Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Universiteite ‘staal hulle vir wat kom’
Dr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, word deur betogers verhoed om in sy motor te klim nadat hulle ’n diskoers ontwrig het waaraan hy op die Woordfees in Stellenbosch deelgeneem het. Foto: Jaco Marais

Die vier ruiters van die apokalips – armoede, werkloosheid, ongelykheid en korrupsie – is die ware dryfveer van protesaksie op universiteitskampusse.

En met die munisipale verkiesings op hande, verwag universiteite dat die “temperatuur” op kampusse gaan styg.

Só het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, en dr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, Donderdagaand tydens ’n diskoers op die Woordfees in Stellenbosch gesê.

Die temperatuur het wél gestyg toe ’n groep betogers die gesprek, onder leiding van Henry Jeffreys, voormalige redakteur van Die Burger, ontwrig het.

Tydens die gesprek het De Villiers dit uit die staanspoor duidelik gemaak dat hy nie van mening is dat die protesaksie teen tersiêre instellings, hom en Price as visekanseliers of hoër onderwys as sulks gerig is nie.

“Dit is simptomaties van wat nou in die land gebeur.

“Dit is ’n jeug wat kwaad is en ongelukkig is met die pas waarteen verandering plaasvind.”

Die ware ongeregtighede wat hul ontevredenheid stook, is die “vier ruiters van die apokalips”.

Aanvanklik het hy aan die begin van vanjaar gedink die situasie het effens bedaar omdat daar onder meer bykomende geld van die departement van hoër onderwys bewillig is om die kwessie van klasgelde – en eise dat daarmee weggedoen moet word – te hanteer.

Donderdagaand se gebeure het egter gou die hoop vir ’n rustige jaar gekelder.

Hulle is voorbereid op nog protesaksie en De Villiers het die munisipale verkiesings, asook die herdenking van die 1976-opstande later vanjaar, uitgewys as die moontlike beweegrede vir die betogings.

Sowel Price as De Villiers het gesê hulle is onkant betrap deur die toetrede van politieke partye tot die gebeure op kampusse en dat dít die onrus na ’n volgende vlak geneem het.

Price meen dié partye buit die situasie op kampusse uit en mobiliseer studente vir eie politieke gewin.

Die EFF, onder andere, gebruik volgens Price en De Villiers die situasie om stemme te werf deur die ANC se onvermoë om hul beloftes na te kom, teen dié party te gebruik.

Dié beloftes sluit in goedkoop of gratis hoër onderrig en die einde van die uitkontraktering van werkers.

De Villiers en Price het dit duidelik gemaak dat dit nie vanjaar moontlik gaan wees om weer nie klasgelde te verhoog nie. Gratis tersiêre onderrig vir alle studente is ook nie volhoubaar nie, het hulle gesê.

“Op langtermyn moet ons aanvaar dat gratis onderrig vir almal nie moontlik is nie,” het Price gesê.

Maar noudat die studente hul eie mag om verandering teweeg te bring besef het, gaan dit selfs moeiliker wees om die saak van klasgelde in dié ronde te hanteer, het hy gesê.

Price en De Villiers is dit eens die wortel van die kwaad lê by gebrekkige geldelike bystand vanaf die regering wat nie met inflasie en ander uitgawes tred gehou het nie. Dít het die universiteite genoodsaak om klasgeld te verhoog.

Kort hierna het betogers die gesprek ontwrig en die rektore verjaag. Lees die berig hier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.