Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Universiteite verengels ‘met Afrikaners se geld’

Universiteite word meestal deur Afrikaners gefinansier en nou draai hulle hul rug op Afrikaners, meen AfriForum Jeug.

“Ons geld is goed genoeg, maar ons taal is nie goed genoeg nie,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, Donderdagoggend gesê tydens die bekendstelling van hul #RedAfrikaans-vyfpuntplan.

“Universiteite is bereid om Afrikaanse studente se geld te vat en dit gebruik om die universiteite te verengels. Ons gaan dit nie meer duld nie,” het Cameron tydens die bekendstelling gesê.

Volgens Cameron is daar nie amptelike bewyse dat universiteite se finansiering meestal van Afrikaners kom nie.

Hy het ná die bekendstelling by navraag gesê hulle het by betroubare bronne aan die Universiteit van Pretoria (UP) gehoor Afrikaners voorsien 50% van die UP se finansiering.

“Dit is inligting wat aan ons gelek is. Ons gaan Vrydag probeer om amptelike dokumentasie te kry, maar dit gaan moeilik wees.”

Een van die aksies van AfriForum Jeug se vyfpuntplan om Afrikaans by universiteite te beskerm, is om studente aan te moedig om klasgelde tot en met Junie terug te hou.

“Dié plan is om te verseker dat universiteite soos dié van Pretoria en Stellenbosch daad by die woord voeg om Afrikaans inderdaad as onderrigtaal te behou.”

“Dis soos wanneer jy by ’n restaurant kos bestel en dan is dit vrot. Jy gaan mos nie daarvoor betaal nie,” het Cameron gesê.

Volgens hom adverteer universiteite dat hulle klasse in Afrikaans aanbied, maar as die Afrikaanse studente daar aankom is dit nie die geval nie.

“Hulle verraai ons. Ons gaan nie betaal vir ’n diens wat ons nie kry nie.”

Anna-Retha Bouwer, woordvoerder van UP, het gesê die universiteit het verlede jaar ’n taakspan aangestel om die taalbeleid te hersien.

Totdat die proses nie afgehandel is nie, gaan die universiteit geen kommentaar lewer op AfriForum Jeug se plan nie, het Bouwer gesê.

Volgens Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), is dit die US se oogmerk om meertaligheid sonder uitsluiting te bevorder en om billike toegang en sukses vir studente te verseker.

“Die jaarboek stel dit duidelik dat die raad hom die reg voorbehou om studente met uitstaande klasgelde se eksamenuitslae terug te hou, toelating tot eksamenlokale te weier en om ná ’n bepaalde sperdatum vir betaling die bywoning van klasse en koshuisinwoning op te skort,” het Viljoen gesê.

Meer oor:  Afriforum Jeug  |  Afrikaans  |  Universiteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.