Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Umalusi ‘besluit nog’ oor gehalte van gelekte vraestelle
Foto ter illustrasie. Foto: Jaco Marais

Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, gaan nie sy eie gehalteversekeringsprosesse ten opsigte van die twee uitgelekte matriekvraestelle vooruitloop nie, het hy Vrydag gesê.

Dit kom nadat regter Norman Davis in die hooggeregshof in Pretoria bevind het die besluit om die vraestelle volgende week te herskryf, moet tersyde gestel word.

“Umalusi kan nie nou die uitkoms van sy eie prosesse vooruitloop nie omdat die raad al sy gehalteprosesse eers in werking moet stel voordat ’n finale beslissing oor die geloofwaardigheid en integriteit van nasionale eksamen gemaak kan word,” het die waghond in ’n verklaring gesê.

Umalusi het verder onderneem om die ondersoek na die uitgelekte vraestel, wat deur die departement van basiese onderwys van stapel gestuur is, te ondersteun.

AfriForum het die uitspraak verwelkom en gesê die beslissing is ’n oorwinning vir die byna 400 000 matrieks wat deur die minister se besluit benadeel is.

“Dit is ook ’n oorwinning teen die departement se onregverdige, arbitrêre en eensydige besluit in die verband,” het Natasha Venter, AfriForum se adviseur oor onderwysregte, in ’n verklaring gesê.

Die burgerregteorganisasie gaan die departement nou versoek om bekend te maak watter stappe gedoen gaan word om te verhoed dat soortgelyke misstappe in die toekoms voorkom.

Die VF Plus het op sy beurt gesê die uitspraak los nie die probleem van die afgelope eksamen se integriteit op nie.

“Saam met die ontwrigting van staat van inperking vanjaar, was 2020 beslis nie die jaar van die matrikulant nie. Sekerheidsmaatreëls in die departement sal verder opgeskerp moet word, en skole moet die keuse gegun word om matrikulante deur die departement te laat eksamineer, of deur een van die onafhanklike eksamenrade,’ het die party in ’n verklaring gesê.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het die besluit verwelkom.

“Die SAOU het ook kennis geneem dat Umalusi die standpunt huldig dat hy nie die uitslae betreffende die NSS-eksamen, of die twee vakke, sal sertifiseer nie. Die SAOU plaas dit op rekord dat as so ’n besluit geneem word, sal die regmatigheid en redelikheid van die besluit na die hof verwys word,” sê die vakbond.

Nie Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, of haar departement, het Vrydag op navrae gereageer nie.

Minister of Basic Education, Ms Angie Motshekga gi
Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys. Photo: Argief
Die besluit was onredelik – hof

Die besluit om twee uitgelekte vraestelle oor te skryf, is voortydig geneem en op die koop toe onredelik.

Dit was die gevolgtrekking waartoe regter Davis Vrydag gekom in sy uitspraak wat aanlyn gelewer is.

AfriForum en ander partye het die hooggeregshof in Pretoria vroeër in die week genader om Motshekga se besluit oor die herskrywery ter syde te stel.

Motshekga het op 4 Desember aangekondig matrieks sal die tweede vraestel van wiskunde op 15 Desember en dié van fisiese wetenskap op 17 Desember oorskryf.

Die minister en Umalusi het die aansoek teëgestaan.

Alle matrikulante wat nie by onreëlmatighede betrokke was nie, se vraestelle moet volgens die hofbevel gemerk word. Daar is ook ’n kostebevel teen die minister uitgereik.

Davis het die minister se weergawe dat sy nie die enigste een is wat die finale besluit geneem het nie, as onwaarskynlik afgemaak.

Die minister het in die verhoor aangevoer sy en die direkteur-generaal van die basiese onderwys het die besluit saam geneem.

Op grond van die beskikbare bewyse tot dusver, kan onmoontlik bevind word dat die klein persentasie betrokke as verreikend beskryf kan word.

“Daar was egter geen bewyse van ’n gesamentlike besluit nie,” het Davis bevind.

Davis het onder meer bevind die minister het nie genoegsame bewyse gelewer om te staaf watter redes sy in oorweging geneem het in haar besluit nie.

Hy het AfriForum en die ander applikante gelyk gegee dat nóg die minister, nóg Umalusi, enige ander alternatief as die herskryf van die vraestelle oorweeg het.

Verder het Davis bevind die datums waarop die minister besluit het, is onredelik en daar is geen rede waarom die vraestelle nie in die eerste week van Januarie geskryf kan word nie.

Hy het ook bevind dat Umalusi en die minister nie genoeg bewyse verskaf het om hul standpunt te staaf dat die uitlek van die vraestelle verreikend was nie.

“Op grond van die beskikbare bewyse tot dusver, kan onmoontlik bevind word dat die klein persentasie betrokke as verreikend beskryf kan word,” het Davis gesê.

Uit die sowat 339 000 leerlinge wat die wiskunde-vraestel geskryf het, is tot dusver 0,06% leerlinge gevind wat glo by die uitgelekte vraestel baatgevind het. Die persentasie is nog laer vir die wetenskap-vraestel, het Davis gesê.

“Die slotsom waartoe Umalusi gekom het dat so ’n persentasie die integriteit van die twee vraestelle onherroeplike skade berokken het, kan nie gestaaf word nie,” aldus Davis.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner, sê dit sal om praktiese redes nie haalbaar wees vir die minister of Umalusi om te appelleer teen die uitspraak nie.

Dit is nie so maklik nie, want eers sal ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien moet word wat deur Davis goedgekeur moet word.

As hy wel die aansoek goedkeur, moet die appèlaansoek eers aangehoor word, en dit kan nog ’n paar dae neem.

Meer oor:  Afriforum  |  Matrieks  |  Uitgelekte Vraestelle  |  Umalusi  |  Vf Plus  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.