Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Universiteite kry R526 m. om kampusse voor te berei

Universiteite sal sowat R526 miljoen van die regering kry om hulle te help om hul kampusse koronavirusbestand te maak, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, wetenskap en innovasie.

Die 26 openbare universiteite het gesamentlik wel sowat R1,85 miljard van die departement vir dié doeleindes gevra.

Dr. Blade Nzimande Foto: Nico Gous

Dít blyk uit ’n parlementêre antwoord van Nzimande Vrydag op prof. Belinda Bozzoli, DA-LP, se vroeëre vraag oor wat die geskatte totale onkoste is wat sy departement én tersiêre instellings moet aangaan om hulle virusbestand te kry.

Bozzoli wou ook weet of tersiêre instellings bykomende personeel gaan aanstel weens die vereiste gesonde afstand wat gehandhaaf en ander gesondheidsprotokolle waaraan voldoen moet word.

Nzimande het gesê sy departement het R1,5 miljoen geherprioritiseer vir die aankoop van maskers, handreiniger- en ontsmettingsmiddels, skandeerders om koors te meet en ander persoonlike beskermende toerusting vir sy sowat 3 800 personeellede by sy kantore landwyd. Die departement se totale uitgawes sal sowat R5 miljoen beloop as ander dienste en goedere ook bygereken word.

Oor universiteite het Nzimande gesê dat instellings hul kampusgereedheidsplanne, met die koste daaraan verbonde, individueel by die departement ingedien het. Die bedrae wissel tussen R2,1 miljoen en R402,8 miljoen.

“Sommige het items voorgestel wat groot infrastruktuurveranderinge behels, wat nie moontlik is nie. Die totale koste van die ingediende planne was R1,85 miljard.”

Buiten vir sommige onrealistiese items, was daar ook baie items wat as onnodig beskou is.

Volgens Nzimande besef die departement – ná konsultasie met die organisasie Higher Health wat die planne beoordeel het – dat daar sekere wettige uitgawes is waarvoor instellings onvoorsiene onkoste sal moet aangaan.

Volgens Nzimande is hy versoek om sowat R526,3 miljoen goed te keur om universiteite te help om te kan betaal vir die onvoorsiene uitgawes vir hul kampusgereedheidsplanne.

Hy het bygevoeg dat TVET-kolleges in staat was om gesamentlik sowat R780 miljoen van hul huidige 2020-bedryfsbegrotings te herprioritiseer om vir Covid-19-verwante uitgawes te betaal.

Nzimande het verder gesê dat gemeenskapsopvoedings- en -opleidingskolleges (CET-kolleges, voorheen Abet-opleidingsentrums) uitgawes van sowat R27 miljoen sal moet aangaan om hul sentrums te kan voorberei.

Veral universiteite het voorsiening gemaak vir bykomende personeel waar dit vereis sal word en, net soos die TVET- en CET-kolleges, die handhawing van gesonde afstande in hul planne in ag geneem.

TVET- en CET-kolleges sal weens hul aangepaste klasplanne nie bykomende lektore aanstel nie, sê Nzimande.

Meer oor:  Dr. Blade Nzimande  |  Regering  |  Kampusse  |  Universiteite  |  Voorbereiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.