Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Lesings by UP dalk slegs in Engels aangebied
Die Universiteit van Pretoria se bestuur gaan dit oorweeg om ’n slegs-Engels-taalbeleid aan die senaat voor te lê. Foto: Argief

Engels is dalk eersdaags die enigste taal wat in lesinglokale by Tuks gehoor sal word.

Dit kom nadat die werkgroep wat die taalbeleid by die Universiteit van Pretoria (UP) ondersoek, Saterdag ooreengekom het om ’n voorstel wat ’n slegs-Engels-taalbeleid ondersteun, aan die universiteitsbestuur voor te lê.

Dié voorstel behels dat lesings slegs in Engels aangebied gaan word. Tutoriale en akademiese studiemateriaal gaan steeds in Afrikaans en Sepedi beskikbaar wees.

AfriForum was Saterdag op die taalberaad woedend en het uitgestap.

Volgens Thabo Shingange, SR-voorsitter, het al die betrokke partye by die taalberaad die besluit ondersteun om ’n slegs-Engels-taalbeleid aan die universiteitsbestuur voor te lê, behalwe AfriForum Jeug.

Henrico Barnard, woordvoerder van AfriForum Jeug aan die UP, sê hul enigste hoop om Afrikaans in lesings te behou, is om ook ’n voorstel aan die universiteitsbestuur voor te lê wat Afrikaans as onderrigtaal in lesings ondersteun.

“Ons gaan ’n voorstel aan die universiteitsbestuur voorlê wat werkbare oplossings bied om dit moontlik te maak dat lesings in Afrikaans aangebied kan word,” sê Barnard.

Hy sê Saterdag se taalberaad was baie eensydig.

“Hulle het almal ’n kans gegee om hul opinie te lug, behalwe vir ons. Ons het ons hande opgesteek, maar is geïgnoreer. Ons het toe besluit om ’n uur ná middagete uit te stap,” sê Barnard.

Volgens Shingange is die Engels-taalbeleidsvoorstel ’n tree in die regte rigting.

“Dit gaan lei tot maatskaplike kohesie en gelyke regte vir almal,” sê Shingange.

Drie werkgroepe wat transformasie aan die UP ondersoek, het op 5 Maart begin om voorstelle oor transformasie, waaronder die taalbeleid, te bespreek.

Die laaste beraad was Saterdag. ’n Voorstel wat ’n slegs-Engels-taalbeleid aanbeveel na aanleiding van wat Saterdag bespreek is, is in die proses om gefinaliseer te word.

Dié voorstel gaan die universiteitsbestuur moontlik aan die senaat voorlê wat al die voorstelle op die tafel gaan ondersoek.

Volgens Anna-Retha Bouwer, UP-woordvoerder, sê die voorstel wat op die lekgotla goedgekeur is om aan die universiteitsbestuur voor te lê is nie die enigste voorstel wat in ag geneem gaan word nie.

“Daar is 'n eksterne paneel van belanghebbendes wat ook aanbevelings aan die universiteitsraad gaan doen. Daar is dus verskeie voorstelle wat in ag geneem gaan word voordat daar ’n finale besluit geneem gaan word.”

Bouwer beklemtoon daar is nog geen finale besluit geneem nie.

“Daar is nog verskeie prosesse wat gevolg moet word voordat ‘n taalbeleid gefinaliseer gaan word,” sê Bouwer.

Meer oor:  Afriforum  |  Afrikaans  |  Engels  |  Taalbeleid  |  Universiteit Van Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.