SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Onderwys
Unisa probeer duisende se eindeksamen in hof red

Honderde duisende studente van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eksamens is moontlik in gedrang.

Unisa het Donderdag ’n dringende hofbevel in die hooggeregshof in Pretoria bekom om te verhoed dat ’n groep onvergenoegde werkers die eindjaareksamens ontwrig.

Dié eksamens het reeds in die eerste week van Oktober begin.

Unisa voer in sy hofstukke aan dat Mpho Moses Morolane en Malebo Charline Nkoane verantwoordelik is vir verskeie ontwrigtende optrede op die Muckleneuk-kampus in Pretoria.

Die twee word daarvan beskuldig dat hulle ’n groep van 153 werknemers aangehits het om personeel wat met die verspreiding van die eksamenvraestelle werk, uit hul kantore te boender.

Volgens Unisa het Morolane en Nkoane die groep Woensdag gemobiliseer om te verseker dat vraestelle nie uitgestuur word nie.

Dié werknemers is in 2015 as seisoenale werkers aangestel om die universiteit te help met administratiewe take in die besige eksamentye. Hierdie werkers se pligte sluit onder meer die pak, sorteer en verspreiding van vraestelle voor en na eksamens in.

Unisa verduidelik die standaardpraktyk is om arbeidsagentskappe te gebruik om seisoenale werkers aan te stel.

Werkers word op ’n driemaande-grondslag geroteer om te help wanneer Unisa meer hande nodig het tydens registrasie aan die begin van die jaar en eksamentye.

Unisa het verskillende agentskappe gebruik, waarmee daar ’n drie jaar lange kontrak gesluit is vir die verskaffing van seisoenale werkers.

Dié kontrak het in September tot ’n einde gekom.

Morolane, word daar in die hofstukke aangevoer, wil deur protesoptredes Unisa dwing om al die werkers weer in diens te neem en permanent aan te stel.

Hy het op 17 September ’n ongemagtigde vergadering gehou, waartydens die moontlikheid van protesoptrede bespreek is.

Tydens hierdie vergadering het die groep werkers oproerig geraak, asblikke omgegooi en protesliedjies gesing.

Unisa het hiervan te hore gekom en Morolane aangekla van die oortreding van die universiteit se gedragskode en hom ook verban van die kampus.

Morolane het hierop gereageer deur op sosiale media te skryf dat hy hulle met mening sal pak en dat alles by Unisa ontwrig sal word (#Shutdown-aksie).

Die hof het Unisa gelyk gegee en beveel dat Morolane, Nkoane asook die res van die gegriefde werkers geen verdere werksaamhede op enige van Unisa se kampusse verder mag ontwrig nie.

Verder het die hof beveel dat die polisie tussenbeide mag tree indien daar nie gehoor gegee word aan dié bevel nie.

Unisa het bevestig dat ondersoek na die werkers se eise ingestel word nadat daar reeds ’n saak by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie aanhangig gemaak is.

Meer oor:  Unisa  |  Studente  |  Stakings  |  Eksamens  |  Universiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.