynlik laer vlakke van slawe-uitvoer uit Afrika gehad het en skryf dit toe aan die beter vermoë om slawehandelaars te bestuur, toesig oor hulle te hou en ferm teenoor hulle op te tree.

In die studie word daar veronderstel dat die meeste tipes intelligensie in die IK vervat is.

Die skrywers voer aan dat die hedendaagse literatuur nie omvattend na die ontwikkeling en die uitbreiding van slawehandel uit Afrika kyk nie en dat daar met die artikel gepoog word om tot dié veld by te dra.

Prof. Simplice AsonguFoto: UCT GSB

Die bevindings strook glo met ander navorsing van 2008 en 2014 dat lande met hoër kognitiewe vermoëns met betrekking tot intelligensie “relatief meer georganiseerd is danksy hul vermoë om sake doeltreffend te bestuur”.

In die studie word daar veronderstel dat die meeste tipes intelligensie in die IK vervat is. Binne die vermoë om te redeneer en probleme op te los, kon die IK ingespan word om aan slawehandel te ontsnap.

Volgens die skrywers kan die bestaande navorsing aangevul word deur te ondersoek op watter wyses intelligensie en kognitiewe vermoëns ook die uitvoer van slawe verminder het.

  • Die navorsingsartikel kan hier gelees word.
Meer oor:  Universiteit Van Kaapstad  |  Kaapstad  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.