Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UP-studente hou optog, waak teen geslagsgeweld

Tukkie-studente het hul stem by die protes teen geslagsgeweld gevoeg.

Studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) het Dinsdag byeengekom om ’n waak oor geslagsgeweld te hou. Foto: Facebook

Studente van die Universiteit van Pretoria (UP) het Dinsdag vir ’n waak in die amfiteater op die universiteit se Hatfield-kampus byeengekom. Daar het hulle geslagsgeweld bespreek en kwessies van studente wat weens xenofobiese geweld in vrees leef.

Honderde studente, die meeste in swart geklee, het byeengekom. Van hulle het plakkate omhoog gehou met die woorde “Stop Rape” daarop.

Die protesoptrede kom ná die dood van Uyinene Mrwetyana, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), wat onlangs verkrag en vermoor is.

“Ons veroordeel alle vorme van geweld, geslagsgeweld en xenofobiese geweld ten sterkste. Ons vra die owerhede om alles moontlik te doen om die oortreders aan die pen te laat ry,” lui ’n verklaring deur prof. Tawana Kupe, visekanselier van die UP.

Kupe sê die universiteit wil sy innige medelye betuig met die vriende en familie van Mrwetyana, asook die families van die slagoffers wat in xenofobiese geweld dood is.

“Die UP-bestuur het Dinsdag vergader om te bespreek hoe ons saam met die polisie en die gemeenskap kan werk om die veiligheid van ons studente en personeellede te verseker,” sê Kupe.

Rikus Delport, die UP se woordvoerder, sê geen betogings, behalwe die vreedsame waak, is op die kampus gehou nie.

Hy sê toetse in sommige fakulteite is vir die res van die week uitgestel weens betogings wat oor die land heen plaasvind. Klasse is egter nie opgeskort nie.

Intussen het studente aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) Woensdag ’n optog gehou om ’n memorandum oor geslagsgeweld aan die polisie te oorhandig.

Die optog was vreedsaam en geen geweld is aangemeld nie.

Willa de Ruyter, woordvoerder van die TUT, sê studente het na ’n huis buite die kampus gestap waar vrouestudente vroeër verkrag en beroof is. De Ruyter sê berading is intussen vir dié studente gereël.

“Die optog was vreedsaam en geen geweld is aangemeld nie.”

Maandagnag het ’n groep van sowat 400 studente ’n betoging buite die UP se Hatfield-kampus gehou nadat hulle glo inligting ontvang het oor ’n vermeende verkragter wat in een van die woonstelle in Hatfield bly.

Volgens kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, is die 19-jarige slagoffer oortuig om ’n saak by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig te maak.

“Sy is na bewering verlede jaar in September verkrag deur ’n vriend wat in dieselfde gebou as sy gewoon het,” sê Weilbach.

Die verdagte (22) is intussen in hegtenis geneem en het Woensdag in die landdroshof in Pretoria verskyn. Hy is op borgtog vrygelaat en sal einde Oktober weer in die hof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.